Sy't ’n Elle Deco International Design Award losgeslaan: Louise Gelderblom (45) van Nuweland het dít reggekry met haar twee totems van 2,5 m hoog. Dis uit terracotta-klei gemaak en haar gebruik van tekstuur en sgraffito-lynwerk staan uit. Sy's bekroon in die kategorie "Best Craft Designer in South Africa". Sy't met Marguerite van Wyk gesels.

Wat beteken dié toekenning vir jou?

Dis ’n belangrike ding as jy met só ’n prys erkenning kry in die ontwerpgemeenskap. Mense is altyd op soek na die nuwe opkomende jong sterre. Ek doen reeds die afgelope sestien jaar keramiek-beeldhouwerk. Voorheen het ek grafiese ontwerp gedoen.
Wat is "goeie ontwerp"?
Alles in die wêreld is ontwerp. Goeie ontwerp maak van die wêreld ’n beter plek. ’n Piesang is ’n voorbeeld: Die skil hou die vrug vars en higiënies. Goeie ontwerp is nie noodwendig mensgemaak nie. Daar is hope voorbeelde daarvan in die natuur. Een slégte voorbeeld in die natuur is die holtetjies in ’n mens se tande wat vol kos word!
Waar kry jy jou inspirasie?
Uit patrone in die natuur. Ek sien dít wat ek doen as teken in drie dimensies. Elke stuk is ’n variasie op 'n tema. Die strepe op my stukke lyk dalk rigied, maar dis handgemaak. Elke lyn is uniek. Dis ’n woordelose visuele gesprek.
Waar is jou werk te sien?
Regoor die wêreld in verskeie versamelings, onder meer dié van Jordanië se koningshuis, British Airways, Iziko en die Nelson Mandela Metropolitan Art Museum.
Geniet jy jou beroep?
Ek ervaar 100% werksbevrediging, want ek maak net waarvoor ek lus het en werk net met mense van wie ek hou!

Besoek www.louisegelderblom.com vir meer inligting.