Die Kaapse ontwerper Olga-Maré Hougaard moes haarself knyp toe die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss haar vra om vir haar ’n rok te ontwerp. En nie sommer vir enige geleentheid nie, maar vir die kroningsaand van Mej. Suid-Afrika 2019.

Tydens die glansgeleentheid op Vrouedag, 9 Augustus, is die 25-jarige Oos-Kapenaar Zozibini Tunzi as die nuwe Mej. SA gekroon. 

“Ek kon dit vir ’n oomblik nie glo dat Rolene my gekies het nie,” het Olga-Maré aan SARIE.com vertel. “Ek was gespanne voor ek haar ontmoet het, want jy besef die grootheid daarvan ... sy is immers Suid-Afrika se sweetheart. Maar toe ek haar eers ontmoet het, was ek dadelik rustiger. Sy is ’n wonderlike persoon.”

 olga
Die ontwerper Olga-Maré Hougaard en Rolene Strauss. FOTO Verskaf

Rolene en stilis Werner Wessels het haar die nodige vryheid as ontwerper gegee. Die enigste riglyn was die keuse van kleure.

Olga-Maré het drie sketse gemaak van rokke wat heeltemal van Rolene se klassieke, tydlose styl afgewyk het.

 olga
Olga-Maré het die rokke geskets. ONTWERP Olga-Maré Hougaard

Die wenner was die “orgidee”-rok in fuchsiapienk tulle met ’n olyfgroen fluweelbelt.

 d
ONTWERP Olga-Maré Hougaard

Detail van die dramatiese rok. FOTO Verskaf

“Rolene het nog nooit ’n fuchsiapienk aandrok gedra nie. Dis op die oomblik ’n gewilde kleur, hoewel dit moeilik is om in die hande te kry.”

Sy het 40 meter se tulle aangeskaf. “En ons het als gebruik!”

FOTO Verskaf
FOTO Verskaf
FOTO Verskaf

Die eindproduk beskryf sy as “speels en vol lewe”.

Haar raad aan enige vrou wat ’n ontwerper nader?

“Verskaf riglyne, jy ken jou lyf die beste. Maar gee jou ontwerper die nodige ruimte om voorstelle te kan maak.”