Hy’t 7de Laan verruil vir ’n stiller lewe in die Oos-Vrystaat. Deesdae sal jy Chris van Niekerk in sy eie koffieplek tussen antieke meubels op Rosendal aantref – steeds op ’n drafstap.

deur RONEL NEL
foto PHYLLIS GREEN

Dis ’n vroeë, kil oggend op ’n deinserige Rosendal in die Vrystaat. Chris van Niekerk kom gewapen teen die snerp in die lug – dik bebaadjie en ’n serp om die nek – ons sonnig tegemoet. ’n Warm glimlag om die koue af te weer. “Dis nog nie eens behoorlik winter nie, en die temperatuur vanoggend was klaar ver onder nul.”


Hy dra dadelik stomende koffie aan, wat ons in sy winkel voor die kaggel gulsig sluk om te ontdooi. Vars, tuisgebakte melktert en op die agtergrond sing Amanda Strydom “ons almal bly op ’n klein blou ghoen”. Chris is een van ’n hele klompie kunstenaars wat hulle die afgelope paar jaar op Rosendal in die ooste van die Vrystaat gevestig het. ’n Piepklein dorpie met sjarmante sandsteenhuise, ’n koöperasie, ’n kerk en ’n skool – en Chris se koffiewinkel-cum-antiekwinkel, sentraal in die hoofstraat.


“Dit was nie eintlik ’n groot skuif nie – ek woon al agt jaar ‘amper’ hier,” verduidelik hy. “Het elke week vir my opnames van 7de Laan deurgery en oor naweke teruggekom. En hier wil ek bly. Dalk nie vir die res van my lewe nie, maar vir nou beslis. “Ek het myself in Oktober verlede jaar presies twee dae ná my laaste 7de Laan-episode sak en pak hier kom vestig. Die mense hier ken my al lank, dus was dit vir hulle ook nie vreemd om skielik ’n sepie-karakter in hul midde te hê nie. En hulle ken my as Chris.” Kykers het Chris leer ken as Francois, die koffiewinkel-eienaar in 7de Laan.

Is dit nie vreemd om nou so half jou eie koffieplek te hê nie?
“Nee, glad nie. Die restaurant-gedeelte van ons winkel word deur Frik de Jager, my sakevennoot, bestuur. Ek het vantevore die kosding probeer, maar dit het nie vir my gewerk nie. (Chris was vroeër jare die eienaar van Koala Blu, ’n eklektiese eetplek in Melville, Johannesburg.) “Hier is ek die man agter die antieke meubels. En dit hou my besig, hoor! Ek ry die platteland nog platter om negosie en ou meubels uit te snuffel. Verkoopbare goed. Antieke meubels en artefakte is al jare my passie, en dis regtig besonders om nou voltyds daarmee te kan werk.”

Chris was ook vroeër vanjaar saam met Marius Weyers en Anna-Mart van der Merwe op die verhoog in ’n Janice Honeyman-produksie van Uys Krige se vertaling van die Shakespeare-stuk Twaalfde Nag. Sy spel het oral lofredes in die media uitgelok. “Dit was nou lekker. Dit was ’n baie komiese rol. Komedie kom gelukkig vir my maklik. En dit was vreeslik fisiek! Ek moes spring, dans, hardloop, duik, wegkruip …


’n Engelse koerant het selfs geskryf dat ek surprisingly agile was. Jeroen Kranenburg, wat my broer in die moeilikheid was, is ’n wonderlike akteur. Ons het mekaar vreesloos aangehits.”


Chris se manewales met ’n pruik wat hy vir die rol moes dra, het gehore op die openingsaand in trane gehad van die lag.  “Ek het die ding later maar weggegooi – so ’n prop kan mos ’n hoofkarakter word as jy hom nie beheer, of net uitlos nie. Daai klossie hare het ’n lewe van sy eie gehad … “En Janice ís ’n honey. Ek was bietjie bang – dit was my eerste verhoogrol sedert 2000 – maar sy help mens om te fokus, om die beste keuses te maak wat jou karakter moet inkleur.” Soos Marius, voel Chris ook dat verhoogproduksies in die land afgeskeep word. Veral in die noorde. “Iemand soos Mannie Manim van die Baxter-teater bou aan sy gehore. Twaalfde Nag was ’n waagstuk, maar dit het regte drama weer in mense se koppe laat vassit. “Toe hulle vir Twaalfde Nag oudisies gedoen het, het my vriendin Lynita Crofford (ook ’n akteur) my daarvan vertel. Ek het dadelik afgegaan Kaap toe en met Janice gaan praat.” Lynita vertel Chris is “een van die mees ruimhartige mense” wat sy ken. “Hy is daardie tipe vriend wat mens enige tyd in die nag kan bel as jy dalk in die moeilikheid sou wees. “Ek het hom lanklaas op die verhoog gesien, maar in Twaalfde Nag het hy ons almal verstom. Sy komiese tydsberekening is ongelooflik. Ek is net vies dat hy nou so ver bly!”

Chris is ongetwyfeld self baie gelukkig met die Twaalfde Nag-belewenis. “Dis eintlik sad as mens daaraan dink dat TV-karakters deesdae ’n play verkoop. En televisie self het ook verander. My eerste rol destyds was in Fred Nel se Moeder Hannah. Wonderlike akteurs. Wonderlike produk. “Dit was ander dae, daai.”

7de Laan wys eersdaags sy duisendste episode. Hoe voel jy oor die sepie in die algemeen?

Ons het nooit kon dink dit gaan so groot word nie. Altyd gehoop, ja. Die wonderlike ding daarvan is dat dit mense weer laat televisie kyk het in Afrikaans. Die Afrikaner
weer deelgemaak het van die groter opset van TV. Dit het ook veroorsaak dat mense weer teater toe gaan. Omdat 7de Laanspelers opgeleide akteurs is, en ook op die verhoog optree, het dit gehore weer na dramaproduksies gelok. Teater lê my baie na aan die hart.

Sal jy ooit na 7de Laan terugkeer?
Dis nie onmoontlik nie. Die reeks het vir my baie deure oopgemaak. Maar ek het dit vyf dae per week en vyf jaar lank gedoen, en dis baie uitputtend. Indien ek teruggaan, sal dit hopelik op ’n ander grondslag wees.

Waar is Chris nou in sy eie lewe?
Ek het eintlik so baie gedoen, en het so baie om oor dankbaar te wees. Maar ek sal seker aanhou speel en antiques doen tot die dag dat ek omkap. Daar is niks meer wat my dryf nie. En ek wás gedrewe! Die waansin en die passie het getaan. Niks vreet my meer so op nie, behalwe miskien my eie kop in die nag … Maar ek drafstap steeds, kan mos nie loop nie. Ek sou sê die pas het verstadig, sonder om op te hou. Rosendal is deel daarvan.

Hoe hou jy jouself hier besig?

Die meubels en die winkel haal baie ure en energie uit ’n mens. Ek kyk glad nie televisie nie. Ek sal so nou en dan die TV-stel in my huis gebruik om ’n video te kyk, maar dis al. Ek gesels met my hond, Jack, (voorspelbaar ’n Jack Russell, wat deur die hele onderhoud met sy kop op Chris se been lê), gaan stap, en lees veral. Daar is altyd iets op Rosendal om te doen. Hierdie dorp hou jou besig! As mens so teen 4 nm. gaan stap, is daar ’n beauty wat ek nie kan beskryf nie. Die lug, en die lig … En as ek nie my boorgat skoonmaak nie, is die water gevries en moet ek iets daaraan doen. Ek het ’n enorme groentetuin – maar omdat ek in organiese plantmetodes glo, wei die goggas maar lekker daarin. En Jack is self ’n destroyer of note. So, ’n derde van die tuin is vir my, ’n derde vir Jack en die insekte, en die laaste derde vir die engele. Die res van my tuin saai homself. Mens plant hier niks in die winter nie. Behalwe miskien wortels, rape en beet.

Wat lees jy?
Ek het onlangs Agaat van Marlene van Niekerk vir die hoeveelste keer gelees. Ek dink dis die beste boek wat nog in Afrikaans geskryf is. Dit het verskyn nadat my pa dood is aan MNS (motorneuronsiekte), amper dieselfde soort siekte as wat Milla, een van die hoofkarakters in die boek, het. My pa kon vir twee jaar nie praat of eet nie. Dit was moeilik om te sien. Hy is in 1997 oorlede. My ma is vyf jaar vroeër aan emfiseem oorlede. Ek het albei my ouers deur groot lyding sien sterf.  Maar oor lees … ek lees werklik fanaties. Is baie lief vir die werke van Elizabeth Knox, boeke soos Black Oxen. En Vintner’s Luck, dis ’n ontsettende belangrike boek in my lewe. Ek het nou die dag weer my pa-hulle se ou boeke begin lees. Sulke tipiese sestiger-boeke soos Erich Maria Remarque se Heaven has no Favourites. Is dit nie ’n lieflike titel nie?

Wat is jou gunsteling-plek? Waar hou jy vakansie of gaan herlaai jy jou batterye?
Natuurlik die Oos-Vrystaat. Maar ook Tsitsikamma. En die Bosveld. Goeie plekke vir ’n mens se siel, daai.

Wat kyk jy graag?
Sterre. (Lag lekker.) Nee, ek kom glad nie by movies uit nie. Ek haat in elk geval wat die Amerikaners deesdae doen. Hulle films is flashy en diepteloos, alles gaan oor verbruiksware en glans. Selfs die Franse begin my deesdae irriteer. Hulle, weer, het nou al die landskap van die innerlike totaal verpletter, leeggetap. As daar ’n goeie verhoogstuk is, en ek kan daarby uitkom, sal ek dit graag kyk. Teater bly maar my eerste liefde.

Enige toekomsplanne?
Ja! Baie. (Hy raak erg entoesiasties.) Ek is besig om ’n teater op Rosendal te bou. ’n Regte teater. Kunstenaars soos Karen Zoid en Gert Vlok Nel het al aangedui hulle sal graag daar wil optree. Maar ek wil ook ander verhoogproduksies doen. ’n One man show deur myself, ’n poësiefees, klassieke musiek op Sondagmiddae, jazz … alles! Ek wil graag ’n ander gehalte vermaak na die platteland bring as wat hier gewoonlik is. Bietjie dieper gaan as die grootste gemene deler. En ons het planne vir ’n Rosendal-fees. Sodra die geld deurkom, sal ons dit takel. Hier bly wonderlike mense op die dorp. Hier is ’n hele paar kunstenaars, soos die skilder Michèle Nigrini, die skrywer Frederik de Jager en Zaria de Villiers, ’n skilder wat ook belangrike werk in die gemeenskap doen. Zaria lei mense op om kuns uit afval te maak. Een van ons nuwe inwoners, Henk Loots, is een van die land se grootste versamelaars van Boereoorlog-memoribilia. En dan Simon Streicher, wat nog oorspronklike perdekarre bou. Daar is nog Stefan van Heerden, ook ’n skilder, en Carine Krause, ’n kersmaker. En Sandra van Suzani voer antieke lappe in uit Oezbekistan … Andere soos Anna Davel en Irna van Zyl het erwe hier. So, dit kan net wonderlik werk!

Die SARIE-span word ná die fotosessie en onderhoud om ’n tafel ingebondel en Frik se kerrie-en-rys is net reg om die laaste koeligheid in die lywe te laat wyk. As die bussie om die draai verdwyn, staan Chris nog op die stoep en waai. Die lewe op Rosendal is mooi.