Geanker in ‘n harnas is hy oor die bo-rand van die 80 meter hoë diamantvormige gebou by Diagonaalstraat 11 in die hart van Johannesburg om ‘n toekomstige episode van dié program op kykNET aan te kondig.  

Fortuinsoekers begin 5 Julie op kykNET en word om 20h00 uitgesaai.
SARIE het gister gaan kuier op die stel van een van die uitdagings wat deelnemers (en lyk my die aanbieder ook) moet voltooi om as wenners uit die stryd te tree. Die reeks fokus vanjaar op Barney Barnato en die geskiedenis van diamante en goud in Suid-Afrika. Die uitdaging gister was om teen die hoë gebou te abseil en halfpad ondertoe ‘n koepon van die gebou af te haal – dié koepon moes die deelnemer help om die hele uitdaging te kan uitvoer.

Scot, waarom bied jy Fortuinsoekers aan?

Dit gaan oor die adrenalien van realiteitstelevisie. Skattejag was realititeitstelevisie lank voordat enigiemand gepraat het van realiteitstelevisie, en glo my dit was regte realiteitstelevisie. Onthou, daar was ‘n klok op die skerm en ek het net 45 minute gehad om drie skatte vir mense te vind. Daar kon nie uitgesny of bygevoeg word nie. Wat my getrek het na die realiteit van Fortuinsoekers was die hele konsep van waaroor dit gaan, die kombinasie van ontdek ons geskiedenis en doen dit in ‘n soektog. Dit het vir my geklink na avontuur en dis waarvan ek hou en dis waarom ek teruggekom het om die program  aan te bied. Deon Maas, vervaardiger, het my in 2010 gebel om te vra of ek nog televisiewerk doen. Ek het in die middel van my suikerlande gestaan en sê toe dit hang af wat dit is. Hy het afgevlieg en my kom sien, want hy wou kyk hoe ek lyk, of ek nie dalk 200 kg weeg nie, en of ek nog die soort werk kan doen.

Was dit ‘n aanpassing om nie self die skattejag te doen nie en net aan te bied?
Ek mis partykeer die waaghalsige goed wat die deelnemers moet doen. Soms doen ek dit tog, wanneer ek ‘n insetsel of advertensie vir die program skiet. Dikwels moet ek ook die toertjies voor die tyd doen om te sien of dit gedoen kan word.

Is dit lekker om terug te wees in Johannesburg, of verlang jy plaas toe?
Johannesburg is oukei in klein hoeveelhede. Dis goed om terug te wees vir ‘n week of twee, maar dan verkies ek om terug te wees op my plaas onder aan die Suidkus van KwaZulu-Natal, so 3 km van St Michael’s af. Ek kyk uit op die see. Ek boer met suikerriet en piesangs.

Scot leer gou woorde voor hy by die gebou abseil. Scot besig om oor die gebou se rand te klim.
Scott word deur die span gehelp om die toertjie veilig aan te pak. Oor die rand!

Deon, wat is vir jou die lekkerste ding van Fortuinsoekers en waarom wou jy spesifiek  hierdie reeks doen?
Ek hou daarvan dat ons geskiedenis laat herleef in die vorm van vermaak. Die navorsing is great, want dit leer my Suid-Afrika beter ken. Maar ek hou ook van die skiet self, dis ‘n moeilike skiet. Daar is ‘n groot klomp logistiek betrokke, want daar is plekke, mense en voertuie betrokke. Jy weet waarvoor jy jouself inlaat, van die crew se kant af en van die deelnemers se kant af. Om ‘n toertjie (stunt) te sien soos hierdie abseil van die gebou af en te weet dis die eerste keer dat dit gedoen word, laat jou voel asof jy iets bereik het.

Het daar tot dusver iets gebeur wat jou verras het?
Ons het hierdie een dag gehad, die dag van drieë. Daar was Koffiefontein, Jagersfontein en Bloemfontein, daar was drie grafte en daar was drie Hotelle Phoenix. Die deelnemers moes na daai drie dorpe gegaan het en moes die drie grafte tussen die dorpe opgespoor het. Een van die spanne het ‘n dorpie ontdek met die naam Driefontein, met ‘n plaas met die naam Driefontein met drie grafte daarop. Nou dis reg, maar dis nie waar ons wou gehad het hulle moet wees nie. Dis vir my lekker, sulke goed wat gebeur. As jy kyk na fortuinsoekers in die konteks van die woord: party mense is gelukkig en party is nie. Vir elke Barney Barnato was daar vier/vyfduisend mense wat niks gemaak het uit goud of diamante nie. As ‘n deelnemer iets verkeerd interpreteer, dra hy/sy die gevolge van die verkeerde interpretasie.