Pretty Yende, SA se opera-sensasie, het by vanjaar se internasionale Hans Gabor Belvedere-sangkompetisie in Wene, Oostenryk, in die kategorieë Opera én Operette gewen. Sy het ook die pryse as die gehoor en die internasionale media se keuse verower.

Dis die eerste keer in die geskiedenis van dié kompetisie dat een sanger al dié pryse wen. En sy's 24!

"Ek het agt jaar gelede in my huis op Piet Retief vir die eerste keer opera gehoor en op daardie oomblik het ek geweet waarom ek gebore is. Ek het British Airways se advertensie op TV gesien waarin Delibes se Lakmé-duet (klik om te luister) op die agtergrond speel en dadelik besluit wat ek vir die res van my lewe wil doen. Ses maande ná daardie dag het ek al operapryse begin wen.

Ek het agt jaar gelede in my huis op Piet Retief vir die eerste keer opera gehoor en op daardie oomblik het ek geweet waarom ek gebore is - Pretty
Yende

"Ek het aan skolekompetisies begin deelneem en opera aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Die geleentheid om Wene toe te gaan was 'n enorme voorreg. Ek het geen verwagtinge gehad nie - veral omdat ek geweet het 158 ander sangers, wat dieselfde doelwitte en drome as ek het, gaan deelneem.

"Elke keer as ek deurgedring het na 'n volgende ronde, het ek dit eerder as nóg 'n geleentheid beskou om te sing en nie noodwendig om mee te ding nie. Dit het die stres verminder; wanneer jy heeltyd beter as die volgende persoon probeer wees, plaas jy onnodige druk op jouself.

"Net hierna is ek Spanje toe vir die Montserrat Caballé-sangkompetisie, waar ek ook die eerste prys gewen het. Montserrat is een van die beste soprane van ons tyd en ek het die geleentheid gekry om saam met haar in Europa in konserte op te tree!

"Toe die aanvanklike skok van al die toekennings begin insink, het ek besef dis net die begin van groter dinge. Ek is intussen gekies om aan die wêreldberoemde operahuis La Scala se twee jaar lange program vir jong kunstenaars deel te neem en bly sedert November in Milaan, Italië."