Die befaamde Amerikaanse sopraan Renée Fleming tree binnekort in Suid-Afrika op. Die Suid-Afrikaanse mode-ontwerper Henry Schickerling, wat reeds die afgelope 27 jaar in Amerika woon, het die uitrustings vir haar ontwerp. Hy het per e-pos uit New York met Marguerite van Wyk gesels.

Hoe lank ontwerp jy al vir Renée Fleming?
Ek het haar twee jaar gelede deur die tenoor Johan Botha ontmoet toe hulle saam in die opera Othello gesing het. Sy is ook 'n vriendin van Susan Graham, die Amerikaanse mezzosopraan, vir wie ek al lank klere ontwerp. Me. Fleming was die afgelope ses maande min in New York en ons moes sketse Londen toe stuur waar sy gesing het. Sy het toe een rok gekies en ons het daarmee begin. Toe sy die eerste keer kom pas het, in die begin van Augustus, het sy die tweede een gekies en toe is sy Suid-Amerika toe vir 'n konsert. Sy het verlede Maandag vandaar teruggekom en ons het Dinsdag weer gepas. Vrydag was die rokke klaar.

Hoe sou jy haar styl beskryf?
Ek dink nie sy steur haar veel aan klere nie, maar sy weet dit is belangrik vir haar loopbaan om mooi te lyk. Vir die verhoog moet mens bietjie meer dra as wat jy op straat sal dra. Dit is 'n kompliment vir die gehoor as jy mooi lyk. Dit is soos 'n jong meisie aantrek vir haar kêrel. Sy was baie inskiklik met my idees en die rokke is baie dramaties en kleurvol. Ek wil nie veel meer daaroor sê nie.

Hoekom dink jy het sy juis op jóú besluit?
Sy het gesien wat ek vir Susan Graham gemaak het en het gedink dit is 'n kompliment vir Suid-Afrika om 'n Suid-Afrikaanse ontwerper te gebruik.

Wat is die kleur van die rokke?
Dis 'n verrassing, maar dit is kleurvol en het 'n lentegevoel. Dink aan skoenlappers in die lug. Glad nie swart of donker kleure nie.

Sy is blykbaar 'n absolute perfeksionis, geld dit haar klerestyl ook?
Sy weet wat sy wil hê, daarom is dit maklik om saam met haar te werk. Sy neem vinnnig besluite en bly daarby. Sy is baie inskiklik en aanvaar maklik wat 'n mens voorstel. Sy beskou mens as 'n professionele persoon en behandel jou met respek.

'n Mens sien hierdie vrou met die sagte oë op CD-omslae en hoor haar engelagtige stem, maar hoe is Renée die méns?
Sy is in 1998 geskei van haar man en dít was 'n groot hartseer. Sy het amper ophou sing, want sy het gevoel haar loopbaan benadeel haar twee dogters (hulle is nou 12 en 15 jaar oud). Haar voormalige man woon in New York en sien die dogers gereeld as sy nie tuis is nie. Sy het 'n voltydse nanny wat 24 uur per dag by hulle is. Sy is baie skaam, en liefdevol teenoor haar dogters. Sy hou van eenvoudige klere, maar trek 'anders' aan wanneer sy die 'operaster' is. Enige persoon met 'n publieke lewe het twee persoonlikhede, vind ek . . .

Sy kom pas terug van 'n Suid-Amerikaanse toer, reis baie en tog maak sy altyd tyd vir haar kinders. Is dit waar dat sy hulle dikwels saamneem op reise?
Gedurende die somer, as die kinders nie skoolgaan nie, neem sy hulle orals saam. Hulle het al die wêreld gesien. Hulle was nog nie in Suid-Afrika nie en sy bring hulle, haar ma, broer, sy vrou en húl twee seuns saam.

Sy is blykbaar glád nie 'n diva nie. Hoe het jy haar beleef?
Sy is baie skaam, amper afsydig, maar altyd baie beleefd en professioneel. Ek het dit geniet om saam met haar te werk, want omdat sy nie baie tyd het nie, gebeur dinge vinnig. Sy is stil en ambisieus.

Hoe ontspan sy?
Ek weet sy lees graag en is 'n dromer.

Sy het 'n pragtige figuur. In die ou dae was baie opera-sangeresse nogal geset. Die nuwe generasie soos Anna Netrebko en Angela Gheorghiu is almal beeldskoon en lyk soos modelle. Hoe bly sý so dun?
Deesdae sal die Metropolitan Operahuis hulle nie gebruik as hulle te vet is nie. Omdat sy so ambisieus is, doen sy wat reg is vir haar loopbaan. Sy was nie altyd so maer nie. Dit neem harde werk om so maer te bly. Sy oefen gereeld en het 'n baie dun middeltjie.

As opera-fynproewer sit jy aande om in die Met. Wat is jou gunsteling opera van Renée Fleming en hoekom?
Haar Thaïs verlede jaar, wat Suid-Afrikaners ook by die Cinema Nouveau gesien het, was pragtig. Dit het haar stem baie goed gepas. Ek hou ook van haar in Eugenen Onegin en in Rusalka.

Waarna kan ons Suid-Afrikaners uitsien met haar besoek?
Dis wonderlik dat sy nou, op die kruin van haar loopbaan, Suid-Afrika besoek. Sy sing nou op haar beste en dis 'n voorreg dat julle haar nou, en nie tien jaar later nie, hoor.

Waarna sien sý die meeste in Suid-Afrika uit?
Sy gaan 'n paar dae in 'n natuurreservaat naby Durban ontspan met haar familie en sy sien daarna uit om almal vir wie sy lief is om haar te hê.