'n Beter manier vir Elizabeth Hurley om borskankermaand - iets wat haar baie na aan die hart lê - mee af te skop is daar sekerlik nie! Sy en Shane Warne het Saterdag 1 Oktober hul verlowing op Twitter aan die wêreld bekend gemaak. Dié krieketlegende (41) en supermodel/aktrise (46) is in Skotland vir die Alfred Dunhill Links-gholfkampioenskappe waar hy tydens 'n romantiese ete op sy knie neergesak het en haar gevra het om te trou. Só het Shane getwiet: ""I didn't propose in front of 200 people at dinner. It was done privately and was very romantic – if I say so myself," he Tweeted. "Ps left knee is sore !!!" Hulle het dié foto hierbo op Twitter gedeel. (@ElizabethHurley en @warne888)

Die paartjie was Julie vanjaar in Johannesburg waar sy namens Estée Lauder die Pink Illumination Ball bygewoon het. Mariska van Rooyen, SARIE-skoonheidsredakteur, het tydens haar besoek met haar gesels oor wat haar rol as ambassadeur vir Estée Lauder se borskankerveldtog vir haar beteken:

Dis my sewentiende jaar dat ek vir Estée Lauder werk en ek het saam met die maatskappy grootgeword. Ek is die trotsste op die werk wat ek vir borskanker doen. Evelyn Lauder het die stigting 18 jaar gelede begin nadat sy gesien het wat die vigs-aktiviste met die rooilint-veldtog vermag het. In 1993 was daar nog niks vir borskanker gedoen nie, niemand het daaroor gepraat nie en sy het begin met die idee van die pienk lint. Evelyn se man, Leonard Lauder, moes nog betaal vir die eerste pienk linte wat gemaak is. Vandag het ons al meer as 115 miljoen linte reg oor die wêreld uitgedeel! Dis vir my belangrik dat Estée Lauder omgee en teruggee aan die vroue wat die maatskappy ondersteun.

Vrees kan vroue maklik weghou van ’n mammogram, maar as jy elke jaar gaan – en selfs al sou die dokters iets vind – weet jy dat dit nie baie lank daar kon wees nie en jou kans op oorlewing is
98%. Dít is vir my gerusstellend.

As jy onder 40 is, is mammogramme nie so doeltreffend nie, want die borsweefsel is nog te ferm – in hierdie geval is selfondersoeke noodsaaklik. Vier van my vriendinne, almal ma’s en onder 40, het borskanker gehad wat hulle deur selfondersoek ontdek het en almal het oorleef omdat hulle dit vroeg gevind het.

My ouma is dood aan borskanker in die jare toe niemand daaroor gepraat het nie. Sy het ’n knop in haar bors gevoel en vir jare vir niemand gesê nie, totdat sy soveel pyn gehad het dat sy dokter toe móés gaan, maar dit was te laat . . .

Ek dink dis belangrik dat ons aanhou om oor borskanker te praat sodat vroue nie geïsoleerd, bang of skaam sal voel nie.

Jy het dit so nodig om mense te vertel, want dis moeilik om sonder ondersteuning teen die siekte te veg.

OM TE WEET:

  • Elizabeth woon in Engeland saam met haar 8-jarige seun, Damian.
  • Sy gaan tans uit met die Australiese oudkrieketspeler Shane Warne.
  • Sy besit ’n organiese plaas van 400 hektaar in Gloucestershire en verkoop vleis aan van die voorste Londense restaurante en markte.
  • Sy het ’n swemklerereeks genaamd Elizabeth Hurley Beach en het in Augustus vanjaar ’n beddegoed-reeks begin.
  • Sy is binnekort in die TV-reeks Gossip Girl te sien, waarin sy ’n verhouding met die heelwat jonger Chace Crawford se karakter aanknoop.

Met dié kopies gee jy terug

Estée Lauder Perfectionist CP+ Wrinkle Lifting Serum Corrector For Lines/ Wrinkles/Age Spots (R885 vir 50 ml)
Pure Color Crystal Lipstick met smuksakkie (R245)

Vanjaar skenk Estée Lauder die geld wat met hul SA veldtog ingesamel word, waaronder produkverkope (bo), aan Look Good Feel Better South Africa, wat vroue met kanker ondersteun.