"Dis wonderlik om weer in my 'maer jeans', 'n nr. 30, te pas en dit was nie eens nodig om honger te ly nie. Omdat ek gesonder lewe, lyk my vel ook mooier as ooit. Ek weeg 55 kg en is 1,65 m lank. Ek mik nou vir 53 kg, hopelik oor so drie weke," vertel 'n energieke Patricia vanuit Ballito in KwaZulu-Natal.

Sy sukkel die afgelope drie jaar reeds met insulien-weerstandigheid en het om dié rede moeite gehad om die kilogramme af te skud. "Ek is nie 'n gym-meisie nie. Ek haat die treadmill. Dit maak my van my kop af. Maar ek het verlief geraak op Zumba-danse. Al die mammas in my kind, Max (7½), se skool was saam met my in die klas. Dis soveel fun. Enigiemand, van 8 tot 80, kan dit doen."

Nadat sý soveel gewig daarmee (en met haar gesonder eetplan) verloor het, het sy besluit om haar eie "Boere-Zumba"-passies te ontwerp vir 'n oefen-DVD* wat oor drie maande uitgereik word.
"In dié DVD dans ek in oefenklere op my eie danstreffers soos 'Superster', 'Doodgewone man' en 'Hero'. Daar is selfs passies op vir kinders wat heeldag voor die televisie sit en geen oefening kry nie.

"Mark [Whitfield], my man, is nóú mal oor my en was ook mal oor my toe ek vet was. Dis 'n goeie ding. Ek besef hy is 'n keeper. Maar die lekkerste ding op die oomblik is om in al my ou klere te pas. Dis net só vervullend. Ek sien kans vir enigiets."

*Die DVD word oor sowat drie maande uitgereik en sal waarskynlik R100 kos.