Daaroor lag Petra Camara lekker.

"Tipies! Ons is op 30 Januarie 2010 getroud. Maar hy is so 'n liewe ding, ek sal hom vergewe."

In al die jare wat Pedro Camara in die vermaakwêreld was en Carlos in 7de Laan gespeel het, was sy begeerte om eendag net 'n gewone, warm familie-atmosfeer in sy huis te hê.

"Ons Portugese is mos maar so."

Petra Muller, die blondekop van Alexanderbaai, het al drie jaar gelede Pedro se hart gesteel. Haar destydse baas, 'n eiendomsontwikkelaar, het Pedro vertel van sy oulike sekretaresse wie se voete so plat op die aarde is.

"Ek het nog nooit in my lewe op 'n toe-oë-afspraak gegaan nie, maar het die moed bymekaargeskraap om haar vir ete te nooi by De Aria in Durbanville. Dit was nie lank voor ek besef het sy het diep onder my vel ingekruip nie."

Dis die eerste blonde meisie met wie hy uitgegaan het. Hy het voorheen vir donkerkoppe met die Latynse voorkoms geval.

"Daar steel 'n regte Boeremeisie my hart! Sy het 'n magdom eienskappe wat haar die beste lewensmaat vir my maak. Sy het nie fieterjasies nie en is koel, kalm en berekend. Sy gaan nie tekere oor onbenullighede soos nat handdoeke nie en is gemaklik om mee saam te leef."

Pedro Camara en Petra Muller op hul troudagPedro Camara en Petra Muller op hul troudag Pedro Camara en Petra Muller op hul troudag

Hy is versot op die gegrondheid waarmee sy die lewe aanpak en haar diep godsdienstige waardes.

''Vanoggend na sy haar tande geborsel het, het sy gesê ons moet gou 'n stukkie uit die Bybel lees. Waar kry jy nog sulke vroue? Haar gesin is tradisievaste mense en sy pas gemaklik in by my familie."

Hulle is by Meerendal in Durbanville getroud en die troue het 'n romantiese atmosfeer gehad, vertel Petra.

Pedro sê hy wou nie hope celebrities na sy troue nooi nie, want hulle wou die familie-atmosfeer so intiem en warm moontlik hou. Hy kan nie uitgepraat raak oor hoe mooi sy bruid was en steeds vir hom is nie.

"Asemrowend, is 'n understatement. Boonop is sy pragtig van binne ook. Sy is een van daardie wyse siele wat die aarde bewandel." Hulle troudag was rustig en sonder spanning.

"Dit het nie aan ons saak gemaak of 'n roos dalk skeef staan en of iets skeefloop nie. Ons het die dag ten volle geniet."

Petra is die droomvrou wat hy nog altyd begeer het.

'Ek is die gelukkigste man op aarde om haar my vrou te noem."

Vir Petra is Pedro se sagte hart die kosbaarste van al sy eienskappe.
"Hy wil net altyd die beste vir my hê. Hy kan nie genoeg vir my doen nie. Dis 'n fees om saam met hom te lewe." Sy is trots op haar man wat nooit deur roem aangeraak is nie.

"Hy is nog dieselfde Pedro wat sy familie ken. Vir hom is van die belangrikste tot die eenvoudigste mense ewe belangrik. Hy maak altyd tyd om met bewonderaars te praat."

Sy beken sy is meer in haar dop gekruip as Pedro. "Maar hy kry dit reg om selfs vir my te laat ontdooi!"

Rok: Charlene Sauerman