As Carlos in 7de Laan het Pedro Camara harte gesteel, maar sy eie hart is drie jaar gelede gebreek toe sy pa, Abel Vieira Camara, op 29 Desember teen sluitingstyd in sy sportkroeg op Rawsonville doodgeskiet is.

“Hy was ons gesin se held. Wat gebeur het, is ondenkbaar. My pa is vir ’n skamele paar rand vermoor.” Hy sê die vrae is te veel en die antwoorde te min. Maar die Groot Boek sê: Behou die goeie,” vertel dié akteur, wat deesdae baie betrokke is by die familie-onderneming op Rawsonville.

“Ek tree ook as seremoniemeester op, lewer motiveringspraatjies en doen radiowerk. Maar die rol as betrokke pa vir Enzo (12) uit my eerste huwelik en man vir Petra, met wie ek in Februarie getroud is, gee my die motivering om voluit te leef.”

JY KAN JOU KOP LIG
“’n Mens kan ná so ’n trauma ’n lewe van verharding en eindelose verbittering kies, of jy kan jou kop lig en die stukke optel. Ek koester nou liefs die mooi herinneringe aan my pa en sorg dat ek lewensgehalte uit elke dag put.

“Dis nie maklik nie, maar haalbaar as ’n mens dit met geloof en ’n gewilligheid aanpak. Soms sink jy, maar jy moet die vermoë ontwikkel om jouself elke keer weer op te trek. Elke dag genees die wonde al hoe meer. Dis in jou eie hande.”

MEER RESPEK VIR DIE LEWE

“Ek is ’n ryper mens. Ek het geleer wat pyn is en hoe om dit te verwerk. Ek het meer respek vir die lewe. Kerstyd het sedert die tragedie ’n ander dimensie omdat die leemte altyd daar sal wees. Maar ons het gelukkig ook mooi herinneringe aan Kersfeeste saam met my pa. Vir ons bly dit ’n tyd van vrede, liefde en gee. My pa het ’n eindelose liefde vir almal om hom gehad en dit is gelukkig in my gene geplant. Ek sal altyd die heel eerste soen onthou wat my pa my gegee het die Kersfees vier jaar voor sy dood. Dit was vir my ’n lewensveranderende, spontane oomblik van liefde.”

’N GOEIE PA

Ek wil ’n goeie pa en man wees ongeag hoe gebeure my laat steier het. Die rou onskuld van my seun se uitkyk op die lewe noop my om dieselfde waardes en norme waarvoor my pa gestaan het, in hom te laat voortleef. Die kalm rustigheid van my vrou se liefde help my om met ’n nuutgevonde uitkyk van liefde die lewe te benader.”

SOMS KWAAD

“Ons is ’n hegte familie en elkeen hanteer my pa se dood op sy eie manier. Ons is soms kwaad, soms broos, soms verlore en gefrustreerd, maar ons weet dat die lewe moet aangaan. My ma, Driekie (67), is ’n toonbeeld van bomenslike krag en toewyding. Ten spyte daarvan dat sy haar seun Abel en haar man, Abel, in een leeftyd verloor en boonop borskanker oorwin het, het sy vir ons gesin gewys om te gaan lê is nie ’n opsie nie. Elke Camara toon, ten spyte van emosionele letsels, dat liefde allesoorheersend in ons lewe is.”

WAT EK GELEER HET

* Dat ’n mens baie broos en feilbaar
*Daar is geen tyd te vermors op onsinnighede nie.
* Soek en gryp die geleenthede aan om dierbares te koester.
* Gee deurentyd van jouself aan mense en die belonings is eindeloos.
* Leef skoon en eerlik, dis makliker.
* Leef in geloof en moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie, en wees aanpasbaar vir die draaiballe wat die lewe na jou kan boul!

* Ashley Manukula, Samora Manisi, Thanduxo Khohlakali en Allie Mpumlo staan tans in die Worcester streekhof tereg weens die moord op Abel Camara.