Dr. Annemarie de Villiers, vrywilliger by die Western Cape Equine Trust

Vandat sy kan onthou, is sy mal oor perde. Die grasie, die spiere, die wind deur die maanhare bekoor haar. Toe lees sy eendag op Google meer oor die WCET (Western Cape Equine Trust) en besluit om ondersoek in te stel. En daar en dan raak sy betrokke.

“Om te dink jy kan interaksie hê met ’n magiese, misterieuse dier wat sowat tien keer meer as jy weeg,” vertel dr. Annemarie de Villiers, ’n lektor by die Universiteit Stellenbosch se departement antieke studie.

Annemarie werk op die plaas  Langverwagt naby Stellenbosch as vrywilliger vir die WCET. Saam met die skoonmakers en versorgers werk twee voltydse helpers – ’n perdefluisteraar, Newton Phillips, en Lilly Reinhold, ’n perdeafrigter – ook daar. Hul program behels om vir oud-resiesperde ’n kans op ’n tweede loopbaan te gee: enigiets van ’n ryperd tot terapieperd vir byvoorbeeld serebraalgestremdes. Soms koop wynplaaseienaars die perde om “mooi te lyk” in die veld. Daar is ook ’n vraag na perde vir dresseerkuns.

Resiesperde het hoogstens ’n loopbaan van drie tot vier jaar, want dit is ’n baie stresvolle, adrenaliengedrewe sport. Hulle beland op die plaas danksy skenkings van hul vorige eienaar of afrigter. Daar is sowat sewe perde op ’n slag. “Newton neem hulle deur ’n program van ’n paar weke waar hulle leer om weer ’n lekker ryperd te wees en te ontspan.” Hulle probeer die perde so gou as moontlik uitplaas, sodat hulle nuwes kan inneem.

Hul missie is om te keer dat oudresiesperde in die verkeerde hande beland en ingespan word om byvoorbeeld swaar perdekarre te trek of aan onwettige wedrenne deel te neem. “Ons probeer hulle in ’n liefdevolle omgewing uitplaas, nadat ons seker gemaak het dat die nuwe eienaars goeie stalle het en behoorlik  na die perde kan omsien – hul mediese behoeftes, dieet en emosies.” Mense kan ’n perd teen R7 000 aanneem. As die nuwe eienaars daarna van die perd ontslae wil raak, stel hulle die WCET in kennis, sodat hulle opnuut kan bepaal in watter omgewing die perd sal pas.

Die programme met die perde vind weeks- en Saterdagoggende plaas. “As werkende ma neem ek een keer per maand verlof om na die perde te gaan. Soms sal ek en die kinders ook op ’n Saterdagoggend die perde besoek.”

Sy lei die perde in die arena rond of borsel hulle. “Dit is lekker om met die perd op die grond te werk. Hy moet jou respekteer voor jy op hom klim. As jy langs hom staan met jou hande langs jou sye, moet hy staan en nie wegruk om te gaan gras eet nie. Ek geniet dit ook om hulle na die gras te lei om te gaan eet, as beloning nadat hulle gewerk het.”

Annemarie help met die bemarking en beplan om plakkate en inligtingstukke te ontwerp om op Maties se kampus en by troeteldier- en perdewinkels te versprei. “Hulle is sosiale diere en afhanklik van ons besluite. Hulle praat nie, maar kommunikeer wel. Maar jy moet fyn ingestel wees op dié sensitiewe wesens.”

Perde word gewoonlik binne vier tot ses weke uitgeplaas. “Sommige is vurig, ander rustig. Hul persoonlikheid moet by die eienaar pas. Dit is baie bevredigend om ’n goeie uitplasing te sien.”

Annemarie gaan binnekort ’n meestersgraad in filosofie oor die etiese hantering van perde doen. “Daar is baie interessante geskrifte in die Latynse en Griekse letterkunde oor die antieke mens se verhouding met sy perd, dié belangrikste dier vir hom. Hulle het geglo as jy goed na hom kyk, sal hy jou ag.”

Sy bou wonderlike ervaring op vir die studierigting deur haar interaksie met haar geliefde viervoetige wesens, vertel sy. Om kinders naweke na die perdryplaas te bring is groot pret en baie leersaam, vertel sy. “Dit is interessant om te sien hoe my dogter, Annika, en die perde by mekaar aanklank vind.

“Dikwels kry terapeute wondere reg met outistiese en serebraal gestremde kinders wat perdry. Hulle voel jou emosies aan.” As Annemarie nie lekker voel nie, voel sy dadelik ontspanne as sy ’n bietjie perdry. Annika is ook al ’n knap ruiter. Haar kleutersuster, Juliette, sal vir seker in haar voetspore volg ...

Soos die Amerikaanse skrywer Herman Melville gesê het: “Geen filosowe verstaan ons so goed soos honde of perde nie.”

Navrae: Newton Phillips: 082 454 5544; newton@wcet.org.za