Die bekende akteur, Peter Butler, wat al te sien was in onder meer die sepies 7de Laan en Binnelanders, rolprente soos A Boy Called Twist, musiekproduksies soos The Sound of Music en groot teaterstukke soos Hamlet, is deesdae anker-aanbieder van die natuurleweprogram Shoreline op SABC2. Marguerite van Wyk het met hom gesels.

Julle het 3 000 km van die Suid-Afrikaanse kuslyn deurkruis om ons land se natuur-stories te vertel. Was dit 'n lekker ervaring?
Fantasties! Dis nie die eerste keer dat ek aanbied nie. Ek het byvoorbeeld 'n paar jaar gelede Tabloid, 'n ondersoekende joernalistiek-program oor weird & wonderful mense op e.tv aangebied. Maar dié gaan oor ons land se ongelooflike natuur. Ek is 'n natuurseun. En dis so lekker om orals in die buitelug saam met my hond, 'n ''nuwe tipe Jack Russel'', Nujak, te stap. Dis báie beter as om binne die reëls van 'n ateljee te funksioneer.

Wat was van jou gunsteling-ontdekkings tydens dié reise?
Ek is 'n gebore en getoë Kapenaar. Tog het ek die Kaapse Skiereiland die meeste geniet. Ek reken ek weet wat hier aangaan, maar daar was baie wat ek nié geweet het nie. In Langebaan het ons die Eva-voetspoor gesien, een van die oudste voetspore wat verbind word aan die ontstaan van die mensdom. Ek woon in Valsbaai en het besef hier het duisende jare gelede ook mense gebly. By Kaap Agulhas het drie miljoen jaar gelede mense gebly. Ek het by Valsbaai stukkies van volstruiseiertjies gekry en 'n geoloog-vriend van my het gesê dit behoort aan die Kaapse volstruis, wat al uitgesterf het. Ek het geleer van die Kaapse hiëna . . . Dié streek van ons land is só ryk aan geskiedenis. Dit was 'n hengse opvoeding vir my.

Geniet jy dit om te reis?
Nie juis nie. Om ure te sit en niks te doen nie is vervelig. Maar ek hou van stap. My kinders is ook so grootgemaak. Ek het hulle die alfabet geleer op die sand. Ons het naby die strand gebly toe ek getroud was. Ek is nou reeds twaalf jaar geskei. My dogter is nou al 24 en my seuns 18 en 21. Ek hou daarvan om in oop, eksotiese plekke in die natuur te wees, wat nie vol reëls en regulasies van die lewe is nie.

Wat was die uitdagings om dié program te maak?
Die grootste uitdaging was om te besluit watter stories gaan in en watter val uit, om vir 'n moontlike volgende reeks gebruik te word. Daar is soveel wonderlike goed wat mens wil vertel. Jy lê 100 km af en dan voel dit of jy oor 'n paar landsgrense gery het - dis amper asof jy 'n internasionale toer onderneem het sonder dat jy werklik grense kruis. Die tegniese span was ongelooflik en het dit só maklik gemaak. Its not the destination, but the getting there. Die mense het na ons verwys as seven people in a hurry. Ons groep was klein, maar ons het heerlik saamgewerk. Dit was een van die hoogtepunte van my loopbaan. 'n Droomwerk.

Jy was baie gewild vir jou rolle in 7de Laan en Binnelanders. Sou jy graag weer in dié sepies wil speel?
Sepies is nie my gunsteling-medium nie, hoewel ek glad nie daarop neersien nie. Ek hou baie van dokumentêre en korporatiewe werk, omdat dit jou toelaat om jouself te wees en dis nie voorskriftelik nie. Sepies is baie rigied en jy is deel van 'n groot masjien. Ek het my werk by die sepies baie geniet en sal nie omgee om vir klein periodes terug te gaan nie. Mense onthou my veral vir my rol in 7de Laan. Ek word nou nog soms in die straat voorgekeer deur mense en daaroor uitgevra. Dié sepie het 'n ongelooflike impak op mense se lewe en is baie toeganklik.

Aan watter ander projekte werk jy?
Ek werk as stemkunstenaar in advertensies, doen radio-dramas vir RSG. Ek was die afgelope jaar nie in 'n verhoogproduksie nie en is lus vir só iets, om my vaardighede geslyp te hou. Ek speel gereeld in internasionale rolprente (en teken binnekort 'n Amerikaanse kontrak). Ek werk veral in Britse en Amerikaanse films, maar ook in Franse en Duitse films. Dit hou my van die straat af en keer ook dat 'n mens plaaslik té veel blootstelling kry. In ons klein mark kan dít probleme skep. En ek is mál oor houtwerk. Dis baie terapeuties. Ek maak my eie meubels. Ek geniet dit meer as om die gimnasium te besoek, jy het iets te wys vir jou sweet. Dis funksionele oefening!