Phyllis Green, SARIE se boekeredakteur, het De Villiers in 'n onderhoud gepols oor die nuwe Springbok-span en sy raad vir die nuwe afrigter, Heyneke Meyer.

Wat, dink jy, is die Springbokke se kans in die drie toetse teen die Engelse?
Ons het altyd ‘n kans. Dis wat dit so lekker maak, ons het altyd ‘n kans en dit maak dit positief. Ek het net een plig en dis om die span en die volgende afrigter te ondersteun. Dis al wat ek moet doen. Ek het nie nodig om nagte wakker te lê nie. Ek het nie nodig om harde werk in te sit nie. Ek moet die ou net ondersteun. Hoe? Deur hom positief te beïnvloed deur wat ek doen.

En Jean de Villiers as keuse van kaptein?
Wonderlike keuse, dink ek. Jean het hom nie self aangestel nie. Net soos Heyneke nie homself aangestel het nie. So vir my om hom te gaan kritiseer omdat hy nie verantwoordbaar aan die publiek is nie, is baie onregverdig.

Sal jy vir Heyneke Meyer ‘n stukkie raad wou gee?
Ek sal vir Heyneke die volgende raad wil gee: Probeer so gou as moontlik jouself wees. Jy gaan nie alles reg doen nie. Ek het baie foute gemaak in die vier jaar, maar ek het nooit ‘n verskoning gereed gehad daarvoor nie. Ek het altyd ‘n rede gehad hoekom ek dit gedoen het.

‘n Vinnige woordjie oor die standaard van skeidsregters.
Ek dink dat hulle weer die verantwoordbaarheid moet terugvat. Toe dit net die een skeidsregter in die middel was, het hy al die verantwoordelikheid gevat en daarom het hulle so goed geraak. Hulle wou so na as moontlik aan die regte beslissings kom, want die mense kon hom blameer – en hulle het na aan die regte beslissings gekom. Deesdae is dit ‘n geval van “It’s not my call, it’s the touch judge or the TMO.” So die skeidsregter het nie nodig om verantwoordelikheid te vat nie. Ek dink nie hulle het meer ‘n bydrae om te maak in die sport nie, want hulle is verantwoordelik vir niks.

Is jy die Coach Divvie wat so twiet oor alles en nog wat?
Nee, dis nie ek nie. Ek het nog nooit ge-Twitter of ge-Facebook of gewat nie. Ek is B.C. - before computers. As jy ‘n private mens is, dan maak jy jou siel oop op sosiale media. Ek sien nie kans daarvoor nie. Ek wil nie hê mense moet weet wanneer ek gaap of iets nie. Ek wil nie hê mense moet weet wat die volgende stap in my lewe is nie.

Ek was aangestel om rugby af te rig. Dis al wat ek gedoen het. Ek het nie politieke besluite geneem nie. Ek het nie gewildheid nagejaag nie. Daar is nie een ou wat ek kan bel op die lughawe en sê “Kan jy my vlug vroeër maak nie”, daar’s nie een hotel wat ek kan bel en sê “Ek wil graag vanaand hier bly” nie, want ek het nie een kontak opgebou om myself te verryk nie. Ek was daar om my job te doen vir my land.

Ek het rugby gebruik om almal die geleentheid te gee, selfs mense in rolstoele, om selfvergenoeg te raak oor wat daar op die veld gebeur, want daai ouens doen dit vir my ook. En miskien is dit waaroor dit gaan, dat jy jou Godgegewe talent moet uitleef ter wille van ander mense wat nie die geleentheid kan kry nie. Die feit dat daai ouens Springbokke geraak het, maak nie vir hulle spesiaal nie. Die feit dat hulle Springbokke geraak het, is ‘n geleentheid. Dis al. Net ‘n geleentheid.