Om te perform is in hul bloed. Die musiek klop, sedert kindsbeen af, ritmies in hul are. Hoe dan anders as jou ouers wyle komponis Taliep Petersen en sangeres Madeegha Anders is?

“Ek sien so baie van Taliep, en myself, in al vier ons musikale kinders,” sê Madeegha, Taliep se eerste vrou.

Voor ons, in ’n Kaapse ateljee, lag die Petersen-sibbe. Aeesha is in die grimeerstoel, Fatima se hare word geblaas, Ashur pas ’n baadjie aan en Jawaahier gesels met die Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur. 

Kiek, kiek, kiek - toets die fotograaf Leana CR haar kamera. 

Daar is ’n onblusbare energie in die vertrek ... die einste energie waarmee Taliep en David Kramer se produksies Kat and the Kings, District Six en selfs Ghoema sekerlik sou kon open.

Dis die eerste keer dat die vier Petersens en hul ma saam afgeneem. word “Dis ’n special moment ... they are inseparable,” sê Madeegha trots.  

“Ons was nie altyd so close nie,” voeg Jawaahier vinnig. “Ons pa se dood het ons nader gebring.”

Hulle beweeg almal nader en vir ’n oomblik onthou hulle 16 Desember 2006.

Die oggend het Taliep sy vier kinders laat belowe om vir die res van hul lewe daar vir mekaar te wees. “Hy het seker ’n gevoel gehad, hoekom anders sou hy ons laat promise ... ons het hom belowe,” sê Ashur.

“Ek onthou nog hoe hy vir elke kind ’n speech gegee het,” vertel Jawaahier. “En toe sê hy: ‘Onthou as iets met jul ouers sou gebeur, het julle net vir mekaar. As die een val moet die ander hom of haar ophelp’. Ek onthou dit nog soos gister.”

Dieselfde dag word hy koudbloedig in sy huis in Grasmerestraat, Athlone, vermoor. Dit sou ure vat voor sy liggaam verwyderd word. 

Ashur, Aeesha, Fatima en Jawaahier het hul hande op hul pa se bors geplaas en mekaar toe in die oë gekyk. 

“Ons het net daar ’n Power of Four-pact gemaak. Ons gaan nooit mekaar verlaat nie, ons gaan altyd daar vir mekaar wees,” onthou Aeesha.

Van links na regs: Fatima Petersen, Madheega Anders, Aeesha Petersen, Ashur Petersen en Jawaahier Petersen. FOTO Leana CR

Vir Madeegha was dit ’n tyd waar sy so magteloos gevoel het. “Ek het die pyn gesien waardeer my kinders gegaan het, maar ek kon niks vir hulle doen nie.”

Daardie aand het Ashur, Aeesha en Fatima hul matrasse na Jawaahier se kamer toe gesleep. “Hulle het hul eie kamers gehad, maar ons wou bymekaar wees. En vir die volgende twee weke het ons in een kamer gebly,” vertel Jawaahier. “Ons het die dood saam verwerk.”

Dit was nie beplan nie, dit was net instink.

Madheega reken haar kinders se band is nou onbreekbaar. “Ek weet hulle sal altyd daar vir mekaar wees.”

Terug in Kaapstad, voor die kamera, begin die Petersens soos ’n engelkoor sing. Ma en haar kinders - natuurlik en gemaklik. En met elke noot word hul beeld ewig vasgevang.

Die Petersen-kinders is almal in die kunste. Jawaahier, wat haar meestergraad in maatskaplike werk het, is voltyds in die sepie Suidooster. Aeesha speel in SABC2-reeks Melody. En Ashur en Fatima maak die mooiste musiek.

“Ek dink ... ek weet Taliep sou trots wees op sy kinders. Hoe dan anders? Daar is ’n stukkie van albei van ons in hulle,” sê Madeegha, soos haar kinders se lag die ruimte vul.