Waarom woon jy in Dallas?
Dis in die middel van die land en maak al die gevlieg in my lewe makliker. Die Fort Worth Lughawe in Dallas is een van die mees fantastiese lughawens in die VSA - en groter as die "eiland" van Manhattan in New York. Aangesien ek nie eintlik van sneeu, ys en koudkry hou nie, is Texas die perfekte plek vir my. Die somers kan bietjie warm word, maar ek is gewoonlik êrens anders op toer. So dit pla my nie vreeslik baie nie. Vandag, hier in die winter, is dit 22 °C! Dis die tipe winters waarvan ek hou.  Ek het spesiaal 'n huis hier gekoop sodat ek 'n plek het vir my Blüthner-klavier wat ek uit Duitsland ingevoer het.

Wat doen jy daar?
Ek vlieg rond en speel konserte, bied meestersklasse aan, gee lesings en sit baie rond op lughawens terwyl ek Twiet! (Ek is @PianistTweet.) Die vlieg en reis pla my nie, ek slaap gelukkig baie maklik op 'n vliegtuig. Ek gaan ook amper nooit fliek nie, want ek wag net tot ek die rolprent op die vliegtuig te siene kry! Ek besoek Suid-Afrika twee of drie maal per jaar en is 'n minimum van 2 maande per jaar daar. My familie bly nog almal daar en ek gaan kuier gereeld.

Waar gaan jy volgende speel?

Ek speel orals oor die VSA, maar gaan ook volgende maand Kanada toe vir 'n toer en dan Venezuela, voor ek weer in Europa speel. Soos dinge tans staan, speel ek weer in Suid-Afrika in Julie/Augustus 2013. Ek het 2006 laas in Suid-Afrika gespeel. Dis tyd dat ons daardie konserte inpas! Ek sal ook later vanjaar my vyfde CD opneem onder Hänssler Classic uit Duitsland. Die reeks opnames bestaan uit transkripsies wat ek uit argiewe uithaal en meeste stukke is "world premiére" opnames.

Ek het die skoene gesien op 'n foto van Katy Perry en dit het my maande gevat om die skoene op te spoor in Londen by "Charlotte Olympia" voordat ek dit uiteindelik  kon koop. Ek kan nie konserte met hulle speel nie. Dis te hoog en dan kan ek nie die pedaal gebruik nie.  Maar ek is mal oor my klavier skoene!

Ek het die laaste jare van Earl Wild se lewe by hom les geneem in Palm Springs, Kalifornië. Hy het wonderlike stories vertel van vakansies saam met Maria Callas, konserte met Toscanini en staaltjies oor sy lewe. Hy het 'n vreeslike skerp sin vir humor gehad. Na sy dood is sy 900 bladsy biografie gepubliseer en hierdie foto is ook in die boek.

Hier praat ek met Trudie Styler by ‘n partytjie in New York. Sting is daar agter ons, maar ek was baie meer beïndruk met haar. Sy is eenvoudig stunning. Hy is gelukkig om haar in sy lewe te hê - nie andersom nie. Hulle het 6 kinders (al is haar middeltjie so klein soos my arm!) en hulle is al dekades getroud.

Die Suid-Afrikaanse aktrise, Christel Smith, bly in Los Angeles. Ons sien mekaar elke keer as ek daar optree. Sy en my suster, Annie, het saam in 'n fliek gespeel jare gelede; sy was my sussie se sussie in Pot vol Winter.

Wonderlike Wene! By die operahuis is die ouens aangetrek soos Mozart met rooi baadjies en pruike. Dit was vir my baie snaaks.

Ek en Annie het gaan kyk hoe lyk Southfork Ranch waar hulle Dallas geskiet het. Ek bly daar naby, maar sal nooit na so plek gaan nie, tensy iemand vir  my kom kuier! Dit was bitter warm daardie dag en ons het sommer ons voete in die swembad afgekoel. Niemand het omgegee nie.

Saam my pa, Hendrik, in Namibië. Ons het van Swakopmund na Windhoek op die "Desert Express" trein gery; waar jy heerlik eet op die trein en dan slaap ook. Jy word die volgende oggend in Windhoek wakker en gaan op 'n safari. Omdat ek in die VSA bly, is so 'n Afrika-ondervinding vir my vreeslik lekker.

Ek en Annie doen wat ons die beste doen: SHOPPING in Doebai. Ek kan nie onthou of dit Mall of Dubai of  Mall of the Emirates is nie. Jy kan nie deur die sentrums kom in een dag nie; dis eenvoudig te groot. Ons eindig gereeld by Tsunami in Rosebank vir soesji as ek in Suid-Afrika is!

Saam met Solly Philander by ‘n konsert by Leeuwenhof in Kaapstad. Ek dra 'n rok wat "Hip Hop Clothing Company" vir my gemaak het. Ek het 'n paar rokke van hulle wat ek graag dra.

Saam met Annie en Robert (hy is soos ons derde boetie) by die Getty Museum in Los Angeles. Daar is ongelooflike kunsversamelings en die Getty-familie het seker gemaak besoekers hoef nooit toegang te betaal nie. Daar is dus geen verskoning om dit nie te besoek nie.
Middagete bo-op 'n gebou in Parys met 'n pragtige uitsig oor die stad.

Op die strand by die Swart See. Ek was op toer in die Republiek van Georgië en het my laaste konserte in Batoemi gespeel. Dis op die grens tussen Georgië en Turkye. Daar is geen seesand nie, net klippies, maar dit is die gladste klippe ooit. Ek het my voete in die water gesit, maar dit was maar koud.

Ek was deel van die fotografie uitstalling, Classical Musicians. Hier is ek by die opening van die uitstalling in Texas. Die fotograaf het  die foto's met so outydse kamera met 'n doek oor sy kop geneem - nogal interessant.
Ek wou nog altyd hande van gips gehad het. Ek het dit uiteindelik verlede jaar gekry. 'n Mens kry hande van Beethoven, Liszt, Chopin, ens.  Ek het my hande op dieselfde manier gehou as die komponiste. Dit voel so bietjie asof ek nou deel is van die Adams Family!