Pierre se rugbyloopbaan het begin floreer en hy is in 2006 gekies om vir die Springbokke te speel. Die begin van sy loopbaan in toetsrugby was ’n nagmerrie toe hulle 0-49 teen Australië verloor en hy daarna uit die span gelaat is. Maar hy het ’n tweede kans gekry en is as Speler van die wedstryd gekies teen die All Blacks in Rustenburg.

Groot skrik, groot teleurstelling

In 2007 was daar groot opgewondenheid in die aanloop tot die Wêreldbeker. Ná ’n suksesvolle Super 14-seisoen by die Bulls (met dié dat die Bulls met die beker weggestap het) het hy verwag om deel te wees van die toer na Frankryk. Twee weke nadat die span aangekondig is, het Pierre bloed begin hoes, hy het borspyne gehad en pyn gehad wanneer hy asemhaal. Die spandokter het hom vir toetse geneem en die skokkende nuus het hom getref: hy het bloedklonte op sy longe.

Die dokters het voorgestel dat hy vir ten minste ses maande medikasie moes neem wat sy bloed sou verdun. Hy was onder streng instruksies dat hy glad nie in daardie tyd rugby kon speel nie. Hy het berus en vas vertrou dat God hom volkome sal genees. Sy geloof is getoets, maar hy het die keuse gemaak om God te prys.

’n Mens het sy beperkings, maar by God is alle dinge moontlik. Ná ses maande van medikasie het daar ’n wonderwerk gebeur – God het hom genees. Die dokters het gesê dit is onmoontlik. Hulle het gesê Pierre sal nooit weer rugby speel nie. Die meeste mense met bloedklonte kan nooit die medikasie staak nie. Dit was weer vir Pierre moontlik om rugby te speel en met sy loopbaan voort te gaan.

Dit gaan om die keuses wat jy maak

’n Hoogtepunt in 2008 was sy huwelik met Juanne. In hulle verhouding is God eerste, hulle dien Hom saam met oorgawe. Pierre glo God sál sy plan in jou vervul as jy op Hom vertrou. Jesus het hom as instrument gebruik om sy vriende en familie te bereik en hulle lewens te verander deur Hom op die manier lief te hê waarin Hy ons opdrag gee. Hy glo dat God ’n plan vir elkeen se lewe het. As ’n mens eers besluit het om Hom te volg en vir Hom te leef, sal Hy meer doen as wat jy jou ooit kan
voorstel. “Ons moet net sy hand vat, Hy sal die res doen.”

As gelowige wéét Pierre dat ’n mens die gevolg in ag moet neem voordat jy keuses maak. ’n Mens se geloofspad begin met besliste keuses en ’n oortuiging, maar daarna is dit ’n proses. Maar die Here leer ons ook iets uit die verkeerde keuses wat ons maak. Een van sy gunsteling teksverse is
Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

“’n Mens moet ook jou geloof bou op die evangelie. Hoe groter jy word, hoe kleiner word jy eintlik. Soos wat ’n mens se lewe aangaan, moet jy daarna streef om mense te sien soos die Here hulle sien. Ons is vol foute, maar met die liefde van die Here kan ’n mens sien wie ander werklik is. Hoe langer ’n mens al ’n pad stap, hoe eenvoudiger word dit eintlik.

Jou behoeftes bly dieselfde. “Dié wat die meeste is, moet die minste word. Ons as rugbyspelers het dikwels die leefstyl waarvan baie mense droom en dan sien jy mense wie se geloof soveel sterker
as joune is, en hulle het eintlik soveel minder as jy.

“Ek besef dikwels dat ek maar net ’n ongelooflik bevoorregte mens is wat die Here ken. ’n Mens het so baie om te gee en te doen. Daar is so baie mense wat nog nie ontvang het wat jy het nie.”

Pierre Spies in aksie op die rugbyveld teen Engeland

Rugby is nie die lewe nie

Om te verloor, is vir Pierre deel van die lewe en deel van sport. “Wen of verloor is net soos beserings, dit is onvermydelik. Rugby is nie dié lewe nie, dit is ’n wedloop of ’n wedstryd. Selfs wanneer jy herhaaldelik verloor, moet jy aanhou glo en hard werk. Om te verloor, is nie vir ’n mens maklik nie, veral as jy hard werk. Maar jy moet aanhou droom. En met elke wedstryd het jy nóg ’n geleentheid om dit reg te stel.

“In rugby moet jy ’n spanspeler wees en altyd onthou dat die span belangriker is as jy. By die Bulls is die groter prentjie van die span baie belangrik. Jy vorm deel van die span. Jy kan nooit so groot soos die span wees nie. Alles wat jy het, moet jy ingooi vir die span en dan sal dit ook vir jou as speler ten goede wees.”

Pierre wil graag onthou word as iemand wie se woorde en dade ooreenstem. “Ek sal tweedens nie onthou wil word vir wie ek was nie, maar vir die Een vir wie ek verteenwoordig het. Iemand wat alles bereik het vir die Here Jesus Christus.”

Agter die doellyn is beskikbaar by CUM-boeke en ander toonaangewende boekwinkels teen R139, 95