Stiptelik twee uur voor ons vertoning Coenie en Evita verdwyn Pieter-Dirk Uys agter sy kleedkamer-deur. Hy is nie besonder groot gebou nie, praat sag en intens, en dra ’n wolmussie om
sy kop warm te hou. Jy sal nie twee keer omkyk as hy by jou in die straat verbyloop nie.

Die vele pryse, sy uitgebreide gemeenskapswerk om vigs te bekamp, die beroemdes wat hy al ontmoet of mee bevriend geraak het – van Madiba tot by Sophia Loren – hierdie dinge bêre hy diep en beskeie waar ons dit nie kan sien nie.

Ek trek in die kleedkamer langsaan aan: baadjie, skoon hemp, gepoetste skoene. Dink weer of ek die liedjies vir ons vertoning onder die knie het.

En dan wag ek soos alle kunstenaars om na die verhoog geroep te word: Stand by, this is your five minute call. Maar agter ons verhoog is dit anders, want ’n halfuur voor die ligte uitdoof, is daar ’n klop aan my deur.

En daar staan sy: Lank, viets uitgevat, met ’n uitrusting wat subtiel die lig vang en flits soos haar oë onder die lang, perfekte wimpers.

Dit betrap my nog elke keer onkant, elke keer voel ek asof Mevrou Dominee my agter die fietshokkies vang met die koster se dogter. Van Pieter-Dirk Uys is daar niks oor nie. Selfs die kleur van Evita se oë is sweerlik anders, die liggaamstaal spreek van iemand met wie jy nie moet foeter nie.

Maar dis genadiglik Pieter-Dirk met wie ek vir SARIE gesels, en hy intimideer my aansienlik minder as sy formidabele alter ego, Evita Bezuidenhout!

2011 is nog net halfpad en jy het reeds in Berlyn ’n Teddy-prys gekry vir jou werk in die stryd teen MIV/vigs, en as Evita het jy ’n Naledi-teaterprys ontvang vir jou lewenswerk. Dan is daar ook ’n Fleur du Cap-prys vir jou vertolking van Bambi Kellerman in die kabaret F.A.K. Songs and Other
Struggle Anthems. Maak pryse ’n verskil, of is dit net nog iets om op
die kaggelrak te sit?

Dit maak ’n verskil as dit onverwags is, soos die Berlynse prys. Omdat Berlyn die stad van my ma se
geboorte is, was dit vir my ’n ontsaglike emosionele terugkeer. Dis ’n vreemde wêreld – wat weet hulle van my? So dit was vir my amazing. Maar dis absoluut wonderlik as ek ’n skool besoek en die kinders het almal vir my ’n plakkaat gemaak. Dís die dinge wat ek teen die mure hang.

Jy het iewers gesê jy het agter karakters weggekruip totdat jy 45 was, jy het eers later die selfvertroue gekry om sélf iets te sê. Het die karakters wat jy skep irrelevant geword? Praat jy nou met jou eie stem?

Wel, ek het nou ’n karakter met die naam Pieter-Dirk Uys geskep en ek speel hom so goed dat ek nie meer bang is om my mond oop te maak nie.

Ek is nietemin steeds vrot voor ’n kamera. Jy weet, as ek vir ’n foto pose dan lyk ek soos ’n regte bobbejaan. Maar daar is aspekte van my woede wat ek moet verwerk in dialoog vir ’n karakter. In die ou Suid-Afrika was dit maklik om kommentaar te lewer op die Nasionale Party, want dit was my party – ek is ’n Afrikaner en ek is wit soos hulle.

Maar nou is dit anders. Ek is steeds ’n wit Afrikaner, en nie ’n Zoeloe soos Jacob Zuma nie. Dit maak dinge baie ongemaklik. Daarom wil ek liewer ’n karakter skep wat iets uitlig van ’n probleem: ’n Onderwyser wat praat oor die onderwys of ’n lesbian nurse wat ’n swart girlfriend het. Ek dink die
gehore geniet dit dat ek – 65, met ’n boepens en ’n kaalkop – voor hul oë iemand wórd! En my vrouekarakters is vir my baie belangrik. Evita bestaan nou al 40 jaar, en ek moet sorg dat vroue die vróú herken en die mans vergeet van die man – dan werk sy.

Is daar een besondere karakter wat jy deur die jare geskep het “waarbinne” jy besonder tuis voel?

Evita is my superster. Ek meen, ek dieet vir haar. I lose weight for a woman who doesn’t exist! Sy is fabulous. Sy is ’n kugel en kugels is baie raar, maar sy is nou oud en sy is ’n fighter. Bambi Kellermann, Evita se suster, is vir my baie interessant. Ek het pas haar outobiografie klaar geskryf – die titel is Never Too Naked. Sy het by Kennedy geslaap en ook saam met Marilyn Monroe. En hier het sy ’n bordeel in die Paarl! Baie keer sê mense vir my ek doen hierdie ding al so lank, ek kan nou maar ophou. Ek wil nie stop nie – dit is my terapie, dit is byna die ding wat my minder mal maak as wat ek daarsonder sou gewees het. Maar ek weet wat ek nou moet doen: Ek moet my karakters speel om die verlede te weerkaats. Ons moet weet waar ons vandaan kom sodat ons kan feesvier oor waarheen ons gaan.

Jy doen geweldig baie werk om MIV te bekamp – dis byna ’n kruistog vir jou. Waarom voel jy so sterk daaroor?

Wel, ek het in 2001 besef dat ek wegkyk van die ding wat my die bangste maak: die virus. Sedert die middel-tagtigs het ek mense daaraan sien doodgaan, en gedink,o hemel, is dit nou my beurt?

Dit was die enigste manier om my eie vrees te bekamp. ’n Vriend het my gevra, en ons het 20 e-posse na skole toe gestuur. Binne minute het ses teruggekom en gesê: Ja, jy is welkom! En ek het gesê ek doen dit verniet. Dit is die beste besluit wat ek in my lewe geneem het, want as ek tien sent gevra het, sou iemand op die skoolraad die geld vir iets anders wou gebruik.

Hoekom werk jou benadering – dink jy kinders begryp jou brutale eerlikheid?

Ek gebruik nooit die woord “kind” nie. Ek begin deur te sê ek is 65 en julle is 14 – kom ons maak ’n deal. Julle moet my laat voel soos 16 en dan laat ek julle voel soos 24. Ek praat nie af na hulle nie en ek sê hulle moet nooit bang wees om vrae te vra nie. Dis ’n gesprek, en ek moet honderd persent eerlik wees.

En natuurlik, humor is ontsaglik belangrik. Ek werk ook nou saam met die klinieke in die townships.
By skole kom die kinders dikwels op my afgestorm, en dan dink ek, o genade, my ouma was reg – hier kom die Zoeloes! Maar dan lig hulle my op en dra my in die saal in, want die vloer is nog nat en hulle sing “Nkosi sikelel’”. Is dit my beloning? Inderdaad. No money can even come near that.

Wat dink jy is die groot kwessies vir die regering in 2011?

Opvoeding, gesondheid, sekuriteit. Gee vir elke onderwyser, elke verpleegster en polisieman ’n 100%-salarisverhoging. Pay them for saving the country. As kinders kan lees, skryf en praat, kan hulle enigiets doen. As iemand gesond genoeg is, kan hy enigiets doen.

Jy woon eenkant op Darling, weg van die stad. En jou private lewe is, wel, baie privaat. Waarom?

Dat ek op Darling kan bly, beteken ek is oud genoeg om nie meer in ’n stad te moet woon nie – dis nie nodig om in ’n oorlogsone te bly nie. Ek was op pad McGregor toe in 1995 en het ’n verkeerde afdraaipad gevat en op Darling beland. Toe ek my vriende in die Kaap vertel ek gaan ’n teater op die Darling-stasie open, het hulle gesê ek is mal. The best thing about being mad is that nobody has thought about it. That is why you are mad – it’s a good idea! My private lewe is nie so interessant vir ander mense nie – ek werk heeltyd. Ek het nie ’n job nie, want ek ís my job.

Jy het al gesê jy het geweldige wilskrag. Is dit wat jou so ver in jou lewe gedra het?
Ja, dissipline is belangrik. Dit kom uit die teater. Jy mag nie laat wees nie. Ek is altyd twee uur voor die tyd daar. En ek dink dit is die plek waar ek die veiligste in my lewe voel. Ek loop in enige teater van Popfontein tot Pretoria tot Parys, en ek is veilig, ek is tuis. Ek is ook ’n vroegdag-mens. Ek is vyfuur soggens op.

Jou vriendskap met Sophia Loren is merkwaardig. Sy het ook die voorwoord vir Evita se kookboek,
Evita se Kossie Sikelela (Umuzi), geskryf. Sy het jou bygestaan tydens jou ma se dood, as ek dit nie mis het nie?

Dit was in 1969. Ons was van Londen af op pad, onder die indruk dat my ma in ’n ongeluk was en dat sy in die hospitaal aansterk. Op Kaapstadlughawe wag tant Anna ons in, en toe weet ons: o, Krismis. Ek onthou sy het gesê my ma is dood, en ek het na ’n boekwinkel op die lughawe gevlug.

Daar, in die koerant, het ek gelees dat die jong man wat haar liggaam van Tafelberg wou herwin
ná haar selfmoord, ook na sy dood geval het. Die eerste ding wat ek op die lughawe gedoen het, was om vir Sophia ’n brief te skryf en te pos. Binne drie dae het ek ’n antwoord van haar ontvang. Sy het gesê: You haven’t got time to cry. Onthou die mooi dinge, maar jy moet daar wees vir almal en die stukke optel.

Hoeveel van Evita steel jy by Sophia?

Ek steel van haar grimering! Sy het altyd gesê jy moet jou gesig kén. Elke gesigsuitdrukking, elke spierbeweging moet jy sonder ’n spieël kén. Dit is ons probleem: Ek sê altyd my gesigprentjie en my breinprentjie is nie dieselfde nie. Ek het as kind na ’n Doris Dayfliek gaan kyk. Toe ek uitloop, het ek
gedink ek lyk net soos Doris Day. En eintlik lyk ek soos hoenderpastei!

Van hoenderpastei gepraat, Evita se kookboek is ’n topverkoper in Suid-Afrika. Het jy ook ’n passie vir kosmaak?

My vriendin Linda Vicquery is ’n kok en sy woon in Provence in Frankryk. Sy sê toe eendag: Kan
Evita nie ’n kookboek uitgee nie? Sy het in Provence gesit en alles gekook en gekies. Ek het vir haar
idees gestuur en dit is hoe dit begin het. Ek kan steeds boggerol doen in die kombuis. Ek kan vir my whisky skink en my kat voer. Evita kan kook, maar ek kan nie.

Ek, Coenie, en Evita doen hierdie jaar ’n hele paar konserte saam. Hoe voel sy oor hierdie samewerking?

Jy sal Evita maar self moet vra – ons praat nie dikwels met mekaar nie.

Musiek is ’n belangrike deel van jou lewe, nie waar nie?

My hele lewe is ’n klankbaan. Ek sing as ek reis, of in die trem in Amsterdam. Ek vrek oor musiek. Jou suster, Tessa, is ’n konsertpianis en woon in Londen.

Bring jul gedeelde liefde vir musiek julle nader aanmekaar?

Sy neem my dikwels saam na konserte en sy weet alles! Ek is baie lief vir Mahler. En ons praat eintlik baie oor ons ma se verlede. Tessa het al die briewe wat my ma aan haar verloofde in Duitsland geskryf het toe sy my pa ontmoet het. Sy het my pa op die verhoog van die stadsaal in Kaapstad ontmoet – hulle was albei pianiste – en toe besluit om liefs met hom te trou. Haar verloofde was ’n Duitse professor en hy het afskrifte gehou van al die briewe. Dis so Duits, so
tradisioneel. Die korrespondensie is ongelooflik.

Wat moet eendag op jou grafskrif staan – hoe wil jy hê mense moet jou onthou?

Ek dink nooit regtig daaraan nie. I just hope I have made the road very difficult for people to follow in their bare feet!

***
En daarmee eindig ons onderhoud. Maar ook nie heeltemal nie, want later, oor ’n glas wyn, verklap Pieter- Dirk Uys dat daar tóg iets is waaraan hy mense wil herinnner as hy nie meer daar is nie. Daar is ’n videonalatenskap, vertel hy, waarin Evita wél iets oor hom kwytraak.

“En wat is dit?” vra ek.

“Ek dink sy gaan sê hy het mooi bene gehad,” antwoord Pieter-Dirk met ’n vonkel in die oog, en skink nog wyn.

Lees meer oor Pieter-Dirk Uys en sy werk by www.evita.co.za

OM TE WEET:

Evita oor hul vertoning Coenie en Evita:

“Ek is baie opgewonde om uiteindelik deel van die glamour van teater en konserte te wees. Ek het altyd op ’n verhoog gesit agter oom Hasie of langs dr. Verwoerd. Ek was nog altyd ’n groot fan van Mimi Coertse, maar om so ’n jong vriend soos Coenie te hê is wonderlik – want ek dink ons gaan met Afrikaans toor! Dis eintlik lekker om te sien hoe verbaas die mense is om ons saam op ’n verhoog te sien. Ek het Freddie Mercury en Montserrat Caballé saam gesien toe hulle ‘Barcelona’ gesing het. En nou voel dit vir my ook so.”