Nadia Valvekens kom aangestap na die sitgedeelte by die Johannesburgse ateljee waar Binnelanders geskiet word. Natuurlik in haar donkerblou verpleegsteruniform, want as Pippa (Venter) is dít hoe ons haar die afgelope dertien jaar leer ken het.

Maar daar’s ’n opwinding in die lug wanneer sy groet, want Nadia hang nou dié uniform op. Sy maak einde vandeesmaand klaar by dié gewilde sepie, wat sy 3 000ste episode op 14 Mei vier, en kykers sal teen einde Augustus weet hoe Pippa uit die storie uit gaan. Gaan sy die uniform hou as aandenking? “Nee, hy bly nét hier,” lag sy. “Dertien jaar in dieselfde klere is genoeg, dankie!”

Jy kan skaars glo dis al só lank wat die sepie kykers aand ná aand vasgenael hou, en dat Nadia boonop een van die eerste karakters was. “Dis net nog ek en oom Hans [Strydom, wat die rol van At Koster vertolk] wat hier oor is van die eerste klomp karakters. Dit was ’n goeie innings!”

Die tyd het aangebreek om nuwe uitdagings aan te pak, sê sy. “Dit was maar ’n gesamentlike besluit tussen my en die vervaardigers. Hulle het gevoel hulle kan nie meer vir my karakter skryf nie, en ek het gevoel ek kan dit ook nie vir nog vyf jaar doen nie. Hoe lank kan jy nou een karakter speel, en hoe lank kan jy stories vir daardie karakter uitdink?”

foto’s Marijke Willems konsep en stilering Fanie Cronjé grimering alex botha met dermalogica hare karen van wyngaard Swart trui H&M, broek Nicci Boutique, sandale Nadia se eie

Sy onthou haar eerste dag op stel as Pippa nog soos gister. Sy tel haar bene op die houtbankie waarop sy sit, druk haar knieë teen haar bors vas en dink terug – ’n groot glimlag op haar gesig.

“Gys de Villiers [wat destyds die rol van die sjarmante ortopediese chirurg Zieg Combrink gespeel het] was een van my helde. Ek het hom as kind op die verhoog gesien en dit was my aha!-oomblik, die dag dat ek besef het dís wat ek met my lewe wil doen. En hier is ek toe – eerste episode, eerste toneel, groot oë – saam met hom. My hart het só vinnig geklop! As ek nou terugdink, was ek nog baie nat agter die ore, met sterretjies in my oë.”

En nou is sý weer een van die meer ervare spelers wat die nuwe akteurs op die sepie se stel waarskynlik só laat voel. “Nie in my wildste drome sou ek toe gedink het ek sou dertien jaar hier wees nie. In die begin was dit ook net ’n reeks, voor dit ’n sepie geword het. Jy skrik nogal as iemand jou vertel hulle het Binnelanders van die begin af gekyk, toe hulle twaalf was. Dan besef jy, oh my goodness, ek is regtig so oud. Ek was langer hier as wat my skoolloopbaan lank was!”

Sy dink al ’n ruk lank daaraan om te gaan, maar het laas jaar al haar dinge in plek begin kry. “Ek het saam met ’n stemmaatskappy begin werk en gaan nou korporatiewe stemopleiding doen. Ek gaan mense help met tegnieke om hul stem beter te gebruik; dinge soos asemhaling, hoe jy angstigheid op ’n verhoog hanteer en hoe jy jou diafragma gebruik.”

foto’s Marijke Willems konsep en stilering Fanie Cronjé grimering alex botha met dermalogica hare karen van wyngaard Broek en baadjie Tiger of Sweden, skoene Spitz

Maar sy beplan beslis nie om op te hou toneelspeel nie. “Ek sal vir seker meer teater wil doen. Ek was nou lank in een boks en ek het eintlik bang geword ek gaan my liefde vir toneelspel verloor. Toe besluit ek ek moet weer my wortels vind, want my eerste liefde is teater. En daar kry ek toe, lo and behold, verlede jaar ’n rol in Hartklop, ’n stuk wat handel oor liefde oor die kleurgrens, saam met Christo Davids. Dit was my eerste teaterstuk in omtrent sewe jaar en ek was ’n bietjie benoud om weer op ’n verhoog te klim. Maar toe is dit soos fietsry. En dit was so verfrissend om iets anders te doen en daai kreatiewe spiere op ’n ander manier te gebruik.”

Haar passie is egter om stories te vertel. “Enige medium is vir my lekker, so watter vorm van spel ook al oor my pad kom, yippee ki-yay, kom ons doen dit. Teater is nie ál wat ek wil doen nie en ek het nie regtig ’n voorkeur vir een medium bo ’n ander nie.”

En daar is planne om Kaap toe te trek, waar haar kêrel, die akteur Ivan Zimmerman, en baie van haar vriende deesdae woon. “Ek wou eintlik al lankal Kaap toe. Ek dink die lewensgehalte is beter daar as in Johannesburg, buiten natuurlik die waterkrisis op die oomblik. Die besige energie in Johannesburg is lekker, maar ek is nou al sestien jaar hier, en soms kan dit uitmergelend wees om net altyd te gaan, gaan, gaan. Dáár kan ek langs die see draf en berge uitklim, en dit kos jou niks om hierdie mooi, sielsvoedende dinge te doen nie. Ek is nou 36 en ek beplan glad nie om op ’n bank te gaan lê nie, maar die rustiger leefstyl begin al hoe meer met my praat.

“Maar dit sal nie dadelik wees nie. Ek en Ivan is nou so drie jaar saam en doen die afgelope jaar al die langafstandding, so dis nog hanteerbaar vir nou. Eers wil ek aan my stemopleiding werk.”

foto’s Marijke Willems konsep en stilering Fanie Cronjé grimering alex botha met dermalogica hare karen van wyngaard Silwer rok Burberry

Met soveel nuwe dinge wat vir haar voorlê, sou jy dink sy moet tog ’n bietjie angstig voel tydens haar laaste dae op stel. Maar Nadia skud haar kop – ’n uitdruklike “nee”. “Dis net tyd. Dit voel reg, my gut voel reg.

Dis lekker om met so ’n gevoel hier te kan weggaan. En ek’s positief en dankbaar vir al die goeie ervarings. Al die dinge wat ek geleer het, die dissipline en die vermoë om baie vinnig op jou voete te kan dink, soos wanneer jy moet huil op kamera al is jy self in ’n vrolike bui. Hulle sê dit vat 10 000 uur om iets te bemeester en Binnelanders het my ’n platform gegee om dit te doen. Ek’s nou die beste Pippa in die wêreld!” lag sy.

“En daar was wonderlike, uitdagende stories om te vertel. Die grootste uitdaging was seker toe Pippa hondsdolheid gekry het. Ek moes baie navorsing doen oor die simptome en die tonele was baie fisiek – ek moes myself uit die bed gooi, spasmas kry.

“Dan was daar ook soveel voorregte en geleenthede. Ek het saam met mense soos Patrick Mynhardt, Dawid Minnaar, Tobie Cronjé, Anna-Mart van der Merwe, Paul du Toit en Erik Holm gewerk – al my helde, en wonderlike mense!”

Tog was dit nie sonder sy uitdagings nie. “Dis moeilik, soms, om in ’n sepie te speel, want daar is nie afdae nie. Ek het familielede verloor in die tyd wat ek hier was en dan moet jy aangaan – jy word teruggeroep ná ’n begrafnis, jy moet jouself bymekaarkry en kom skiet. Dié soort dinge was uitdagend. Jy kan ook nie afneem wanneer jy siek is nie. Ek het jare terug longvliesontsteking gehad en steeds kom werk, al wou die dokter my in die hospitaal opneem.”

Maar dís ook nie iets wat buite Binnelanders gaan verander nie. Want as jou gesig die ster van ’n vertoning is, is daar net een mens wat die werk kan doen. “Dis hoekom ek so bly is ek is lief vir my werk,” knik sy haar kop. “Ek het elke jaar wat ek by Binnelanders was, buiten een jaar, ook ander projekte gedoen – kortfilms, teaterstukke, advertensies, motiveringspraatjies. Soms sal ek dan die hele dag hier op stel wees, en saans gaan repeteer of optree. Dis uitputtend, maar ek was nooit móég nie, en daar’s ’n verskil. En dís net moontlik deur passie.”

foto’s Marijke Willems konsep en stilering Fanie Cronjé grimering alex botha met dermalogica hare karen van wyngaard Silwer rok Burberry

Nou is sy veral bly oor die ekstra projekte, want daar bestaan altyd die gevaar dat mense jou té veel met een karakter vereenselwig. 

“Kyk, daar is seker mense wat my as Pippa sien, en my nog ’n ruk lank so sal sien, maar ek dink nie dit sal my altyd agtervolg nie. Ek het darem ander rolle gespeel, so ek was ook nie nét Pippa nie. As aanhangers my deesdae kom groet, noem hulle my nie sommer Pippa nie, maar Nadia. Daar is nog hier en daar ’n ouer tannie wat dink ek is régtig die karakter, maar hulle is in die minderheid. Eindelik gaan mense eenvoudig vergeet ek het haar gespeel.”

Pippa het tog ook ’n groot impak op die Afrikaanse kultuurlandskap gemaak, sê sy. “Dis eintlik vir my ongelooflik. Mense het deur die jare by feeste byvoorbeeld kom vertel hulle het hul hond of papegaai Pippa genoem. En vir ’n lang tyd was haar fonteintjie-hare, waar haar poniestert met ’n knip vasgemaak is sodat dit so ’n waaier van hare maak, deur hoeveel jong meisies nageaap.”

Die kort pixie-kapsel wat sy deesdae het, in ’n kantpaadjie gekam met so ’n skewe kuif wat oor haar voorkop hang, is net so gewild. En haar SARIE-voorblaaie is altyd van die beste verkopers. “Sjoe, dit laat my baie gevlei voel! Hoe nice is dit nie om te weet mense stel in jou belang nie!”

En nou het sy die geleentheid om elders ’n gevolg op te bou. “As jy my jare terug vertel het ek sal korporatiewe werk doen, sou ek dit nie geglo het nie. Maar dis iewers waar ek voel ek kan ’n verskil maak. Ek het vir lank hier bygedra en stories vertel wat dalk iewers ’n impak gemaak het, en nou voel ek dis tyd om elders te groei en daar ’n bydrae te lewer.”

Kommunikasie het vir haar ’n passie begin word die laaste paar jaar. “Dalk is dit omdat ek begin sien het watter groot invloed die sosiale media op ons het. Dit het kommunikasie begin verander, mense connect nie meer nie en luister nie meer nie. Alles gebeur ook so vinnig en ons word als gevoer, ons dink nie meer vir onsself nie. Dit kan gevaarlik wees – dit skep hierdie perfekte prentjie van hoe jy moet lyk, hoe jy jou lewe moet leef. Dié dat ek mense wil help om weer regtig te kommunikeer, en dit góéd te doen.”

Maar wie weet, sê sy, dalk lê daar ook ander nuwighede vir haar voor. “Ek geniet dit om in Afrikaans te werk en ek dink ek druk myself goed daarin uit, maar ek het nie ’n voorkeur vir ’n spesifieke taal waarin ek wil werk nie. Ek het eintlik die laaste paar jaar heelwat in Engels gewerk. En as ek ’n geleentheid kry om oorsee te werk, hoekom nie? Ek sal nie noodwendig wil trek nie, maar ek is ’n baie positiewe mens en ek gryp geleenthede aan soos dit oor my pad kom. En, tot dusver, het ek die vrugte van daardie lewensbenadering gepluk. Dalk sal ek selfs nog ’n draai hier en daar by Binnelanders kom maak – wie weet!”

Pippa is dalk vir eers klaar, maar Nadia beslis nie! 

foto’s Marijke Willems konsep en stilering Fanie Cronjé grimering alex botha met dermalogica hare karen van wyngaard Swart kanttop Wizards Vintage, romp en geel top H&M
foto’s Marijke Willems konsep en stilering Fanie Cronjé grimering alex botha met dermalogica hare karen van wyngaard Swart kanttop Wizards Vintage, romp en geel top H&M
foto’s Marijke Willems konsep en stilering Fanie Cronjé grimering alex botha met dermalogica hare karen van wyngaard Swart kanttop Wizards Vintage, romp en geel top H&M
foto’s Marijke Willems konsep en stilering Fanie Cronjé grimering alex botha met dermalogica hare karen van wyngaard Swart kanttop Wizards Vintage, romp en geel top H&M