Op die rugbyveld is hy ’n rots van manlikheid: sterk en mededingend. Maar wanneer hy Schalk jr. (22 maande) of die pasgebore Nicol vashou, sien jy ’n pa met ’n sagte hart. 

Klein Nicol is einde Maart gebore. Was jy gereed vir pajamadril? 

Noudat ek weer begin rugby speel het, is ek minder tuis as met die eerste enetjie... Miskien is dit ’n blessing in disguise!

Wat is jou kosbaarste oomblik as pa? 

Die kere wat ons mekaar laat lag.

Wat het jy by jou pa [ook Schalk] geleer wat jy aan hulle gaan oordra? 

’n Lus vir die lewe en ’n goeie humorsin.

Wat wil jy graag saam met jou seuns doen?

’n Ronde gholf speel.

Is dissipline en roetine tuis vir jou net so belangrik soos op die rugbyveld? 

Beslis. Schalk het gelukkig van die begin af van slaap gehou, nes sy ouers.

Jy is min tuis. Hoe maak jy seker jy mis niks? 

Ek Skype, maak video-oproepe, WhatsApp en BBM. Dis nie ideaal nie, maar ek maak seker ek sien elke dag hul gesiggies.

FOTO: Willem Lourens FOTO: Willem Lourens

Jou grootste uitdaging as pa? 

Ek woon baie gesellighede vir werk by en is dag en nag besig. In die ou dae het my vrou, Michele, saamgekom. Nou gaan ek meestal op my eie.

Wat wil jy graag vir jou kinders leer? 

Nederigheid en liefdadigheid.

Wat wil jy vir Vadersdag hê? 

’n Groot druk en soen van my vrou en laaities.

Wat is die een eienskap van klein Schalk wat jy graag wil hê? 

Hy is vreesloos.

Grootste verleentheid as pa? 

Schalk het tydens ’n middagete sy doek vuilgemaak op [rugbyspeler] Jaco Taute se skoot, wat snaaks was vir my en Michele, maar minder snaaks vir Jaco.

Wat is die belangrikste les wat jy geleer het oor ouerskap? 

Elke dag hou ’n nuwe uitdaging in en elke dag is spesiaal.