Die gewilde aktrise Margit Meyer-Rödenbeck, ook bekend as Dowwe Dolla, het vir SARIE Betty word en Kaapstad se strate invaar om te probeer agterkom of mense haar anders behandel as sy nie meer mooi is nie.

Onder ons stileerspan se hande verdwyn Margit sentimeter vir sentimeter. Sy kry stewiger kuite,'n maagrolletjie, groot borste ... toe 'n donker pruik en 'n moesie. Darem nie tandedraadjies nie. Donkerder wenkbroue rond die prentjie af. En daar staan Ugly Betty!

Arme Betty. Soos haar getroue aanhangers op die TV sien, kry sy die wind van voor. Sy's slim, vasberade en meelewend en red telkens haar wêreldwyse baas, Daniel Meade, se bas wanneer sy jaloerse kollegas by die tydskrif MODE hom in die rug probeer steek. Maar sy weet glad nie hoe om stylvol aan te trek of gesofistikeerd op te tree nie. Oral waar sy in die glanswêreld van 'n modetydskrif beweeg, word sy gespot en verneder. Boonop is sy effens lomp, soos nou die dag toe sy in 'n futuristiese stoel by 'n luukse hotel neersak en met stoel en al agteroor tuimel.Tog het sy een ding: karakter!

Ek verkyk my aan die outydse klere en plat swart skoene wat Margit aanhet. Beslis nie modieus genoeg vir Kaapstad nie, wat nog van Manhatten waar Betty elke dag haar ding moet doen. "Onthou, ek's jou vaal sussie van die platteland," sê Margit voordat ons die stad aandurf.

Ons loop verby 'n restaurant en 'n man se koppie koffie stol in die lug. Langs daai vrou wil ek nie wakker word nie! staan op sy gesig. Hy kyk vinnig weg.

Ons eerste teiken is 'n groot kettingwinkel, bekend vir sy indrukwekkende grimeertoonbanke. Margit skuif-skuif 'n vetrolletjie reg en vee die lang, donker hare uit haar gesig. Sy stamp teen 'n tafel met parfuumbottels voordat sy by 'n toonbank aanmeld. Nou moet ons ernstig wees. My "vaal sussie" toets onderlae op haar hand.

"Are you okay?" vra die jong assistent simpatiek. Sy stap vriendelik om die toonbank en bekyk Betty se gesig van naby. Sy vra haar doodernstig uit oor haar "T-zone" en verduidelik als oor kleurskakerings en bevogtiging.

In nog 'n grimeerwinkel met duur produkte word ons nie gehelp nie. Iemand mooier, wat ná ons aangekom het, kry eerder die goeie diens. Ook in twee grênd boetieks word Betty geïgnoreer. Die winkelassistent praat net met my. In 'n derde boetiek verduidelik Betty sy soek 'n uitrusting vir 'n troue oor drie weke.

"In watter nommer?" vra die vrou.
"40," sê Margit.
"Nee, seker 'n 36," sê die vrou wat goeie kliënteverhoudinge handhaaf. Betty kies helder oranje: R5 000 vir 'n romp en 'n bloes!
"Wil jy dit nie aanpas nie?" vra die vrou. En ek sien al hoe val die vetrolletjies uit ...
"Ons kom later weer," sê Betty.
"Reg so, my engel."

SÓ WORD MARGIT BETTY!

Margit Meyer-Rödenbeck  Margit Meyer-Rödenbeck as Ugly Betty

Die vetrolletjies...

  So, ja!

So is dit gedoen!

Betty stap alleen 'n skoenwinkel binne. Sy tel 'n skoen of twee op en kyk bewonderend daarna. Maar niemand kom vra of hulle kan help nie. Voor 'n juwelierswinkel staan 'n man deur die ruit na juwele en kyk. Betty skuif langs hom in. Hoe nader sy skuif, hoe verder skuif hy weg. Dan verdwyn hy en die winkel is 'n kliënt kwyt.

Die ouer assistent hou dadelik op met werk en staar lank bo-oor haar bril deur die ruit na Betty. Afkeurend. Maar toe Betty die winkel binnekom, help sy haar vriendelik. Sy praat hogere Engels, vra Betty in watter prysklas sy belang stel en bied toe vriendelik afslag aan.

Dis tyd om na 'n ander deel van Kaapstad te beweeg.

Ja-nee, skoonheid gaan oor meer as voorkoms. Persoonlikheid, houding en talent tel. "Mense lees in tydskrifte oor sterre en sien hoe Britney Spears en Lindsay Lohan se kuiers hand uitruk en dat Owen Wilson selfmoord probeer pleeg het. Dit dui op ongelukkigheid. Niemand wil meer hulle wees nie," sê Lindsay Shuttleworth, hoof van Topco Models in Kaapstad.

Ons het 'n R100-noot vir parkering, maar die masjien aanvaar net R50. Ek vra 'n jong man vir twee vyftigs. Hy het nie, maar toe hy vir Betty sien, géé hy ons die R12! "My good deed of the day," sê hy vriendelik.

In 'n boek-en-skryfbehoeftewinkel sien 'n man met 'n mandjie Betty aankom. Hy swenk weg. Seker bang sy stamp aan hom. Betty gaan staan langs 'n ander man wat 'n tydskrif-vir-mans lees. Sy liggaamsruimte deel hy nie met haar nie: Hy verdwyn. Dis al laat en ons vra 'n sekerheidswag vir 'n lekker upmarket eetplek. Hy gee Betty een kyk en beduie ons na 'n wegneemeetplek met hamburgers en tjips.

Ons vind self iets beters. Betty mag nie saam kleedkamer toe kom nie, netnou verloor sy haar vetrolletjies. Twee vroue van net oor die 20 staar van anderkant af na ons ... en skinder. Ná ete gee Margit oor en gaan kleedkamer toe. Met die terugkeer sê sy: "My sitvlak is in my sak!"

Café latte sal dit seker wees? vra die vriendelike kelnerin vir Betty. Daar's dik room bo-op ... Ek kry tee. Net voor ons vertrek, kom sê die kelnerin: "What lovely ladies the two of you are!"

WORD SÓ AANTREKLIKER

Kyk na binne  
"Ons kultuur het uit voeling geraak met die goddelike. Kyk na binne," sê Elena Ilieva, sielkundige van Kaapstad. Sodra jy jouself aanvaar, met jou besondere eienskappe, sal jy positiewe energie uitstraal en sál ander jou aantreklik vind. (Terapie kan jou hiermee help.)

Vind ook jou eie innerlike skoonheid.
Dit sal tot kreatiwiteit, passie en energie lei.

Ontwikkel jou talente
Probeer sukses behaal, soos in jou werk, stokperdjie of sport. Kry so erkenning en selfvertroue. Jou selfwaarde sal verbeter en jy sal 'n sterker karakter ontwikkel. Dan hoef jy nie verskonend te leef nie.

Tree anders op Gordon Wainwright, skrywer van Teach Yourself Body Language, sê jy kan jou aantreklikheid verhoog deur goeie oogkontak te maak, energiek op te tree, kleurryk en mooi aan te trek en goed na ander mense te luister. 'n Mooi regop houding en 'n glimlag tel ook.

Verwerp 'n slagoffermentaliteit
Moenie verdedigend optree of soos 'n slagoffer dink nie.

Dalk plastiese chirurgie?
Dr. Christie Smit, plastiese chirurg by die Panorama Medi-Clinic buite Kaapstad, sê mense wat om die régte redes plastiese chirurgie gehad het (al is dit kleiner prosedures), het dikwels 'n verbeterde selfbeeld en kom ook meer selfversekerd voor. Wanneer jy goed lyk, voel jy goed en het jy makliker 'n positiewe uitkyk.

Verbeter jou stemtoon
Jou stem moet by jou (nuwe) liggaamshouding pas, sê Adrian Stevens, takbestuurder van The Voice Clinic in Kaapstad. "Mense besluit ná die eerste 15 sekondes of hulle verder na jou gaan luister," sê hy.


DAAR WAS MEDEMENSLIKHEID TEENOOR ONSE BETTY, MAAR OOK DISKRIMINASIE...

Want dis ongelukkig waar dat jy soms aan die kortste ent trek as jy onaantreklik is, sê kenners.

"Dis 'n feit dat aantreklike mense deur ander bewonder en oor die algemeen veel beter as gewone sterflinge behandel word," sê dr. Heather Jones Petersen, kliniese sielkundige van Johannesburg.

"Ons wil met mooi mense assosieer, omdat ons in die 'wenspan' wil wees. Die mooies kry immers meer aandag en het daarom meer mag." Dis die onaantreklikes wat van jongs af onregverdig behandel word. Op skool word hulle die teiken van boelies. En selfs 'n pa trek soms die mooier dogter voor. Ons siening van skoonheid word beïnvloed deur die mooi mense in advertensies en op televisie, maar dis ook aangebore. En ons kinderjare speel 'n rol in die voorkoms wat ons verkies.

Volgens 'n nuwe studie aan die Durham-universiteit in Engeland is vroue meer geneig om 'n man te kies wat na hul pa trek as hulle in hul kinderjare 'n goeie verhouding met hom gehad het. Net so is in 'n vroeëre studie bevind mans is meer geneig om 'n vrou te kies wat na hul ma lyk as hulle kleintyd 'n goeie verhouding met haar gehad het. (www.newscientist.com)

Verskeie studies, deur onder andere dr. Alan Slater van die Universiteit van Exeter in Brittanje, het bewys babas fokus kort ná geboorte veel langer op foto's van aantreklike gesigte as op dié van minder mooies. (www.bbc.co.uk)

Tog begin dinge stadigaan verander. "Mense kom nou in opstand teen die klem op skoonheid," sê Gayleen Baxter, hoof-koördineringsbeampte van Kelly,'n werwingsagentskap in Johannesburg.
"Dis asof geeky karakters soos Ugly Betty amper ikoonstatus bereik. Ons is moeg van perfekte, rekenaargemanipuleerde ikone en soek outentieke mense."

Soos Paul Potts. Hy is 'n selfoonverkoper wat onlangs die talentkompetisie Britain's Got Talent gewen het. Hy's effens oorgewig en het skewe tande. Maar as hy sing, klink hy nes Pavarotti. Die skare is op hul voete,'n mooi vroulike beoordelaar huil en daardie nare beoordelaar, Simon Cowell, sê in ekstase: "I certainly did not expect that!" (Kyk op www.youtube.com) Paul verkoop nie meer selfone nie. Hy's 'n ster.

Ja-nee, skoonheid gaan oor meer as voorkoms. Persoonlikheid, houding en talent tel. "Mense lees in tydskrifte oor sterre en sien hoe Britney Spears en Lindsay Lohan se kuiers hand uitruk en dat Owen Wilson selfmoord probeer pleeg het. Dit dui op ongelukkigheid. Niemand wil meer hulle wees nie," sê?Lindsay Shuttleworth, hoof van Topco Models in Kaapstad. Jong meisies wat deesdae modelle word, besef skoonheid gaan oor die hele pakket. "Hulle respekteer etiese norme en kan intelligent gesels."