Die nuus het Dinsdag gekom: Boeke-Insig (wat oorgebly het van Insig) maak toe. In die plek van die tydskrif kom ’n gereelde boeke-bylaag in Rapport (letterkunde en ontspanningslektuur) en groter boeke-dekking in Huisgenoot (meer besprekings van voorgeskrewe boeke). André le Roux het met Rapport se boeke-redakteur en bekroonde skrywer, Rachelle Greeff, hieroor gesels:


Eers Insig, nou Boeke-Insig. Hoe voel jy oor dié verdwynings?

Ek dink aan my ma in die ouetehuis en al die mense op die diep-platteland, en dan dink ek: Ai.

Wat beteken die uitbreiding van jou boekeblad en hoe voel jy daaroor?

Dis nie my boekeblad nie, die boekeblad is gebou op al die voorafgaande boekeradakteurs soos Antjie Krog, André P. Brink en al die knap medewerkers. Ek is enorm opgewonde en ’n bietjie bang. Meer opgewonde as bang.

Hoe sien jy Rapport-boekeblad as hulle vir jou sê, dè, doen nes jy wil met die blad?

Stupid vraag. Wie is hulle? Niemand sal enigiemand vrye teuels gee nie, ’n mens werk binne die raamwerk/beperkings van geld, tyd, ruimte, teikenmark.

Sal Rapport-boekeblad (en Huisgenoot) die plek van Boeke-Insig kan vol staan?

Geen publikasie kan ooit ’n ander een se plek inneem of vol staan nie. Dit kan wel aanvul, uitbrei, voortbou.

Verskyn daar nie deesdae te veel boeke in Afrikaans nie?

Daar verskyn te veel boeke in die wêreld. As jy kyk na die ooraanbod van manuskripte by uitgewers voel dit asof elke Eva en elke Adam ’n boek wil skryf.

Is die alewige gestry onder skrywers en boekmense oor resensies ’n goeie of slegte ding?

“Slegte” is die verkeerde woord. Dis in mense se aard om te verskil en te stry, gelukkig. Sommige mense baklei met die tong, ander met die handsak, ander met die pen, en die boekewêreld gebruik soms al drie.

Watter boek(e) lê op die oomblik op jou bedkassie?

Ek het nie ’n bedkassie nie. Kruiwavragte boeke! SA kookboek vir diabete en insulienweerstandigheid 1 deur Hilda Lategan, nie omdat ek ’n diabeet is nie, maar omdat ek ’n nuwe volgraan-hoëvesel-beskuitresep soek. Karen Armstrong se Buddha, die Kanadees, Anne Carson se Decreation, gedigte, essays en ’n opera. Wat ’n skrywer! ’n Mens voel soos ’n barbaar as jy jou eie skrywe met hare vergelyk!

* Klik deur vir SARIE se boeke-nuus