Vier woorde: “Mamma, ek is gay.” So het die Jacaranda FM-omroeper Renaldo Schwarp op 18 teenoor sy ma oopgemaak. ’n Dekade later laat sy dokkie Skeef die kollig val op die LGBTQ-gemeenskap in SA.

Hoekom het jy besluit om ’n dokumentêre program soos Skeef te maak?

Dit was ’n passie-projek. Skeef* plaas die kollig op verskeie kwessies waarmee ek lank moes worstel. Ek het aan die einde van 2018 besef dat dit kwessies is waarmee baie ander ook sukkel. Daarom wou ek my platforms gebruik om oor geloof, liefde en die Afrikaner-identiteit in die LGBT-gemeenskap te gesels. Ek wou gay-wees in Afrikaans normaliseer.

Was jy aanvanklik huiwerig?

Ja, want dit gaan oor my eie struikelblokke. Daar’s ’n unspoken rule: Mense wat in die kollig is, moenie oor hul seksualiteit praat nie, veral as jy in Afrikaans werk – dit kan mense afskrik en jy kan daarna selfs moeilik werk kry. Ek was onseker oor hoe dit ontvang sou word. Maar ek is tevrede, dit het baie persoonlike wonde genees.

Hoe is jou verhouding met jou ouers nou?

Skeef het dit oukei gemaak om met my ouers oor my ervarings as ’n jong, gay Afrikaner te gesels. Ek het nog altyd ’n goeie verhouding met my ouers gehad. Maar ek was nie altyd gemaklik om met hulle oor daardie deel van my lewe te gesels nie. Ons praat nou gereeld en die “ongemak” is weg.

Watter raad het jy vir ouers wie se kinders “uitkom”?

Luister. Dit gaan oor jou kind – sy of hy het die moed bymekaar geskraap om weerloos teenoor jou te wees. Moenie dink dat jy iets verkeerds gedoen het of bekommerd raak oor wat ander mense gaan dink nie. Al wat nou saak maak, is dat jy daar is vir jou kind.

Hoe voel jy oor Afrikaans?

Afrikaans is die taal waarin ek droom, werk, lag, kos maak en liefhet. Ek’s bevoorreg om in my moedertaal te kan werk.

FOTO Rizqua Barnes

Het jy nog hoop vir Suid-Afrika en glo jy in #ImStaying?

Ek het in Centurion grootgeword, is trots Suid-Afrikaans en mal oor hierdie land. Ja, ons het struikelblokke. Maar ons is ’n veerkragtige nasie en ek glo dat ons al hierdie probleme kán en sál oorkom. En dis vir my fantasties om te sien dat ander mense ook besluit om te bly en saam SA se probleme probeer oplos.

Jy is ’n radio-omroeper en deel van Jacaranda FM. Waar kom jou liefde vir radio vandaan?

Ek was van kindsbeen af mal oor musiek en gesels. Ek onthou hoe ek tot laataand voor die radio gesit en dan in die spieël saam gepraat het. My passie was nog altyd mense en om hul stories te vertel.

Jy het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Mis jy soms die verhoog?

Ek spot gereeld oor wanneer my groot 7de Laan-debuut sal plaasvind. Maar ek dink die mediagogga het my behoorlik gebyt toe ek op universiteit by [die studenteradiostasie] MFM op Stellenbosch begin het. Ek’s mal oor die feit dat ek myself kan wees en daardeur mense bymekaar kan bring. Maar alles is moontlik.Wie weet? Ek keer dalk eendag terug na die verhoog.

Februarie is die maand van liefde. Wat is jou gunsteling-liedjie oor liefde?

Waar begin ek! Ironies genoeg is ek mal oor liefdesliedjies – en ek’s single! Ek luister graag na Whitney Houston. Maar die Afrikaanse sangeres Tarryn Lamb en haar musiek het behoorlik in my hart gekruip. My gunsteling? Haar treffer “Geheueverlies”.

Jy kan met enige drie bekendes ’n onderhoud voer. Wie sou dit wees en hoekom?

Ek het al met ’n string van my gunsteling-ikone onderhoude gevoer, dis sekerlik die lekkerste deel van my werk op die kassie en radio. Ek is mal oor [die radio-persoonlikheid] Ryan Seacrest, sy werksetiek is aansteeklik en sy energie is ongelooflik; Meghan Markle, haar lewe het onherroeplik verander nadat sy ’n koninklike geword het. Ek wil weet hoe hanteer sy al die openbare kritiek. En Michelle Obama, sy is ikonies.

Wat is die een les wat jy by jou ouers geleer het?

Om elke mens met dieselfde respek te hanteer en vriendelik te wees. Jy weet nooit waardeur iemand anders gaan nie, ’n glimlag en ’n vriendelike groet kan iemand se dag verander.

Wat lê voor vir die res van 2020?

Ek was in 2019 bevoorreg om projekte aan te pak waaroor ek passievol is, en 2020 gaan weer so ’n geleentheid bied. Ek en my span is besig met ’n tweede aflewering van Skeef. Later vanjaar is ek betrokke by ’n nuwe Afrikaanse TV-projek, nie net as aanbieder nie, maar ook as medevervaardiger. Ek wil ook graag meer reis. New York is eerste op my lys! Ek’s mal oor die stad, oor Broadway, die naglewe en al die kuierplekke.

* Skeef is by die 2019-Silwerskermfees vertoon. Dit is in vier episodes op Netwerk24 te sien.