Renske Jacobs is een van die bekendste stemme op RSG en werk in September al vyf jaar by dié radiostasie. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor vuurdans, bewonderaarspos en die middernag-skof . . .

Watter programme bied jy weekliks aan en wat geniet jy die meeste?
Daagliks van 18:00 tot middernag doen ek kontinuïteit - die nuusbulletins en weer. Die Sondag-middernagskof van 12 tot vyfuur in die oggend is baie gewild. Die eerste uur is spookstories! Dan volg die bespreking van 'n ligte onderwerp en mense kan hul menings lug. Tussen vier en vyf speel ek rusgtige musiek. Dis veral gewild onder vragmotorbestuurders of ander mense wat nie kan slaap nie en in die donkerste tye van die nag alleen is en geselskap soek. Ek is ook mal oor die kinderprogram Poen en Toekie van Maandae tot Saterdae saans, net ná die 19:00 nuus, wat ek saam met Christelle Webb-Joubert aanbied.

Jy bied ook TV aan. Verkies jy radio bó TV?
Ek doen ankeraanbieding en oorklanking vir kykNET se Tuine en Tossels, wat ek baie geniet. Maar die lekkerte van radio is dat jy jou nie hoef te bekommer oor hoe jy lyk nie! Radio is ook 'n baie persoonlike medium. Jy kom tot ín 'n ou se slaapkamer. Jy bereik dus die donkerste dele van sy siel en dís 'n groot verantwoordelikheid.

Ene ''Koosie Doosie'' van Ontario, Kanada, laat hoor op YOUTUBE hy is 'n groot bewonderaar van jou: ''My only love, Renske Jacobs, you captured my love the first time I heard your voice on RSG''. Kry jy baie reaksie soos dié?
Ek kry soos almal nogal bewonderaarspos. Korrespondensie is my swak punt. Party mense wil gesels en selfs penvriende wees. Dis onmoontlik. Ek waardeer dit. Ek kry hope e-pos. Omdat mense nie direk met jou praat nie, kry jy ook soms harde kritiek. Mense vertel jou jou uitspraak is verkeerd, jou styl van aanbieding staan hulle nie aan nie, hulle het 'n probleem met jou stemgehalte. Maar jy is in die grootmenswêreld en moet leer om dit van jou te laat afrol. Die meeste mense is dierbaar en neem jou aan as dogter. Omdat so baie mense in die nag swaarkry, is jy hul lewenslyn, veral met die middernagskof.

Wat is die eienskappe van 'n goeie radio-aanbieder?
Onopgesmuktheid. En moenie te veel oor jouself praat nie. Jy is immers daar om die radiostasie te verteenwoordig. En nederigheid help ook.

Jy is 'n vuurdanser in jou vrye tyd. Hoekom?
Ek doen dit nou baie minder, maar toe ek vryskut gewerk het, het dit my beursie help aanvul. Ek het jare gelede op die internet hieroor gelees en ook op die club scene daarvan te hore gekom en toe het ek en 'n paar maats dit begin doen. Jy eksperimenteer maar en bly nuwe passies uittoets. Ons het professioneel opgetree by bekendstellings, verjaarsdagpartytjies, gigs. Dis gevaarlik. Jy speel letterlik met vuur en moet al die passies voor die tyd eers met tennisballe oefen. Hand-oog-koördinasie en fokus is baie belangrik. Dis ontvlugting. Terwyl jy dit doen, is jy in jou eie wêreld.

Wat wou jy geword het as klein dogtertjie?
Verpleegster en lugwaardin toe ek baie klein was. Maar toe ek behoorlik kon dink, het die vermaaklikheidswêreld geroep. Ek kom uit 'n dramahuis. My pa is in die radiobedryf en my ma 'n drama-onderwyseres. Ek glo elke ou is vir 'n spesifieke doel op aarde en ek het hiervoor aarde toe gekom. Ek het drama aan die Technikon Pretoria studeer.