Ja, teen dié tyd sou Haas Das, met masker en al, sy Diereland-kykers aangemoedig het om die pandemie met hand en tand te beveg. “Maar hy sou die pandemie heimlik verwens het, want met die masker oor sy bakkies sou die aantreklike Stokkina Meerkat nie sy hele gesig kon bewonder nie ... en sy was immers smoorverlief op hom,” skerts Riaan. 

En sou hy iets vlymskerps te sê gehad het oor Trump en al sy manewales? “Haas Das het nooit kommentaar gelewer oor mense in Menseland nie. Daarvoor was hy darem té ordentlik!”

Tydens die inperking het Riaan “sinvol besig gebly”. “Ek het talle boeke gelees waarvoor ek vroeër nooit tyd gehad het nie en my eie administrasie tuis opgeruim en in orde gekry,” vertel hy.

“Ek het ook tyd ingeruim om met ou vriende en kennisse in verbinding te tree en te hoor hoe dit met hulle gaan en hoe hulle die grendeltyd beleef en hanteer. Daar was weer tyd om te gesels, hetsy per telefoonoproep, e-pos- of teksboodskappe.”

FOTO Verskaf

Wanneer daar ’n nuwe normaal aanbreek, gaan Riaan weer dankbaar wees om in ons eie land te reis.

“Ek sal die mooi, aangename en goeie dinge in die lewe eindeloos meer waardeer, want die pandemie het getoon hoe ontsettend feilbaar en tydelik alles om ons is – en dat die mens nie in beheer van alles is nie.”

Hy reken in dié tyd sou Blommeland en Diereland hande gevat het. “Koning Rosekrans sou as die staatshoof van Diereland gesorg het dat hy die perfekte voorbeeld van wetsgehoorsaamheid stel. Hy sou toegesien het dat al die diere in hul neste, gate en ander skuilplekke bly, hul pote getrou was, en hul maskers dra wanneer hulle werklik genoodsaak is om uit te gaan.”

En moenie van Diereland se polisiehoof, ou Valk, vergeet nie. “Hy sou ’n wakende oog gehou het om te verseker dat al die burgers van die diereryk met waardigheid en respek deur die wetstoepassers behandel word.”

Sedert die sestigerjare was Riaan en wyle Verna Vels kollegas by die SAUK se Afrikaanse Radiodiens en hulle het dikwels saamgewerk aan verskeie produksies. “Sy het gevoel dat my stem geskik sou wees vir koning Rosekrans op televisie, en so het ek by Liewe Heksie betrokke geraak. Omdat ek ook ’n radio-akteur was, het sy gevra dat ek sommer ook die stemme van die twee Gifappeltjies, Kerrie en Borrie, doen.”

Wat Haas Das betref, was sy betrokkenheid te danke aan ’n grap wat hy eendag in die SAUK se TV-kantien vir Louise Smit en Annie Basson vertel het.

“Ek moes ’n snaakse stemmetjie vir die grap se trefreël produseer, en toe vlieg Louise op en juig: ‘Dis my haas! Dis my haas!’ Sy het toe reeds talle akteurs getoets vir haar beplande reeks kinderprogramme, maar ek was die eerste een wat die stem kon lewer waarna sy gesoek het – en dít heel per toeval!”  

Hy sal nooit die pret vergeet wat saam met al hierdie opnames gepaard gegaan het nie.

“Om saam met my ou vriendin Monica Breed (nou 97 jaar oud) te kon werk wat Piet Muis se stem gedoen het, was ’n groot voorreg. Haar heerlike humorsin het ons gereeld aan die skater gehad.”  

Kyk hierdie uittreksel uit ’n episode van Haas Das se Nuuskas: