Die moeite werd, haar eerste sekulêre album (sy is eintlik bekend vir gospel), is einde verlede jaar en onder die top-5 beste verkopers in die land. Dit het reeds byna 40 000 verkoop en is sterk op pad na platinum-status!

Sy is pas vir 5 Ghoema-toekennings benoem. Die Afrikaanse musiekbedryf vereer op 11 Maart sy uitblinkers met Ghoema-pryse by Carnival City in Brakpan. En sy is boonop nr. 1 op DKNT se musiekprogram op kykNET (Saterdagaande om 20:00).

"Ek het die veertien liedjies op my nuwe album self geskryf. Daar kom ’n bonus-musiekvideo van die liedjie 'Dans' saam met die CD. Die video is geskiet deur Paul Kruger van (die rolprent) Liefling-faam," het sy gesê.

"Daar's 'n liedjie vir elke emosie. Ek glo in dié album en dink dit bereik baie mense. Dis lekker om te sien mense geniet dit saam met my. Ek kommunikeer deur musiek. Almal praat verskillende tale, maar almal verstaan die taal van musiek. Dit oorbrug alle verskille. Dis ’n vreugde om dié talent van God te gebruik."

Sy het verlede week haar núwe musiek-video verfilm saam met die slot Flip van der Merwe, wat al vir die Blou Bulle, Cheetahs en Springbokke gespeel het.

"Hy is 'n boerseun, perfek vir die rol. Spontaan, aantreklik, vriendelik, opreg. Ons het groot pret gehad met die video so tussen die beeste en bakkies en ons het geëindig by 'n skuurdans waar ons saam met die Coleske-broers opgetree het. Hulle is gaskunstenaars op die album. Dit was ’n romantiese einde, en ek is mal oor happy endings. Ek en Flip het 'Soos die son' saam gesing," vertel sy.

Riana bewonder die sangers Sheryl Crow en Taylor Swift. "Hulle skryf, sing en bespeel instrumente en inspireer my om myself te ontwikkel en getrou aan myself te bly."

Sy vertel dis veral die liefde wat haar inspireer om te sing. "My lewe sou soos 'n musical gelyk het as dit verfilm moes word. Ek sing omdat ek nie anders kán nie."

Haar musiekloopbaan het in 2000 ernstig begin toe sy as Crescendo-wenner aangewys is. In 2001 het sy 'n Geraas-toekenning as Beste Nuweling (saam met die rocker Karen Zoid) en die toekenning as Beste Gospelsanger gekry. Sy het ook al 'n Lier-toekenning vir Beste Vroulike Vokale-kunstenaar en Beste Nuwe Kunstenaar gekry.

Vir Riana is die lekkerste deel van haar beroep dat sy haar brood en botter met haar passie kan verdien. En haar grootste lewensles? "Wees altyd jouself!"

Sy kry dikwels trane in haar oë oor haar grootste kompliment tot nou toe. "My pa se woorde: 'Ek is trots op jou.' Wie kan iets meer vra?"

Riana beplan nie haar werkslewe te ver vooruit nie. "Die Here lei my. Ek stap dus dag vir dag en elke dag lyk woes anders. Dan is ons in 'n video en dan weer op die verhoog. Ander dorpe, ander mense se huise; die pret hou nooit op nie. Ek skryf ook liedjies vir ander en hoop dat ek altyd kan doen waarin ek goed is. Verder is daar vir seker 'n oorsese reis of twee in my beplanning..."

En haar grootste droom is om Nashville toe te gaan en 'n egte tornado te sien. Wie weet, dalk veróórsaak haar stem 'n tornado of twee daar...