EK HOOP

Ek het áltyd hoop. Jy moet net jou antennas uitsteek vir wonderwerke en in eenvoud na die lewe kyk. Daar gebeur daagliks fantastiese goed. Ek glo in die wet van ekwilibrium. Daar is laagtepunte, maar die hoogtepunte sal weer kom.

want ek weet as ons net wyer kan kyk as ons eie klein kokon, sal die groter prentjie vir ons perspektief gee.

dat ek met die saamstel van die bundel plaasstories, Die melkweg het ’n ster laat val, so ’n bietjie kon help om iets van die ongelooflike aardse talent van onontdekte skrywers te ontgin.

op ’n kleinkind! My seuns wil niks weet nie, maar ek hoop hy of sy kom gou mét daardie wonderlike fantasievermoë wat kinders het.

EK IS BANG

nee, ek is nie ’n bang mens nie. Bloot prakties. Ek het op ’n plaas grootgeword, met formidabele vroue soos my ouma Willemien. Daar was nie iets soos jy is te jonk of te broos of ’n vrou en daarom kan jy nie. As iets na jou kant toe kom, hanteer jy dit. Ek het gereis, van Suid-Amerika tot in die Oosblok, sonder geld en sonder vrees. Dalk ook maar domonnosel.

die gehalte van lewe in ons land kry nie genoeg aandag nie, ons het nie genoeg respek vir die menslike vorm van lewe nie. By die dokter kry ek vier meisies, elk met ’n baba in die
arms. Die jongste is 14. Ek kom agter hulle kry babas nie nét vir die finansiële voordeel nie, maar ook vanweë die respek wat dit bring. Sy is nie meer ’n nikswerd kind nie, sy is ’n ma met ’n kind, en dus behandel die gemeenskap haar met respek. Maar jy kan mos nie net nóg kinders hê nie . . . wat van die waarde van lewe?

kinders lees te min. My hart krimp ineen as ’n gr. 6-kind nie kán nie. Ek en Suzette Kotzé-Myburgh het pas die Die nuwe kinderverseboek saamgestel, wat in 2008 verskyn,
moderne versies kompleet met rekenaarmuise en aliens. Poësie kry kinders aan die lees.

WAT EK NOU WEET

Jy weet nooit wanneer die groot liefde jou tref nie. Dit kan jou enige tyd verras - al is jy hoe onafhanklik en oortuig dat jy nie ’n man nodig het nie. Ek was totaal onvoorbereid. Vandag, vier jaar ná ons troue, het ek my man, Johann, liewer as ooit tevore.

Baie vroue is bang vir alleenheid en droefnis. Hulle kan nie dink dat hulle eendag alleen moet leef nie. Maar jy hoef nie reddeloos te wees nie. Dis vervullend om die volle register van
jou emosies te hanteer.
Ons moet juis verdriet beleef en deurleef, want soos geluk, kan dit ’n ongewone beeldskone ervaring wees.

Ek het die moeilike pad gekies in my verhouding met mans. Ek het nooit geleer hoe om vroulikheid te gebruik as ’n wapen nie, ek het nog altyd gedink as jy slim is en jou werk doen en jou persoonlikheid uitleef, sal verhoudings werk. Dit werk nie so nie.

As jy ’n plaas koop, kry jy nie net ’n huis en grond nie, jy kry die geskiedenis, sy mense, elke liewe spinnekop en donsskimmel, die vreugde, spoke en ellende . . . Die serene prentjie van ’n plaasvrou tussen haar rose, omring deur golwende heuwels, is nie die realiteit nie. Maar ek wil dit nie anders hê nie. Ek het ’n megasprong gemaak (ook in denkwyse) van ’n stad na ’n wingerdplaas, en ek ervaar die lewe hier meer as in die stad.

As rubriek-raadgewer in ’n tydskrif kry ek weekliks tot honderd briewe. En dieselfde probleme kom pal na vore. Eerstens: Jaloesie, besitlikheid en wantroue wat katastrofale afmetings kan aanneem. Dan: Ontrouheid - as vertroue eers een maal verbreek is, vergeet maar van ’n normale verhouding. Jy kan lap, berading kry . . . maar die unieke band tussen twee geliefdes is nooit weer dieselfde nie. Derdens: Lesers wat sê hulle is gay en wil weet hoe om vir hul ouers te vertel.

Ek het te hard en ernstig gewerk toe ek student was, daar was nie kans vir speel nie. Ek moes ook ander dinge gedoen het.

Wonderwerke begin as jy nooit ophou wonder nie en begin werk.