Die pianis Rocco de Villiers, bekend vir die program Klop die Klawers op kykNET se show It takes 2 (tot Saterdag 31 Oktober by Theatre on the Bay in Kampsbaai), is besig om die wêreld op horings te neem. Hy tree van 5 tot 22 November ook daarin op by Montecasino in Johannesburg. Marguerite van Wyk het met hom gaan gesels oor al die dinge waaroor hy mál is in sy lewe . . .

Ek is mal oor . . . my Herbert Baker-huis in Johannesburg:

* My tuin, want dis inheems en het nie alewig water nodig nie.
* My groot geyser, want te danke daaraan kan ek lekker lank stort.
* My kunswerke, want hoe meer ek kyk, hoe meer wíl ek kyk.
* My kombuis, want dis klein, kompak en het alles behalwe 'n louoond (laasgenoemde moet in elke huis verban word!)
* My nuwe Ralph Lauren-lakens, want ek het dit in New York, my gunsteling-stad in die wêreld, gekoop.

Ek is mal oor . . . my nuwe show:

* My kitaarspeler, want hy het tattoos!
* Die stel, want ek gaan dit daarna op my plaas in die Vrystaat as baie groot sambreel gebruik.
* Die tango's - dit klink elke aand anders.
* Die opening van die show, want ek speel dit geblinddoek.

Ek is mal oor . . . my lewenstyl:

* My nuwe plaas in die Vrystaat, want dit gee my 'n ruskans van die stad se gemors.
* Reis, want ek sien baie, koop baie, speel baie en drink baie cocktails.
* My kar, want dis groot, swart en ruim.
* My klavier, want dis groot, swart en lank.
* My persoonlike afrigter by die gimnasium, want hy laat my beter as die meeste mans in menopouse lyk.

Ek is mal oor my lewensmaat, die kunstenaar Clive van den Berg, want:

* Hy is slim, hou van paartie, maak lekker kos, maak mooi tuin, bring vir my tee in die bed.
* Hy bestuur altyd as ek 'n hangover het.
* Hy laat my rustig voel en laat my vergeet van myself.
* Hy word glad nie beïndruk deur my famous vriende se ego's nie.
* Hy is die onselfsugtigste persoon wat ek ken.

Ek is mal oor . . . Suid-Afrikaanse kookkuns:

* Malvapoeding, want dis lekker en forseer my om aan te hou oefen by die gimnasium
* Bobotie, want ek is verslaaf aan maalvleis en blatjang.

Ek is mal oor . . . die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld:

* Casper de Vries, want hy is die snaaksste mens in Suid-Afrika.
* Sibongile Khumalo, David Kramer en Laurika Rauch - hul publisiteit gaan oor hul werk en nie hul skandale nie. Ek respekteer dit.
* kykNET, want my nuwe TV-show, Klop die Klawers, is van die meeste fun wat ek nog ooit gehad het.
* My audience - ek kan steeds nie glo hulle kom terug om na my getokkel te kom luister nie.

* Klik ook by www.roccorocco.com