Sy doen byna enigiets om ’n rol te volmaak. In Rolanda Marais se agtien jaar as aktrise was daar al baie karakters, maar hier is drie waarin sy veral haar hart en siel gewerp het.

“Ek sal gewig verloor of aansit, my hare kleur, sny – as aktrise is ek die voertuig wat die storie oordra. [Haar hare is juis kort-kort gesny en rooi gekleur vir haar onlangse rol in die fliek Die Seemeeu.] In Suid-Afrika word baie akteurs persoonlikhede. Hulle is dikwels bang oor wat aanhangers van hulle gaan dink as hulle nie hul sterstatus in stand hou nie. Dit berus op ’n soort ydelheid. Ek wil juis daarvan wegbeweeg en is om dié rede mal oor byvoorbeeld Meryl Streep en Cate Blanchett wat die ekstra myl sal loop om werklik hul karakter te probeer verstaan.”

Dis nie maklik om te kies tussen al die rolle wat sy deur die jare vertolk het nie, maar sy sonder wel drie uit:

Anna in Waterfront‘Sy is emosioneel beheers –anders as my ander karakters’

Anna, my karakter in hierdie familiedrama, ontwerp seiljagte, soos haar pa, vertolk deur Dawid Minnaar. Die kykNET-reeks, wat in Oktober begin, gaan oor die dood van ’n gesinslid wat drie susters [die ander twee vertolk deur Milan Murray en Trix Vivier] saamsnoer. Anders as baie van my donker karakters is Anna emosioneel beheers – sterk en stoïsyns. Sy is ’n corporate en keer uit Londen terug ná die sterfte in die gesin. Ek hou van haar. Sy het soveel mure om haar gebou om haarself te beskerm, wat my baie bied om mee te werk. Sy is ’n ongetroude ma. Die pa van haar kind word deur Stian Bam vertolk. Die groep akteurs wat saam met my speel, het ’n goeie energie, en ons het genoeg tyd gehad om vooraf oor ons karakters te gesels. Dit was ’n voorreg om by die seiljagklub in die Kaapse Waterfront te skiet. Ek het ook dadelik gehou van Leon Kruger se toeganklike teks.

A post shared by Rolanda (@rolandamarais) on

Lise in Johnny is nie dood nie: ‘Ek moes diep delf in my emosies . . .’

Ek moes die student asook die volwasse Lise se karakter ontgin in die rolprent [wat verlede jaar met verskeie pryse by die kykNET-Silwerskermfees bekroon is]. As jong meisie was sy wild and wacky, en ek moes my jare as dramastudent aan die Universiteit van Kaapstad herbesoek. Ek het lank en hard na Voëlvry se musiek geluister, veral Johannes Kerkorrel. Dit is gegrond op Malan Steyn se draaiboek vir die teater, hoewel Christiaan Olwagen dit vir die rolprent verwerk het. Christiaan, wat ook die regisseur was, is nie pedanties nie en wou hê die woorde moes lekker in ons mond lê. Lise is ’n hartseer karakter. Sy het nie besef wat sy het nie. Toe sy met Dirk [Albert Pretorius], wat enigiets vir haar sou doen, getroud is, het sy bly hunker na meer. Ek moes na diep plekke in myself gaan, na duisend goed wat ék ook nie reg gedoen het nie. Alle akteurs weet hoe om onvervuldheid, hartseer en hoopvolle emosies uit te beeld, maar die kuns is om dit uniek te doen, om in te klim en byt te kry aan die karakter. Daarvoor moet jy jouself “seermaak”. Ek voel elke keer emosioneel verrinneweer ná die aanleer van ’n nuwe rol. My blonde hare vir die rol het my jeugdig, sorgeloos en wild laat voel. Mense het anders op dié energie reageer – ek weet nie hoe nie, net “anders”. Toe Joz my na afloop van die film op die lughawe kom haal het, het hy my aanvanklik nie herken nie, net gedink: “Daai blondie is hot.”

Johnny Johnny stadig nou ..... #johnnyisniedoodnie begin oor 7 dae!! #5Mei #voëlvry #interrobang

A post shared by Rolanda (@rolandamarais) on

Stefanie in Binnelanders: ‘Ons het almal ’n bitch in ons’

Ek was die feeks Stefanie in die kykNET-sepie. [Sy het dit in 2010 verlaat.] Dit was prettig – ek vertolk veel eerder ’n karakter wat dinge moeilik vir ander maak as die boring sweetheart. Ek wéns ek kan in die regte lewe pront-uit die bitch wees, maar ek is iemand wat konfrontasie vermy, stil wegstap van bakleiery. Deur die karakter word jy gekonfronteer met emosies wat jy nie sommer in jou eie lewe ervaar nie. Ek kan baie verduur, maar daar is tog ’n sekere lyn. Dit gaan oor respek. Vriende en romantiese vennote moet mekaar opbou, aanmoedig. Ek geniet dit om in sepies te speel omdat storielyne en karakters konstant verander. Ek het soms gesukkel om te verstaan hoekom my karakter sekere dinge doen. Die skrywers het groot vryhede om te doen wat hulle wil met karakters.