Die aktrise Rolanda Marais, bekend vir haar interessante vintage-styl voorkoms, is pas aangewys as een van die tydskrif Glamour SA se stylvolste vroue vir 2018.

Rolanda trek altyd oorspronklik aan, met haar eie vertolking van die mode.

Maar Suid-Afrika het nog nooit ’n tekort aan stylvolle vroue gehad nie. SARIE het ook by aktrise Mila Guy en model Katryn Kruger gaan hoor wat hul vyf stylwenke is en daardie één moet-hê-item in elke vrou se kas.

Rolanda Marais se 5 stylwenke

Rolanda Marais het tydens haar swangerskap steeds haar unieke styl uitgeleef. FOTO Instagram/ Rolanda Marais

* Ken jou lyf: ’n vrou wat gemaklik en gelukkig voel, lyk beter as iemand wat selfbewus voel in ’n kledingstuk.

* Ek hou daarvan om heeltemal swart aan te trek, afgerond met mooi skoene of helder oorbelle.

* ’n Helder belt gee ’n gewone rokkie nuwe lewe en ’n dun serp lyk dikwels fantasties as jy dit inspan as belt.

* Kombineer ’n vintage-styl hemp met moderne jeans.

* Niks kom by bloedrooi lippe om ’n paar jeans en ’n wit T-hemp op te kikker nie.

FOTO Instagram/ Rolanda Marais

MÓÉT-HÊ-ITEM ...

’n Little black dress (LBD) vir die aand.

 

Die aktrise Mila Guy se 5 stylwenke

Mila Guy het beslis styl! FOTO Madison West Lifestyle

* Trek eenvoudig, maar dapper aan. Speel met jou styl – leer dit ken.

* Ken jou lyf. Soos Iris Apfel [Amerikaanse binneversierder en op 97 steeds ’n mode-ikoon] sê: “As jy nie gemaklik in jou eie vel is nie, sal jy nie gemaklik in jou klere wees nie.”

* Gebruik die minimum grimering – Nimue se getinte bevogtiger werk goed as onderlaag.

* Die statement-oorbel is iets waaroor ek deesdae mal is. Handelsmerke soos Nina Bosch of Lovisa.

* ’n Bietjie kleur – jou handsak of selfs net jou skoene – is mooi vir die somer. Ek is mal oor Annalisa Clothing, die nuwe klerereeks met lekker kleur en patrone.

FOTO Nonjabulo

MÓÉT-HÊ-ITEM ...

’n Gemaklike denim wat mooi pas en ’n eenvoudige T-hemp.

Internasionale model Katryn Kruger se 5 stylwenke

Katryn Kruger weet watter style werk vir haar. FOTO Kat Shoots Weddings
 

Sy het per e-pos uit Sydney, waar sy tans werk, haar wenke gedeel:

* Ek is ’n “gemak-bo-mode”-mens, so ek is so opgewonde dat sneakers nou “in” is. ’n Mooi paar wittes kan by die meeste uitrustings werk – van ’n langbroek of kortbroek en T-hemp tot ’n ligte somersrok. Dit is gemaklik en lyk altyd cute.

* ’n Wit T-hemp of bloes is altyd ’n treffer. Met albei kan jy die moue oprol vir ’n cooler voorkoms. As jy dit by ’n mooi paar jeans en minimalistiese grimering dra – wat nou hoogmode is – lyk jy vars en jonk.

* Grys is ook ’n treffer-kleur. Ek het vyf verskillende grys T-hemde – dit is die “go-to”-kleur in my kas. As ek nie seker is wat om te dra nie, of ek wil sommer net gemaklik en mooi lyk, is dit altyd ’n stylvolle keuse.

* Grimering moet lig wees. Fokus op velsorg en gebruik ’n goeie bevogtiger en die minimum verbloemer vir ’n “douerige” voorkoms. ’n Tikkie maskara, bietjie definisie vir die wenkbroue en ’n natuurlike lipkleur (ek gebruik Elizabeth Arden se Eight Hour Cream) werk goed.

* Rond jou uitrusting af met ’n mooi handsak – een waarvoor jy regtig lief is. Ek het ’n effense handsak-obsessie en is mal daaroor as dit pas by my uitrusting. Dit hoef nie duur te wees nie, maar dit is lekker om ’n paar handsak-opsies te hê wat jy kan inspan om jou uitrusting af te rond. ’n Mooi raffia-handsak werk in die somer en ’n donkerbruin leersak is ’n treffer in die winter.

* Bonuswenk vir die aand: ’n Mooi swart rok is eenvoudig, maar so klassiek. En perfek vir enige okasie! Saam met ’n mooi paar oorbelle, klein clutch handsakke en ’n paar hoë hakke sal jy die toonbeeld van elegansie wees! 

FOTO Instagram/ Katryn Kruger

MÓÉT-HÊ-ITEM ...

’n Mooi paar blou jeans wat goed pas, ’n eenvoudige wit of grys T-hemp en ’n paar wit sneakers. Rond die prentjie af met ’n goeie handsak en fyn goue juweliersware.

 
FOTO'S The Box Fashion (Rolanda Marais) / Madison West Lifestyle (Mila Guy) / Danelle Stofberg Photography (Katryn Kruger)