En op ’n punt het sy besef sy’s oor daardie vreeslike hartseer (van al haar vorige gebroke verhoudings). “Ek het net gelukkig begin voel, vreeslik tevrede. Ek en my kietie, vroeg in die bed. Wanneer jy voel jy’s gek daaroor om op jou eie te wees, dán is jy reg vir ’n verhouding. En as daar iemand is wat net so in jou wêreld inpas, dan’s dit ’n bonus.”

Toe gebeur dit, toe skuif daar een so mooi netjies in haar wêreld in. “Hy’s die regisseur van Wolwedans in die skemer. Jozua Malherbe. Hy’s 30, so ek’s ’n cradle snatcher,” sê sy en lag. “Ons het op stel ontmoet en het totaal en al op ’n professionele vlak gewerk. Maar daar was so nou en dan sulke oomblikke, so ’n smile. En stadig maar seker ontwikkel daar toe so ’n ietsie.”

Sy trek haar bene op en haar voete krul oor mekaar van skaamheid, laat haar soos ’n klein dogtertjie lyk. “Maar omdat ek in die fliek was, het ek besluit niks gaan gebeur nie. Want dis daai tipiese cliché, die aktrise wat nou met die regisseur . . . Ek meen dis so embarrassing, ek skaam my eintlik dood. Ek skaam my dood dat ek verlief geraak het op die regisseur.” Sy lag hard, lekker.

“En ek kon my verkyk aan hom, ek het letterlik soos ’n verliefde na hom gestaar.” Hoe lyk hy? vra ek.

Tall, dark and handsome,” giggel sy asof dit ’n noodwendigheid is. “Nóg ’n cliché. Og, hy’s oulik. Hy’s baie, baie oulik.” Dan, asof rede skielik intree: “Maar dis nog baie vroeg, jy weet. Soos my ma altyd sê, tyd sal leer,” maak sy haar na in ’n hoogdrawende stem.

Tyd het sy nou baie. Om in die tuin te werk, met Charlotte (haar kat) te speel, en haar gunsteling-tydverdryf: om deur liefdadigheidswinkels te snuffel vir oulike goed vir haar klerekas en huis. “Soos my ma sal sê: ‘Oe, al hierdie junk. Oe nee, Sussie, gaan jy nou daai ding koop? Gaan jy nou daai ding in jou huis sit?’ Maar sy’s nou al gewoond daaraan, sy weet nou al dis my ding.”

Jozua Malherbe op stel van Wolwedans in die skemer

Jozua op die stel van Wolwedans in die skemer (bron: www.facebook.com/wolwedans)

Werksgewys het sy nog nie planne nie. “Ek wil myself net verryk, ek wil my siel weer vind, ek wil simpel goed doen en voel dis oukei. Ek moet leer om weer vreesloos te wees, soos toe ek jonger was, vóór Binneland. Ek moet dit terugkry.”

'n Oomblik se twyfel, ’n oomblik se vrees. “Ek’s nou lekker grootbek, nè, want ek’s nog net twee weke uit die sepie . . .” Dan waai sy die onsekerheid weg.“Maar ek vertrou my vermoë en my talent; dat ek iets sal kry. Ek’s nuuskierig om te sien wat gaan word van my. Dis lekker, man. Ek hou daarvan om nie alles so uitgestippel te hê nie.” Ja, die tyd sal leer, soos haar ma sal sê. Maar vir nou, vir eers is sy net Rolanda Marais.

Sluit aan by Wolwedans in die skemer se Facebook-bladsy

Kyk die lokprent van Leon van Nierop se Wolwedans in die skemer