Rolene Strauss het ’n blywende passie om mense te help en te inspireer. Verlede maand het sy ’n aanlyn kursus geloods Rediscover Your Self-Confidence. En nou het RevitaHealth, waar sy as lewensafrigter en direkteur werk, ’n kursus in die kweek van ’n gesonde leefstyl Healthy Eating 101 begin.

Waaroor gaan dié kursus? Hierdie aanlynkursus bestaan uit 5 modules wat jou sal help met gesonde eetgewoontes, maar ook sal leer hoe om die plakkers op jou kos te verstaan en wat die waarheid is rondom die grootste gesondheidsmites. Dit bevat ook 36 resepte vir ontbyt, drankies, aandetes en peuselhappies.

SARIE.com het onlangs met haar skoonsuster, dr. Ledivia Strauss, oor hierdie kursus en ’n gesonde leefstyl gesels. Lees die artikel hier.

Volgende Dinsdag, 25 Augustus, gaan Rolene en Ledivia saam met Donnalee Roberts en Marciel Hopkins op SARIE se digitale rusbank kuier vir die jongste aflewering van Dinsdagdromer.  Rolene sal in gesprek met Ledivia wees en sal hulle praktiese, maklike en volhoubare gesondheidswenke deel wat jou inspireer en bemagtig om jou gelukkigste, gesondste liggaam te vind. Koop jou kaartjie hier.

View this post on Instagram

A post shared by Rolene Strauss (@rolenestrauss) on

SARIE.com het by Rolene gaan inloer en vir haar ’n paar vrae gevra:

1. ’n Reis met gesondheid en ’n gesonde leefstyl is so persoonlik, daar is geen vinnige oplossings nie en elke liggaam reageer anders. Watter belangrike kopskuif moes jy in jou lewe gemaak het?

Dit het vir my ’n hele ruk geneem voor ek besef het hóékom ek gesond wil wees. Agter elke doelwit moet daar altyd ’n waardige  “hoekom” wees. My  “hoekom” hou my gemotiveerd. Ná ons eerste seuntjie gebore is, het dit gevoel of my oë vir die eerste keer oopgaan: Wanneer ek so gesond as moontlik is, is ek ’n beter mamma en vrou vir my geliefdes. Dit gaan nie meer vir my oor gewig nie, maar eerder oor holistiese gesondheid en al die voordele wat daarmee gepaardgaan.

2. Nuwe ma’s wil dikwels so gou as moontlik hul “ou lyf” terughê. Hoe het jy hierdie keer postpartum anders aangepak as met jou eerste swangerskap? Watter raad het jy vir ma’s wat sukkel om weer in beheer van hul eie liggaam te voel?

My tweede swangerskap was vir my baie moeiliker as my eerste swangerskap. Ek het met hierdie swangerskap amper heeltemal ophou oefen, ek was ook verskriklik moeg en siek. Ek het nooit besef hoe moeilik dit hierdie keer sou wees om my gesondheid en krag weer terug te kry nie. Die les wat ek geleer het is dat dit verskriklik belangrik is om aan die beweeg te bly gedurende swangerskap. Of dit nou stap of strek of gym of swem is... natuurlik met die goedkeuring van jou geneesheer. Alles neem tyd, mens kan nie verwag om binne ’n maand weer jou “ou self” te wees nie. Hoe eet jy ’n olifant? Stukkie vir stukkie ... Een dag op ’n slag. Dis ook hóé ek my gesondheidsreis postpartum aangepak het.

3. Watter wenke het jy vir enigiemand wat 'n gesonde leefstyl wil aanpak? Veral diegiene wat al soveel keer probeer het, maar ongelukkig gou die handdoek ingegooi het.

Ek sien as lewensafrigter soveel van my kliënte wat sukkel om doelwitte te bereik en gemotiveerd te bly. Maar wat meestal vir hulle (en vir my) werk is om die proses eerder as 'n leer geleentheid te benader:

* Ek glo dat groei slegs volhoubaar is wanneer ons deur ons eie ervaringe leer.

* Sit weekliks tyd uit om te reflekteer oor jou proses.

* Met ’n duidelike, meetbare en doenbare doelwit in gedagte, vra jouself die volgende vrae: Wat het my nader aan my doelwit gebring? Wat het my verder van my doelwit laat beweeg? Wat kan ek hieruit leer en toepas in die toekoms?