Spreker, skrywer en sakevrou. Tans is sy besig met haar meestersgraad infilosofie en lewensafrigting én sy het ’nsplinternuwe aanlyn kursus, Rediscover Your Self-Confidence, begin om vroue tehelp om hul selfvertroue te bou en huldrome vreesloos na te jaag.

Jy is ’n ma van twee klein seuntjies. Geniet jy hulle?

Ag, verskriklik baie. Ek dink ek het twee harte, want al twee is my hart se punt. Ek is dolverlief op hulle en hulle is so goed vir my siel. Ek dink ’n deel van my selfvertroue-reis is juis my twee seuntjies wat lief is vir my net soos ek is. Ek is hul alles en hulle is my alles.

Jy is besig met jou meestersgraad in filosofie en lewensafrigting . . .

Ja, dis ’n lekker nuwe uitdaging. Ek en my man is getroud in 2016, die jaar waarin ek my kroon oorhandig het, en ons het hierdie plan gehad. Dat ek my doktersgraad gaan klaarmaak, Kaap toe gaan trek en my internskap en gemeenskapsdiens daar doen. Drie maande nadat ons getroud is, vind ek uit ek is twee maande swanger. Dit het alles verander. Ek moes kies tussen medies en om in hierdie spesiale tyd weg te wees van my man en kind. Dis toe dat ek medies opsy geskuif het. Maar die deel van my wat so graag mense wil help en genees was steeds daar. Dis hoekom ek nou my meestersgraad fokus op vroue wat sukkel met selfvertoue.

Het jy raad vir iemand wat ook nou verder wil studeer?

Daar is nooit ’n regte tyd nie. Daar is nooit ’n verkeerde tyd nie. As jy vrede in jou hart het en dis iets wat jy graag wil doen, vat daardie sprong en doen dit.

Jy is jonk, energiek, positief en het al soveel bereik. Wat is volgende?

Daar is soveel dinge. Die inperking het my die geleentheid gegee om my afrigting op ’n groter skaal te begin doen. Daar waar ek nie in persoon kan wees nie, kan ek aanlyn wees en ek is regtig opgewonde om dit tot ’n verdere vlak te vat.

Wat maak SA so uniek?

Dis die plek waar ek geleer het om te praat, te droom en te bid. Dis waar ek geleenthede gekry het om my drome uit te leef, waar daar oneindig baie moontlikhede is en waar ek my kinders gekry het. Suid-Afrika is die tuin waar ek geplant is en waar ek water kry.

Het jy nog moed vir ons land?

Definitief. Alles in die lewe gaan deur laagtes en hoogtes, maar soos hulle sê as jy in die hospitaal lê en jy’s gekoppel aan die EKG-masjien: Jy wil nie hê dit moet konstant loop nie, want dan beteken dit jy’s dood. Dit móét op en af gaan.

Hoe voel jy oor Afrikaans?

Ek koester Afrikaans. Vir my gaan ’n taal baie oor kultuur. Dis hoekom ek kies om my kinders in Afrikaans groot te maak sover ek kan, want dis ’n kultuur wat ’n mens vir hulle aanleer. Ek voel ek is ’n beter mamma as ek kan praat in my moedertaal.

Wat is altyd op jou spyskaart vir laatontbyt?

Vir my beteken brunch om ’n paar keer op te skep, so daar moet ’n verskeidenheid goed op die tafel wees. Varsgebakte brood, quiche en ’n bak met vrugte is altyd lekker. Ek maak ook sommer gewoonlik ’n granola met neute, kaneel en heuning.

Jy kan een bekende na jou ontbyt toe nooi, wie is dit?

Ek sal ’n gesprek met Kate Middleton geniet of die motiveringspreker Lisa Nichols. Sy leer jou hoe om voor mense te praat en stories te vertel.

Een of twee wenke as jy gaste vir ontbyt kry?

Daar moet ’n warmskinkbord wees [lag]. Ek het nou nog nie een nie en sukkel my morsdood om alles gelyk warm te kry en te hou.

Koop nou die nuwe SARIE KOS of SARIE FOOD.