En steeds laat die manne van Romanz nie gras onder hulle voete groei nie. Deesdae is hulle hard besig om die internasionale mark te betree, en jy kan hulle daarmee help.

Hulle neem deel aan vanjaar se Eurovision Song Competition en benodig stemme om na die volgende ronde deur te dring. Groot name in die sangbedryf soos Celine Dion het al dié gesogte titel gewen.

“Ons is deur Roy van der Merwe en Andy Mikheev van OGAE (General Organization of the Fans of Eurovision) genader om aan Eurovision deel te neem. Hulle soek talent buite Europa om in te skryf,” vertel André Venter, een van die lede van Romanz. “Indien ons genoeg stemme het om na die volgende ronde deur te dring, gaan ons op 8 November 2011 in Europa deelneem. Dit word daar op TV uitgesaai en sowat 120 miljoen mense sal daarna kyk!”

Die liedjie waarmee hulle deelneem, "For You (I Will Build Rome In Just One Day)" is blitsvinnig geskryf en opgeneem om dit betyds gereed te hê vir die kompetisie. “Dit is ’n liedjie oor ware liefde, met ’n diep boodskap en bietjie van ’n Afrika-gevoel,” vertel André. Hulle sing dit in Engels en Italiaans.

“Die tydsberekening met dié kompetisie is perfek, ons is baie gretig om die Europese mark te betree,” gaan André voort.

Maak Romanz se drome waar deur te stem: Volg hierdie skakel en klik op Votate. (Alles is in Italiaans). Kies nou Romanz - For You en vul jou naam, van, adres, poskode, stad en e-pos adres in die Italiaanse vorm in. Klik dan op OK.

Slegs een stem per persoon per dag is geldig.

Volg ook hulle vordering met die kompetisie by www.facebook.com/romanzforeurovision


André het ook ’n bietjie met sarie.com gesels oor sy vrou, Alphia, se swangerskap:

“Alphia is nou vier en ’n half maande swanger en alles gaan baie goed. Ons is baie ontspanne, en geniet dié tyd!”

Hulle het reeds twee seuns en hoop vir ’n dogtertjie, maar André sê hulle gee nie regtig om nie...

“Ons sal aan die einde van die maand vir seker weet wat die geslag is, so ons het nog nie eintlik aan name gedink nie.” Verder vertel hy dat die hele familie en boeties, Jandré (8) en Wallroux (5), almal baie opgewonde is oor die nuwe toevoeging tot die gesin.

KYK HIER NA FOR YOU (I WILL BUILD ROME IN A DAY)