80% van alle rooibosboere drink nie rooibostee nie, verklap boer Albert. “Jy ruik heeldag rooibostee, jy wil dit nie dan nog loop proe ook nie.” Maar dié rooikop boer geniet sy koppie ‘boeretee’ – swart en bitter. “Geen melk, geen suiker ... as die tee reg gemaak is, proe dit van nature soet.” 

Hy drink ook boeretroos – regte, egte moerkoffie. En hy is stout vir ’n glasie rooiwyn – Merlot, as jy nou moet vra. “Maar ek moet dit voor ’n kampvuur drink. Weet jy, ek verkies om eerder voor ’n kampvuur te kuier as in ’n klub... ek is ’n kampvuur-man.” 

Een van die dae gaan hy deelneem aan Boer soek ’n vrou – die vroue wat by hom op sy familieplaas wil kom vlerksleep, het kans tot 8 Augustus om vir hom te skryf. 

Ou Albert was ’n nat-agter-die-ore-tiener toe Boer soek ’n vrou vir die eerste keer uitgesaai was. “En toe wou ek al vir die reeks inskryf,” skerts hy. “Verlede jaar wou my ma-hulle my inskryf, maar die tyd was nog nie reg nie. Ek wou eers my kombuis regmaak.”

Toe SARIE.com vir Albert bel was hy in die Kaap, waar hy besig was om goed vir sy huis te koop. “Ja, jong! Ek wil ’n paar goed regkry, ’n man moet voorbereid wees,” skerts hy.

Hy is nie nou die beste kok nie, maar hy sal beslis sy oond toets voor die dames kom. “Ek moet darem weet of daar lekker beskuit gebak kan word.”

Die splinternuwe aanbieder Marciel Hopkins het onlangs aan SARIE.com verklap dat van die boere versteekte talente het. Is Albert een van hulle?

“Tel braai?” lag Albert. “Nee, jong, ek weet nie of ek een van hulle is nie. As ek sing, sing ek in die stort. Ek het ook twee linkervoete, maar het onlangs my litte losgekry. Ek wil darem nie my naam met ’n plank slaan as ek voor die kamera moet dans nie.”

Albert is reg om daai spesiale iemand te ontmoet. “Dis hoekom ek ingeskryf het.”

En wat soek hy in die briewe? “Sy moet net haarself wees, sy moet nie voorgee nie.” 

Een van Albert se liefdestale is woorde. “As sy die regte woorde gebruik, gaan ek berge vir haar versit. Sy kan met my toor.”

In Clanwilliam het twee ander boere ook liefde op dié pasmaat-program gevind: Boere Hentie en Willem. Laasgenoemde het onlangs verloof geraak aan die onderwyseres Sanel Prinsloo.

“Ag, daar is iets in die rooibostee,” skerts Hentie. Ja, ook boer Hentie drink rooibostee. “Maar myne moet yskoud wees met ’n knertsie whiskey.”

Hy reken Albert moet oopkop wees as hy deur die hoop briewe lees. “Bly objektief, moenie laat jou emosies oorneem nie. Lees mooi die briewe. Wat het julle gemeen? Wat sê jou instink? Onthou dis pret, maar nie speletjies nie. Geniet elke oomblik, neem alles in. Maar onthou jy werk met ander se emosies.”

Hentie ken vir Albert. “Hy is ’n gawe ou kêrel. Plat op die aarde!”

Boer Willem het liefde gevind danksy dié pasmaat-program. FOTO Instagram / Willem Pool

En watter raad het boer Willem? Hoe beter jy jouself ken, hoe makliker gaan die lees van die briewe wees, reken Willem. “Jy moet jou instink volg en as jou hart daarop reageer, dan weet jy ... dan vang hy jou.” 

Aan die begin het Willem 50% kop en 50% hart gegaan. “Soos die program aangegaan het, het ek meer met my hart gekies. Wees oopkop oor die hele besigheid, teen die tyd weet jy wat soek jy in ’n lewensmaat.”

Hy moet ook nie iemand kies wat nie by hom pas nie. “Al wil jy hoe graag hê die persoon moet by jou pas ... wees eerlik, wees eie aan jouself.”

Willem waarsku vir Albert dat die kameras aan die begin oorweldigend kan wees. “Dit kan jou dalk vang, maar die span probeer jou altyd op jou gemak laat voel. Probeer ontspan, vat dit dag vir dag. En onthou: Geniet hierdie reis en gaan vir goud!”

Diegene wat boer Albert of een van die ander nege boere beter wil leer ken en wil inskryf, kan een van die volgende drie opsies doen:

* Skryf in op kykNET se webtuiste

* Bel 079 335 5137 

* Stuur ’n e-pos na boer@marche.media (Let wel .media en nie .co.za nie) 

Inskrywings moet voor middernag op 8 Augustus 2020 ingedien word.