Ek hoop...
mense kan hul passies uitleef, want dis wat jou energie gee en jou lewe betekenis. My passies is eet en praat.

alle maermaak-advertensies word verban, dan sal ons vroue almal baie beter oor onsself voel.

Ek is bang...
vir vrees, want dit is vrees wat jou jaloers maak, wat jou onseker laat voel oor jouself, wat jou ongeduldig maak met mense, negatief maak. Ek vra myself altyd: Neem jy hierdie besluit uit vrees of uit liefde? Want enigiets wat jy uit vrees doen, is nie goed vir jou nie. Dit dien jou nie. Dit help my ook om simpatie te hê met mense. As ek sien hulle doen of sê iets uit vrees, kry ek hulle eintlik jammer. As vrees jou motiveerder is, neem jy die verkeerde besluite.

Maar aan die ander kant glo ek ook nie daar is iets soos ’n verkeerde besluit nie, want alles is uiteindelik deel van die pad wat jy moet stap. Dit gaan net langer vat om by die plek uit te kom waar jy wil wees. Ek het al baie swaargekry en het natuurlik al self besluite geneem uit vrees. Toe het ek ’n sielkundige gaan sien om hierdie vrese te oorkom. Ek sal ’n sielkundige vir almal aanbeveel. Jy kan nie jouself aan jou eie skoenveters optrek nie.

Wat ek geleer het
Pyn is so ’n seëning. Dit laat jou groei. Dis soos [die sanger] Leonard Cohen sing: Was dit nie vir die krake nie, hoe sou die lig dan deurkom? Elke nuwe trauma is ’n geleentheid om ou pyn, wat jy diep weggesteek het, na die oppervlak te bring en daardeur te werk.