Ek hoop . . .

ek en my man [Charles] bly altyd lief vir mekaar. Ons het in April vanjaar ons 25ste huweliksherdenking gevier. Hy gee my soveel ruimte om myself te wees, maar is terselfdertyd die rots wat my anker. By hom kan ek net wees. My man het integriteit, hy’s eerlik. Hy’s nie ’n Mnr. Wêreld nie, maar hy’s ’n mooi mens.

ons as gesin sal altyd daar wees vir mekaar. [Sy en Charles het twee dogters: Carlene (23), wat pas haar honneurs in die regte voltooi het, en Kirstin (14), tans in graad nege.] Elke mens dra letsels van gesinne wat nie genoeg vir mekaar omgee nie. Ek hoop ek het as ma altyd die vermoë om my gesin bymekaar te hou, al moet ek soms rank pull! [Sy lag.]

om sommer lekker te verouder. Oe, ek kan nie wag om ouer te word, af te tree en 'n heeltemal nuwe beroep te begin nie. Maar ek gaan nie ander mense se babatjies oppas nie, moenie eens daaraan dink nie!

Wat ek geleer het

Elke pondjie gaan in by die mondjie. Ek het die afgelope jaar met ’n gestruktureerde gewigsverliesprogram sowat 20 kg verloor. Daardeur het ek geleer om beter eetgewoontes aan te kweek, soos om drie maaltye per dag te eet, en soggens voor halftien ontbyt te eet.

Daar is nie kitsoplossings om te verslank nie, dis net die harde manier wat regtig werk. Ek is nou by die instandhoudingsdeel van die program en jy beleef maar terugslae, maar ek het ook geleer elke dag is ’n nuwe begin, ’n nuwe kans – in al die fasette van jou lewe. As jy gister ’n bietjie oortree het, vergewe jouself en gaan aan. Jy kan jouself tog so kruisig, en dis onnodig. Wees toegeeflik met jouself.

Jou houding en ingesteldheid oor die toekoms speel ’n bepalende rol in hoe dit gaan ontvou. Toe ons gesin byvoorbeeld twaalf jaar gelede van die Kaap af Johannesburg toe moes verhuis, was dit moeilik en dit maak jou benoud. Ons kon ons toe blindstaar teen die probleme en uitdagings soos misdaad, maar ons het dit positief benader en as ’n geleentheid beskou wat ons met albei hande wou aangryp. Nou woon ons al 12 jaar gelukkig in Auckland Park. Ons onderskat die krag van positiewe denke.

Die lewe is ’n wonderlike reis. Geniet dit net, dit gaan so gou verby.

Sê vir jou hartsmense hoe jy voel en dat jy omgee.

Lees die volledige onderhoud met Jacqui in die September 2012-uitgawe van SARIE