Met die grendeltyd het almal gewonder: Wáár is Martelize Brink? Want hulle hoor haar nie op driesestig op RSG nie. Sy het toe al die tyd by haar geliefde van die afgelope twee jaar, Marius van Tonder, ingetrek in die Paarl, waar hulle saam ’n huis besit.

Te oordeel na haar (en sy) borrelende stemme en haar Instagram-plasings van die een ná die ander heerlike ete, die mooiste koeke en lieflike wyne, gaan dit besonder goed. Op die spyskaart is enigiets van geroosterde organiese hoender tot paella en sjokoladebrowniekoek. En liefde.

“Sy laat my toe om presies te wees wie ek is,” sê Marius, die eienaar van Vinea SA, wat Franse eikehoutvate en -produkte invoer.

Hy is mal daaroor dat sy vir enigiets kans sien. Al is sy verlam en in ’n rolstoel weens vermoedelik ’n virus of inflammasie van die rugmurg, wat sy plotseling op dertien opgedoen het, briek niks Martelize nie. Haar lippe is rooi en sy lag graag. Sy is ’n bekroonde joernalis en aanbieder, het al perdgery, gekajak, tree gereeld as motiveringspreker op, het die gorillas in Rwanda besoek, reis op haar eie na Europa, was aktrise in Twee grade van moord . . . Noem dit, en sy doen dit.

Marius beskryf haar as ’n fontein van kennis: “Ons kan agt uur lank oor ’n glas wyn of koffie gesels – sy weet van alles: sport, musiek, nuusgebeure.” Martelize lag. “Hoor nou wie praat. Hy haat dit as ek dit sê, maar Marius se intelligensie is next level . . . regtig.”

Ons moet net ’n bietjie minder eet, sê albei. Sy vertel sy het 5 kg aangesit in die grendeltyd. Elke week begin hulle met gesonde voornemens . . . “Maar jy wéét nie hoe sy kan kook nie.” Martelize het immers al ’n resepteboek, Martelize kook! Jy’s genooi (Human & Rousseau), geskryf. Haar pa was oorlede Matie Brink, die potjiekoskoning. En sy is gek na lekker kos en wyn en eksperimenteer. “Arme ou Marius. Hy ruim net op wanneer ek so kook.” Hy: “Dis haar liefdestaal. Hoe kan ’n mens dáároor kla?” En dan, vol verwondering: “Maar sy oefen elke dag, tot Sondae.”

“Sommige mense kan mos eet net wat hulle wil,” sê sy, “maar ek kýk net na kos, dan begin die ponde aanpak. Ek het geen keuse as om te oefen nie. Om te sweet en die gewigte op te tel en opstote te doen en te rek en strek, is boonop goed vir jou kop.”

Daar is ’n heerlike gemaklikheid tussen hulle, soos ou getroudes. Marius was al getroud en het niks teen die huwelik nie. “Maar ons is gelukkig met ons huidige situasie,” sê Martelize, doodrustig. Die twee het mekaar in hul twintigs by ’n braai ontmoet en dadelik gekliek. Toe begin hulle ná sy egskeiding weer whatsapp. So twee jaar gelede vir sy 41ste verjaardag vra hy haar of sy die Sondag saam met hom na die restaurant La Mouette in Seepunt sal gaan. Dít was die begin van dié goeie einde. Daarna sou hulle mekaar bykans elke naweek sien.

Ná byna twaalf jaar in haar woonstel in Seepunt, waar sy alleen gewoon het, is dit heerlik om haar lewe met ’n lewensmaat te deel. “Ek oortuig hom nog net om ’n hond te koop.” 

Hulle stry selde. “Hy is báie netjies, en ek probeer nog dié standaard handhaaf,” spot sy.

“Sy is perfek. Wat haar luisteraars hoor, is opreg. Sy gee om vir ander en haar geesdrif is aansteeklik.” Martelize erken dit is dapper om tydens grendeltyd saam in te trek en ’n toets vir hul verhouding. Maar as jou waardes ooreenstem, is jou kop deur, meen hulle. Hulle is verlief, vir seker. “Maar op die ou einde moet julle régtig van mekaar hou, as mense,” glo sy.

Al twee hou van kuier met vriende, van lekker onthaal en is mal oor hul familie. Sy ouers woon ’n paar minute van hul huis af, haar ma ook. “Hy is só sorgsaam en sal in sy motor klim en ’n verwarmer by my ma, Cheryl, gaan aflaai as hy hoor sy kry koud.”

Sy noem nog raakpunte op. Musiek. Pink Floyd, Neil Young, 70’s-folk . . . Só ook televisie-vermaak. “Die Simpsons het seker die grootste invloed op my lewe gehad,” vertel Marius. Martelize beaam dit. “En ons is versot op komedies soos Friends . . .

“Marius is ’n bitter goeie mens. Ek is natuurlik mal oor sy voorkoms, maar dis sy menslikheid wat my trek: ruim fooie vir kelners, ’n mededeelsaamheid, omgee vir mense.” Sy vertrou hom volkome, hy koester haar. As sy “af ” is, sit sy terug. As sy te veel geoefen het, kry sy die saligste rugmasserings.

Hulle het ’n ruk lank van die huis gewerk, van waar sy insetsels gedoen het. In Julie het sy weer by die SABC in Seepunt begin uitsaai. Sy glo daar wag groot uitdagings vorentoe weens die pandemie, maar die mens is veerkragtig en kreatief.

Dié twee oorweeg dalk ’n gesamentlike kookboek, Kombuissondes. Lekker dekadent. Dink aan laataand-vergrype soos boeliebief-pasta met witsous. “Weet jy hoe lekker is dit? Of boeliebief-ravioli,” vra sy – die boeliebief is ’n ou-ou grappie tussen hulle . . .

Martelize wil ook Die ander pad, oor haar unieke reis op aarde, klaar skryf wanneer sy meer tyd het. Veral noudat sy haar ingegrawe het in hul nuwe woning met die druiweprieel op die stoep, groot leefarea wat so lekker lig is en heerlike kuierplek waar hulle beplan om gereeld te braai.

Daar is ’n rustigheid oor haar, erken Martelize. Passie en aanraking maak die lewe tydens die grendeltyd makliker.

“Daar is nie spasie tussen ons nie. Hy kan vir my ’n drukkie gee en ons hou hande vas. Dié nabyheid is heerlik en sielkundig goed vir ’n mens. Dit is ’n voorreg en hou jou kalm in hierdie tye.