Almal sak blykbaar op hom toe vir kommentaar. Hy en sy Liefling-sangmaat Corlea tree vanaand (Wo 15 Sep) in die Durbanville ouditorium op, en hy probeer nou eers net op sy optredes fokus. Die storie het 'n week terug in die media uitgelek dat Rudi op 8 Maart vanjaar met sy bestuurder, Stephen Stewart (28), getroud is.

In die nuutste SARIE (Oktober 2010) - wat vanaf Maandag 20 September te kry is - vertel Rudi en Corlea van hul groot deurbraak in die plaaslike musiekbedryf. 

Die name Rudi Claase en Corlea Botha is op almal se lippe. Albei hul CD’s, Ons lieflinge/Our darlings en Drome, het al platinum-status bereik (verkope van 40 000). Hulle blaas nuwe lewe in gunstelinge soos “Seemeeu” van Anneli van Rooyen, maar sing ook oorspronklike liedjies wat Rudi geskryf het. Hoewel hulle as sangpaar oornag bekend geword het, het hulle hul “skoolgeld betaal”, vertel Rudi.

“Ons het hard gewerk om te kom waar ons vandag is. Ek en Corlea het aan die een talentkompetisie na die ander deelgeneem. Kyk, gesing het ons gesing!”

* Oktober-SARIE vanaf Maandag 20 September te koop.