Die Suid-Afrikaanse aktrise Jessica Sutton is steeds in die sewende hemel, al is daar ’n pandemie wat die wêreld tot stilstand gedwing het. Een virtuele oudisie het haar soos ’n warrelwind opgeraap en in die hart van Hollywood geplaas. SARIE.com gesels met Jessica oor haar hoofrol in die Amerikaanse reeks Motherland: Fort Salem, nou te sien op die stroomdiens Showmax.

Só het dit gebeur ... kort ná die sukses van die Netflix-fliek The Kissing Booth, wat in SA verfilm is en waarin Jessica ’n klein rolletjie gehad het, het sy besluit om te waag. Sy het ’n internasionale agentskap genader en hulle het haar gevra om ’n video van haarself te maak. “Ek het gedog dis ’n speel-speel-oudisie, wat hulle sal help om te besluit of hulle ’n kans met my moet waag,” vertel sy.

Twee dae ná die video het hulle ingestem om haar agente te wees. “Vier dae later het hulle my om middernag gebel om te sê dat ’n ateljee mal is oor my oudisie en my wil ontmoet.”

Toe eers vind sy uit: Die ateljee is Disney en die oudisie vir ’n rol in ’n Amerikaanse reeks. “Twee weke later was ek op ’n vliegtuig in die rigting van Vancouver, Kanada, om aan die reeks te begin verfilm. Ek is letterlik in die diep kant ingegooi.”

Die reeks Motherland: Fort Salem gaan oor drie jong hekse wat opgelei word om as soldate vir Amerika te veg. Sy vertolk die rol van Tally Craven, wat as ’n lopende uitroepteken beskryf word. “Dit was ’n droomrol en op ’n manier ’n liefdesbrief vir my 10-jarige self, wat ook eens die wêreld wou red.”

Die Amerikaanse aktrises Taylor Hickson en Ashley Nicole Williams het die ander twee rolle vertolk. En al was daar nie tyd om Suid-Afrikaanse geregte te kook nie, het sy vir hul droëwors laat proe. “O, hulle het niks daarvan gehou nie,” lag Jessica. “Ek het nie juis omgegee nie, ek was nie van plan om dit met hulle te deel nie.”

Maar Suid-Afrikaanse frases het gou-gou tuisgeraak op stel. “Now now, just now, braai, lekker, howzit en ag shame, wat hulle glad nie verstaan het nie. Daar was ook die vloekwoord k*k wat deurgeglip het, maar vir die Amerikaanse oor klink dit na iets nog lelikers ... awkward.”

Sy het verlief geraak op die skoonheid van Kanada. “Daar is ook ’n vryheid wat ons ongelukkig nie hier in Suid-Afrika het nie. Vroue kan vryelik loop en selfs duimgooi. Ek het ook eenkeer op my eie onder ’n appelboom geslaap.”

Jessica is nou op ’n plek waar sy gemaklik is met haarself. Maar ook sy het eens gesukkel om te glo sy is genoeg - SARIE se leuse vir 2020.

“Ek het gereeld teen daai stem baklei ... die twyfel, die glo in my onvermoë. Maar toe besluit ek om dit aan te spreek ... en juis daaroor het ek begin om mentors van verskeie uithoeke op te spoor.”

Selfondersoek was nodig. Sy het boeke gelees deur Brene Brown en Jordan Peterson. Ook Elizabeth Gilbert se Big Magic, wat handel daaroor om verby jou vrese kreatief te leef. Om meer in die oomblik te wees en gereeld te mediteer was deel daarvan. “Net hierdie paar bronne het gehelp dat ek myself ten volle kan wees.”

Die term “Jy is Genoeg” moet volgens haar gewortel wees in die deernis vir self. “Om jouself los te maak van vooroordeling en eerder in die nou te wees ... dís wat die kuns van toneelspel my ook geleer het. Dit bring my huis toe.”

Jessica is opgewonde om aan die tweede seisoen te werk van Motherland: Fort Salem, wat reeds hernu is.