“Ek voel fisiek beter op 40 as op 25. Om ouer te word is die beste deel van my lewe. Ek is dankbaar, ken myself beter, voel asof ek meer kan baasraak as ooit tevore.”

Dié woorde van aktrise Cameron Diaz, wat 40 geword het in 2012, word deur baie 40-jariges geëggo. Die Switserse psigoanalis Carl Jung het gemeen die lewe begin eers op 40. Voor dit doen jy eintlik net navorsing . . .

Suid-Afrikaanse glansmense wat vanjaar met dié waterskeidingsgetal kennis maak, sluit in die sanger Emo Adams, TV-persoonlikheid en sakeman Paul Rothmann, RSG-aanbieder en -vervaardiger Martelize Brink, aktrises Diaan Lawrenson, Rolanda Marais en Christi Panagio, en rock-ster Karen Zoid. Ook SARIE se styl- en sosiale redakteur Fanie Cronjé.

Die geskiedenis dui op heelparty suksesverhale vir mense rondom 40. Dit bly ’n magiese getal vir baie.

Vera Wang, bekende trourokontwerper, het op 40, toe sy haar eie troue beplan het, haar bruidsboetiek in New York geopen. Destyds is haar ontwerper-trourokke in die TV-reeks Sex and the City gebruik. Nou het sy boetieks wêreldwyd. Vera was, terloops in die laat 1960’s ’n Amerikaanse sierskaatskampioen. Met haar graad in kunsgeskiedenis, het sy haarself opgewerk tot moderedakteur van Vogue.

Só ook het die befaamde skrywer Toni Morrison, wat al byna elke prys vir Engelse letterkunde gewen het (tot ’n Pulitzer en Nobelprys vir letterkunde), voorheen ánder se boeke taalkundig versorg by die uitgewer Random House. Op 39 het haar eerste roman, The Bluest Eye, verskyn, maar dis eers met haar later romans Sula en Song of Solomon waarmee sy naam gemaak het.

Op 46 is Song of Solomon vir die destydse onafhanklike Amerikaanse Boek van die Maand-klub gekies – die eerste werk van ’n swart skrywer wat die eer te beurt geval het sedert 1940.

En so kan ’n mens aangaan. Philip du Toit, berader en leefstyl-afrigter wat op Somerset-Wes en in Milnerton praktiseer, reken “moderne” 40-jariges is ingelig en bemagtig. Veertig is ’n tweede asem van nog vele asems, ’n nuwe energie en opwindende dryfkrag. Tradisioneel is die Oxford-definisie vir die middeljare van 45 tot 65, “maar daar word al hoe meer gekyk na ’n meer realistiese 55 tot 65”.

Veertigjariges is deel van ’n nuwe generasie wat buite die boks dink en nie net alles klakkeloos aanvaar wat kleintyd aan hulle gevoer is nie, meen hy. “Die pas en oordrag van inligting het geweldig versnel. Ons moet bybly en dubbel soveel inligting verwerk as agt jaar gelede.”

Hy voeg by dat 40 baie mense dwing om te reflekteer. “Hulle besef dalk daar is onopgeloste dinge in hul lewe en word miskien vir die eerste keer met die dood van ’n ouer of kind gekonfronteer. Dit noop hulle dikwels om vir berading te gaan. As jou geestelike bagasie uitgesorteer is, is jy van die gelukkigste mense op aarde, en hoef jy nie meer soos ’n slagoffer te voel nie.”

Dit kan ook vir sommige mense ’n nuwe era van werksbevrediging inlui. “In Switserland is dit aanvaarbaar om in jou veertigs ’n radikale loopbaanverandering te maak en hul maatskaplike stelsel ondersteun dit,” vertel Philip. Hulle het onder meer ’n goeie werkloosheidsversekeringsfonds wat dit vir mense moontlik maak om ander opsies te ontgin.

Daar is baie redes hoekom dit so ’n goeie tyd in jou lewe kán wees. Volgens ’n artikel in 2014 in die Britse koerant The Telegraph was 40 toe die gemiddelde ouderdom in Brittanje. Oral was hoofopskrifte dat die land oornag in ’n “middeljarige land” verander het.

Maar Guy Walter skryf in sy tong-in-die-kies artikel in The Telegraph daar is hope voordele aan 40. Jy het gewoonlik eiendom taamlik goedkoop gekoop in die negentigs; die modes is nou beter as ooit; as jy vroeg ’n ouer geword het, is jou kinders (oor die algemeen) al groot en dus het jy weer tyd vir jouself; 40-jariges het ’n veel groter begrip as byvoorbeeld die baby boomers (mense wat ná die Tweede Wêreldoorlog gebore is) van ’n gesonde leefstyl, plus hulle verstaan die tegnologie taamlik goed (dalk nie so goed soos die millenniërs of generasie Z nie, maar hulle begryp slimfone en raak nie senuweeagtig om tablette of rekenaars te gebruik nie); 40-jariges kan met gesag en ervaring praat, maar is nie té oud om as irrelevant deur die jongeres afgemaak te word nie.

Emo Adams

Emo Adams, wat vanjaar ook sy 30ste jaar in die vermaaklikheidsbedryf vier, sê: “Hulle sê op veertig vat jy baie minder bollie van mense. Ek hoop dit skop in. Ek het nie ’n bucket list nie, maar wil altyd ’n goeie pa wees en soveel as moontlik tyd met my familie spandeer, want ek is so flippen baie tyd op die pad, mens sou sweer ek is ’n celebrity.”

I love her. #mydaughter

A post shared by Rolanda (@rolandamarais) on

Rolanda Marais

Die aktrise Rolanda Marais vertel sy het agtergekom almal is ewe onseker en krities oor hulself. “Sommige het net geleer hoe om daai stemmetjie in hul kop te mute, terwyl ander toelaat dat dit hulle beheer.” Sy sien uit na opwindende loopbaan-moontlikhede. “Ek het soveel respek vir Meryl Streep, Cate Blanchett en plaaslik vir Anna-Mart van der Merwe en Sandra Prinsloo. Hulle raak net mooier en beter met die ouderdom. Die werklik uitdagende rolle kom later in jou lewe as jy al meer gelééf het. Elke jaar se lewensinsigte is vir my magical. Gooi ’n baba in die mix . . . en jy ontdek ’n hele nuwe jy.”

Paul Rothmann

Paul Rothmann hou net nie van mense wat, soos hulle ouer word, voorgee dat hulle presiés weet waaroor die lewe gaan nie. Maar fisiek voel hy nou beter as ooit. “Danksy genoeg oefening, gesonde kos, heelwat tequila en die beeldskone Candice Boucher elke aand aan my sy. En die beste van alles: ek kon my veertigste vier met my seuntjie, Wolfie, wat [op 16 Januarie] 10 maande oud was.” Paul wil sy lewe altyd interessant hou en homself dwing om buite sy gesmaksones te beweeg. Hetsy deur die Oosterse gevegskuns, die skryf van ’n boek of ’n “belaglike” reisavontuur.

Diaan Lawrenson

Diaan Lawrenson vertel om te “laat gaan” was ’n groot les wat so saam met haar 40ste gekom het. “Ek wil alles self doen sodat ek seker is dit is reg, maar 2017 het vir my ’n pak slae gegee. Ek het heeltemal te hard gewerk en ek moes stil word en my pad vorentoe heroorweeg. Nou begin ek ’n span om my bymekaar maak wat ek vertrou om my te help. Dit is bevrydend. Ek het meer kreatiewe visie, want ek kan ’n beter produk lewer. My kop is nie op so baie plekke nie.” 

Martelize Brink. FOTO: Micky Hoyle

Martelize Brink

Ook Martelize Brink voel asof sy ’n soort “jurk” afgewerp het. “Ek het vrede met baie dinge – ek aanvaar my liggaamsfoute en fokus op gesond leef. Ek leef in dankbaarheid en probeer die lekker in elke oomblik raaksien, hoewel daar ook tawwe tye is. Die ander dag sê ’n ou tannie vir my sy dog ek is dan so ‘ordentlik’ toe sy hoor ek vloek . . . ek kon net lag. Ek hou nie daarvan dat mense my op ’n troontjie plaas nie. Hoe ouer ek word, hoe meer waardeer ek eerlikheid. Voorgee is ongesond,” sê sy. Sy is nou, in haar 40ste jaar, ook besig met ’n inspirasieboek, Die ander pad, wat gaan oor hoe jy vrede maak met dinge oor jou pad wat nie altyd uitdraai soos jy gedink het dit sou nie.

#beard #beardedmen #beardofinstagram #beards #bear #bears #lumberjack

A post shared by Fanie Cronje (@faniecronje) on

Fanie Cronjé

Die liefde is sy grootste geskenk en hy het dit eers later in sy lewe ontvang, vertel SARIE se Fanie Cronjé, wat op 39 getroud is. “Nou verstaan ek die liefde veel beter as op twintig en ek is bly ek kan dit beleef. Ek kies nou ’n maat wat my goed behandel en by wie ek veilig is. Toe ek jonk was, het ek ander boksies afgetik.”

Philip reken baie egpare is meer doelgerig in hul veertigs. “Hulle is nie meer tevrede met ’n middelmatige sekslewe nie. Hulle wil ook nie meer net-net finansieel oorleef nie. Sommige egpare, hoewel in die minderheid, hernu hul troubeloftes, terwyl ander vir huweliksterapie gaan of saam ’n nuwe stokperdjie begin om ‘lou’ huwelike te probeer red.”

Dit gebeur egter ook soms dat veertigplussers ontgogel is en reken hulle het niks in hul lewe vermag nie. Dit kan lei tot erge depressie, maan hy. “Kry professionele hulp. Indien jy dit ignoreer, gaan sake nie vanself verbeter nie. Maar as jy eerlike selfondersoek doen, sal dit jou gewoonlik aanspoor om positiewe veranderings te maak. En in jou veertigs is jy nog jonk genoeg om dit te doen,” meen Philip.

“Jonk genoeg” is die sleutel . . . Een van die groot sukses-stories van ’n veertigplusser is dié van die aktrise Viola Davis, nou 51, wat haar eerste Oscar-benoeming vir haar spel op die silwerdoek eers op 43 gekry het as beste ondersteunende aktrise in Doubt. Vandag spog sy al met drie Oscar-benoemings – en in 2017 het sy geslaag toe sy die goue beeldjie vir haar spel as Rose Maxson in Fences gewen het.

Daar is baie wysheid in dié aanhaling: “Vandag is ek 40 – nie oud nie, maar retro. Wanneer ek 60 is, is ek vintage, op 80, antiek. Maar oud? Nooit nie!”

Ekstra bronne: “6 Successful Women Who Didn’t Make It Until 40” op DailyWorth; www.bookofthemonth.com

"Veertig is ’n tweede asem van nog vele asems, ’n nuwe energie en opwindende dryfkrag." - Philip du Toit, berader en leefstylafrigter
10 dinge wat jy op 40 kan doen . . .

1. Waag. Pablo Picasso het gesê: “Ek doen altyd iets wat ek nie kan doen nie, sodat ek kan leer hoe om dit te doen.”

2. Jouself toestemming gee om jou siening oor enigiets te verander.

3. Vertel elke pêl hoekom jy hulle waardeer.

4. Leer hoe om iemand te troos.

5. Besef jy kan báie meer pret hê as jy seks het. Navorsers het bevind vroue wat begeerlik voel, is meer gewillig om seks te hê. Lees The Ripple Effect: How Better Sex Can Lead to a Better Life deur Gail Saltz.

6. Leer hoe om sosiaal te verkeer en beter te gesels op partytjies.

7. Onderskei tussen wat régtig belangrik is om oor te baklei en wat jy kan ignoreer. Besef jy is nie eens ’n sandkorreltjie in verhouding tot die kosmos nie – dit bring perspektief en help jou om jouself nie so ernstig op te neem nie.

8. Leer om jouself te vergewe. So nie, kan jy nie vorentoe beweeg nie. Probeer leer uit jou foute en om die “sin” daarin te vind.

9. Besef woede is nie die oplossing nie – leer om dit te laat “gaan”. Wanneer jy voel dit stu op in jou, begin diep asemhaal vir meer kalmte.

10. Luister fyn – dikwels hoor jy een ding, maar dit is nie noodwendig wat die ander persoon sê nie. As daar misverstande is, sê wat jy gehoor het en vra of jy reg verstaan.

Bronne Things To Do Now That You’re . . . 40 deur Rebecca Hall; “20 Things Everyone Should Master by Age 40” op oprah.com

Emo Adams Foto Willem Lourens
Rolanda Marais Foto Leana Clunies-Ross
Paul Rothmann Foto Leana Clunies-Ross
Diaan Lawrenson Foto Leana Clunies-Ross
Martelize Brink Foto Myburgh du Plessis
Fanie Cronjé Foto Willem Lourens