Dis een van ’n paar hoogtepunte wat hy uitsonder: om met ’n hoed deel te neem aan ’n 2006-uitstalling van die Fashion Institute of Technology in New York, toe die befaamde hoedemaker Stephen Jones hom vra om ’n hoed te maak vir ’n 2009-uitstalling by die V&A in Londen (net drie hoedemakers van Amerika was deel van die oorspronklike uitstalling!).

"En om nou deur Anna en Vogue gevra te word – die ultimate kompliment!”

 Parys is boonop die lieflingstad van Albertus, die Suid-Afrikaanse hoedemaker wat die afgelope 22 jaar in New York woon. Hy wou eintlik in sy baie jong dae in die Franse hoofstad gaan werk het, maar toe verloop sy lewe anders en New York "tref” hom. Nie dat hy spyt is nie ... hy is gék na New Yorkse straatmodes. Maar hy glo Parys is die "moederskip van modes.”

Wat die Franse modekenner Coco Chanel vir "the little black dress" gedoen het, het hý vir hoede gedoen.
Hy is van 3 tot 5 Maart by die "Americans in Paris” Wintermode-handelskou in die Palais-Royal. Dié paleis oorkant die Louvre was aanvanklik, van 1585 tot 1642, die blyplek van die kardinaal en staatsman Richelieu, sê Wikipedia.

Oorbluffling, blydskap, angs en bekommernis het dadelik deur sy kop gegaan toe hy hoor hy is een van 10 ontwerpers wat by dié modeskou gaan wees. Al 10 is vorige wenners of finaliste van die Council of Fashion Designers of America (CFDA)-toekennings, en Albertus het in 2008 ’n tweede prys in die CFDA-toekennings gewen. Daar gaan onder andere juweliersontwerpers, ’n skoenontwerper en klere-ontwerpers wees.

Maar hy gaan ’n paar van sy bestes wys en werk soos ’n besetene. "Ek is ontsettend hard op myself. Dis daai Calvinisme-ding! Ek is bittermin tevrede met wat ek doen. Ek het iewers gelees ’n Franse filosoof het gesê 'happiness is a shortcut to mediocrity'. Dis my motto. Ek wil altyd béter doen. Ek is op die oomblik obsessief oor kamoeflage. So ek het ’n hoed en serp van geskeerde egte nerts gemaak en dit lyk soos kamoeflage. En dan is daar hoede uit brokaat en nylon. Ek is ook mal oor Harrison-tweed. En ek wil ’n paar Afrika-goed doen, natúúrlik.”

As deel van die projek is hy en die nege ander uitstallers ook gevra om een van die ontwerper Tommy Hilfiger se jasse in ’n militêre styl (trench coat) volgens hul eie styl te interpreteer. "Mý voorstelling was met sis. Ek het vyf idees aan Anna voorgelê en sy het die Suid-Afrikaans geïnspireerde een gekies. Hilfiger se wen-keuse gaan in sy  winkels in Milaan en Parys verkoop word.”

Op 2 Maart borg Tommy Hilfiger ’n skemerparty vir die tien ontwerpers, onder wie Albertus, by die Amerikaanse ambassadeur se huis in Frankryk. Later die aand woon hulle ’n private ete by in ’n nuwe klub wat deur die Amerikaanse rolprentmaker David Lynch ontwerp is. Die aktrise en musikant Kim Gordon tree by dié geleentheid op.

"Ek onderhandel ook op die oomblik met Anthropologie, ’n wonderlike winkel hier, om iets gróóts met hulle te doen.”