Die SA model Katryn Kruger is gesog by internasionale modehuise soos Louis Vuitton en Prada. Maar vir haar gesin is sy net ‘‘Katryntjie” en daar is groot opgewondenheid oor elke advertensie-veldtog. Só is daar ook uitgesien na SARIE se November 2012-modestorie met haar as model. Het die spreekwoordelike dobbelsteen maar net toevallig vir haar reg geval, of lê daar veel meer agter haar sukses? SARIE het met haar gesels...

“Ek glo nie aan toeval of geluk nie, maar aan God se plan. Hy het bestem dat ek op die regte tyd op die regte plek was. Die akteur en modelwerwer Robert Bester het my drie jaar gelede in ’n Kaapse winkelsentrum raakgesien en ’n modekontrak aangebied en my loopbaan het vlam gevat. Mense sê ek was lucky, maar dit was nie so eenvoudig nie. Daar was ook onsekerheid en opofferings. Modelwerk verg lang ure. Ek is dikwels lank weg van die huis, mis die gewone tiener- en gesinsdinge en is dikwels alleen in ’n vreemde stad. Soos alle gelowiges het ek ook soms vrae oor die Godsplan. 398198_431006796912970_1590445097_n Natuurlik is ek dankbaar vir groot loopbaan-hoogtepunte. Verlede jaar het ek byvoorbeeld saam met die beroemde Amerikaanse fotograaf Steven Meisel aan die modehuis Prada se Lente 2012-klerereeks gewerk. Kort daarna het my eerste loopplankwerk in Parys vir die modehuis Givenchy se Lente/Somer 2012-modevertoning gevolg. Ek is ook in 2012 as een van die Top 10 Faces [nuwe modelle wat internasionaal begin naam maak het] aangewys. Die ‘moederowerste van mode’, Anna Wintour, redakteur van die Amerikaanse Vogue, wou my hierna persoonlik in haar kantoor in New York ontmoet. Ek was al in onder meer die Russiese, Franse, Duitse en Japanse uitgawes van Vogue. Top-fotograwe soos die Peruaan Mario Testino en die Brit David Sims het my meer oor dié bedryf geleer. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek glo dit sal goed gaan.

‘Mense sê ek was lucky, maar dis nie so eenvoudig nie’

Ek luister altyd na my instink voor groot besluite. Daardie ‘stemmetjie’ en insig kom van my opvoeding deur my ongelooflike ouers, my ma, Aletta, ’n bedryfsredakteur, en pa, Piet, ’n finansiële adviseur en onafhanklike makelaar. Hulle het my en my broer, Albert [15], baie selfvertroue gegee. Ek is nie bang vir nuwe dinge nie. Ek omarm trouens geleenthede. Ek weet ek sal suksesvol wees. Pas het ek deur die Cambridge College in Kaapstad my matriek verwerf en vertrek op 10 November na New York vir modelkontrakte. Ek het ook geleer saam met harde werk is geoefende ‘oorlewingspiere’ noodsaaklik. As ek nie oorweeg word vir sekere kontrakte nie, aanvaar ek dit. Jy durf nie tob as jy verwerp word nie. My oorlewingspiere moes as jong model sterk word. Ek glo jy moet lesse leer uit slegte goed en aanbeweeg. Balans is so belangrik. Ontspan en ‘wees’ net ná ’n harde dag saans by jou mense en troeteldiere. As die ‘af tye’ kom, dink ek aan die voordele van my werk: reise na Parys, New York, Stockholm, Milaan, Londen. My paspoort is vol stempels. As klein dogtertjie sou ek nooit kon dink my lewe sou só uitdraai nie. Dit is ervarings wat my menswees slyp.’’

309228_524382964242019_1112306067_n

Donna McCallum, 'n leefstylafrigter van Kaapstad, glo weer vas in die krag van serendipity - oftewel "gelukkige toeval". Sy glo jy kán jou drome waar maak. Haar raad is:

  • Wees nuuskierig, want dit lei jou na interessante plekke waar jy nuwe dinge oor jouself en die lewe leer ken.
  • Sê altyd “ja’’ vir nuwe ervarings. Jy sal jouself verras.
  • Beoefen dankbaarheid – ook as dinge verkeerd gaan. Hoe gaan jy anders leer?
  • Beskou elke dag as ’n nuwe geleentheid. Al leer jy net iets kleins. Dit voed jou selfvertroue.
  • Geniet die lewe, maak tyd vir jou vriende en familie, help mense, moet nooit bang wees om jouself emosioneel oop te stel nie. Dít is wanneer die wonderlikste dinge in jou lewe gebeur. Onthou, as jy nooit jou voordeur oopmaak nie, sal mense ophou klop.
  • Stap altyd met ’n regop rug die toekoms in.

* Klik ook by www.fairygodmother.co.za, Twitter: @FairyGodmother of besoek Facebook.com/TheFairyG

SARIE NOVEMBER 2013

Lees ook in die November-uitgawe van SARIE wat sê Hanneke Schutte, bekroonde draaiboekskrywer van Johannesburg, oor geluk