Baie mense wil Brett se weergawe van Fiela se kind vergelyk met die ou Fiela van die rolprentmaker Katinka Heyns wat dertig jaar gelede uitgereik is.

Was dit nie ’n reuse-uitdaging nie? “Dit kán nie vergelyk word nie, want ons wou ons eie weergawe maak. Katinka se rolprent was ikonies en ons eer dit. Ek het die eerste fliek slegs een keer gaan kyk en het nie die noue verbintenis daarmee soos baie mense het wat dit elke Kersfees gaan kyk het nie.”

View this post on Instagram

A post shared by ???????? P?????????????? (@kyraa.phillips) on

Brett kon die nuwe Fiela dus vars benader. Hy glo voorts niemand “besit” ’n storie nie. “Ek dink selfs Dalene Matthee sou gesê het sy dien die storie van die bosmense, nie andersom nie.”

Hy meen dit is onsensitief om te sê niemand kan Shaleen Surtie-Richards se skoene volstaan as Fiela nie. “Zenobia Kloppers wou nie. Daar is één Fiela, die karakter in die boek. En daar is twee vroue, dertig jaar uit mekaar, wat haar op verskillende maniere voorstel, in twee rolprente. As daar elke paar jaar verskillende voorstellings van Spider-Man of Batman kan wees, is dertig jaar tussen twee Fielas seker lank genoeg?”

Brett hoop daar gaan nóg variasies op die rolprent wees in die toekoms.

“Klassieke letterkunde soos Shakespeare se Romeo and Juliet of Pride and Prejudice van Jane Austen kan tog op verskillende maniere geïnterpreteer word.”

Hy gee toe dit is altyd moeilik om ’n boek in ’n draaiboek te verwerk. “Jy moet weet waarop jy wil fokus. Ek wou die verhouding tussen Fiela en haar seun Benjamin ontgin en het min aandag aan die liefdesverhaal tussen Nina en Benjamin gegee. As jy álles wil inwerk, sal die fliek ses uur lank wees en niemand sal daarna kyk nie.”

Hy het temas probeer kies wat relevant is in Suid-Afrika vandág.

Reën, modder, sneeu, hitte – áls in die bos kon hulle daarvan weerhou om ’n goeie fliek te maak.

“En tog, met ’n klein begroting, het ons daarin geslaag om Dalene Matthee se ikoniese verhaal wat in die 1880’s in die Knysna-woude afspeel, met kinders, perde, volstruise en boswerkers te maak,” sê Brett.

Hoewel hy baie tevrede is met die eindproduk, reken hy ’n goeie fliek se sukses word nie noodwendig weerspieël deur teaterbywoning nie. “Heelparty dinge beïnvloed bywoning: die digitale aanslag, soos Netflix, mededingende internasionale rolprente. Ernstige dramas is ook nie noodwendig geskikte gesinsvermaak of iets vir date-aande nie. Plus ons moes met die Wêreldbekerrugby meeding toe dit uitgereik is. Fliekkyk is ook deesdae ’n luukse.”

Hy voel bevoorreg om sy drome uit te leef. “Jy wéét jy gaan nie ryk word nie, maar mense moet ons nie jammer kry omdat ons doen waarvoor ons lief is nie.”