Marisa Drummond het ná net drie maande as prof. Alexa in Binnelanders die Royalty Soapietoekenning vir beste sepiefeeks gekry. Maar Marisa is in die regte lewe ’n liefdevolle ma vir Annabel (nou 2). Sy gesels met SARIE oor haar stryd met postnatale depressie.

Wat het jy by jou ma geleer wat jy ook vir Annabel wil leer?

Om jouself te wees en uiting te gee aan jou emosies. My ma was nog altyd my rolmodel. Sy’t my geleer as jy op jou slegste voel, maak jouself op jou mooiste. Ek wil net my beste vir Annabel gee, want ek kon dit nie heel in die begin doen nie omdat ek erge postnatale depressie gehad het.

Hoe het jy besef jy het postnatale depressie?

Ek het ’n wonderlike swangerskap gehad, maar die geboorte was moeilik. Ek moes ’n noodkeiser kry en dit was so seer, ek dink my brein het afgeskakel. Ek was afgestomp van enige emosie en het besef ek’s in die moeilikheid, maar ek het vir niemand gesê nie want ek kon dit nie verstaan nie. Ek kon nie praat of eet nie, het selfs angsaanvalle gekry. My man, Christopher [’n sakeman], het die eerste maand tuisgebly en vir haar gesorg. Teen die derde week het ek my ma gebel en gepleit dat ek tog net liefde vir my kind wil voel. Sy’t besef dis postnatale depressie omdat sy dit ook met my broer ervaar het. ’n Dokter het dit toe by my gediagnoseer.

Hoe hanteer jy dit nou?

Ek gebruik steeds medikasie vir die depressie en dit gaan baie beter. My man en ma is ’n sterk ondersteuningsnetwerk. Ek’s nie skaam om daaroor te praat nie. Te min ma’s doen dit.

* Dít is deel van ’n artikel wat in SARIE se Junie 2014-uigawe verskyn het.