Anél Viljoen, 'n SA verpleegster, werk reeds tien jaar by The Grange Nursing Home in Stanford in the Vale, Oxfordshire, Engeland. Sy verpleeg onder andere die 110-jarige Katie Masters en was dáár toe prins William vir Katie kom besoek het.

"Ons het nie 'n idee gehad hy kom nie! Ons het eintlik vir Ed Vaisley, die plaaslike parlementslid, verwag ter ere van Katie se 110de verjaardag. Ed wou tevore by Katie weet of sy enige spesiale versoek het. Sy wou graag een van die koningsgesin ontmoet, maar nie die koningin nie. 'One of the boys', want hulle het na sulke lieflike kinders gelyk.

Ed het gebel en gesê hy het 'n verrassing vir ons as hy kom tee drink. Ons het die sjokolade-éclairs, skons, room en tee gereed gekry vir die besoek.Toe Ed opdaag, was dit met die nuus dat prins William ook oor vyf minute kom!

Ek het gevoel asof ek in 'n droom leef toe hy daar instap. Wie sou kon dink dat ek,'n boorling van Bonnievale, die prins sou ontmoet? Hy't ons met die hand gegroet, op die voetstoel reg langs Katie gaan sit en onmiddellik begin gesels. Katie wou sy knie knyp om seker te maak hy's regtig daar. Hy het toe heerlik gelag en 'n bietjie gebloos.

Hulle het onder meer oor die wêreldoorloë en herderspastei gesels, en hoe om kapokaartappels fluffy te maak. Toe hy vir Katie vra wat haar resep vir 'n lang, gesonde lewe is, sê sy om elke dag 'n gin and tonic te drink - maar sy het ophou rook op 80!

Katie het ook gesê sy is nie tevrede daarmee dat die koningin nou al 'n paar jaar vir haar 'n verjaardagkaartjie stuur waarop sy dieselfde geel rok dra nie (die koningin stuur kaartjies vir Britte van 100 jaar en ouer). Hy het verduidelik sy laat elke vyf jaar 'n nuwe foto neem vir dié kaartjie.

Prins William is saggeaard, soos sy oorlede ma, Diana, en draai sy kop ook soos sy. Hy is baie plat op die aarde.Toe Katie sê dis 'n voorreg om hom te ontmoet, het hy gesê dis 'n voorreg om háár te ontmoet. Ek kon nie wag om vir mense te vertel van die ontmoeting nie. Die storie het ook in Hello UK verskyn."

** Lees ook in jou September-uitgawe van SARIE hoe Willie Esterhuizen gevoel het toe Molly & Wors een van die gewildste komediereekse op kykNET geword het. Ons gesels ook met Mej. Nieu-Seeland ('n boeremeisie van die Kaap).