Sy het ’n kort, stekelrige platinum-haarstyl en haar jeans pas soos ’n tweede vel aan haar lenige lyf. Annake de Villiers het eerder die voorkoms van ’n rock chick as van ’n klassieke violis. Haar klerestyl het saam met haar musiekstyl verander. Salsa-musiek (en Jannie Moolman) het haar gehelp om ’n balans te vind tussen klassieke musiek en ligter note. Onder Jannie se invloed het sy ook rustiger geword. Sy is nou meer sosiaal en minder sku. Voorheen moes sy iemand eers goed ken om lekker te kuier. Lank voor hul troue het sy reeds geweet hy is die één man van wie sy nie sal wegskram as hy sou ernstig raak nie . . .

Hulle was drie en ’n half jaar saam toe hulle op Clarens getrou het. Dis nou drie en ’n half jaar later en hulle is geesgenote. Jannie se eerste huwelik van sewe jaar het weens druk van sy loopbaan gesneuwel, daarom is dit lekker dat Annake in dieselfde bedryf is en die eise ken. Soms gaan elkeen sy eie koers vir optredes en soms tree hulle saam op. Maar as hulle wil ontlaai, verkies hulle om dit iewers te doen waar dit net hulle twee is. Hul huis in Benmore, Johannesburg, is hul hawe. Daar wag hul drie hondekinders, die Weimaraner Saartjie, die Skotse terriër Angus en die Jack Russell Misha, vir aandag. Dis ’n ruimte wat hulle nie te ver in die toekoms nie graag met ’n baba wil deel. Hulle is dolgelukkig. Al klink hulle na teenpole is daar ’n wedersydse gee en neem. Hy leer haar ontspan, en sy hou hom bietjie in toom. Sy kyk na detail, hy kyk na die groter prentjie.

Wat was jou beste Kersfees?
’n Bederf by die Caledon Spa saam met Jannie, stil en idillies.

Wat sal jou grootste geskenk wees?
’n Vliegkaartjie om om die wêreld te reis, maar vrede en geluk is genoeg vir my.

Wat sal jy vir Jannie gee?
As ek baie geld het,’n Bosveld-wildplaas, andersins naskeerparfuum. Beslis nie mooi hemde nie. Hy dra tog net daardie Johnson-hemde wat hy by die koöperasie koop!

Jou kinderjare het ’n moeilike begin gehad?
My ma, Yvonne, is net ná my geboorte met kanker gediagnoseer. Ek het haar die eerste sewe jaar van my lewe min gesien, want sy was gedurig in die hospitaal. Sy wou nie gehad het hulle moet my hospitaal toe bring nie oor sy baie siek was. My ouma, Kay Fairley, het van Kaapstad af Bloemfontein toe gekom om my en my ouer boetie en sussie te versorg. Teen my agtste jaar het my ma herstel en ons moes haar van voor af leer ken. Dit was die bindingsproses wat ek ná geboorte moes gehad het. Dit het my hele lewe beïnvloed. Ek het gevoel sy verwerp my en ek was te klein om te besef sy was siek. Sy het haar bes gedoen om te vergoed daarvoor en my na musiekklasse rondgery. Sy het selfs klavierlesse geneem om my te kan help. Sy was ’n verpleegster en baie kwaai: Ons het baie gehaak.

Toe volg moeilike tienerjare?
Ek het baie weggeloop. Ek het sedert ek 16 was my eie geld verdien deur in Sukovs se orkes te speel. Ek het dikwels ’n vliegkaartjie Kaap toe gekoop en ’n paar weke by my ouma gaan afkoel. My ma is vier jaar gelede oorlede en ons het uiteindelik ’n goeie verhouding gehad. My ouma is nou 89 en sy is steeds die moederfiguur in my lewe.

Waar het jou musiektalent begin groei?
Ek het op vier blokfluit begin neem, maar voor my sewende verjaardag het ek ’n simfonie-orkes op TV sien optree en op die viool verlief geraak. Ek moes lank aan my pa, AP, ’n narkotiseur, karring voordat hy ’n viool gekoop het. Daarna wou ek nooit weer ophou speel nie.

Wie is jou mentor?
Die dirigent Gérard Korsten het my deursettingsvermoë en dissipline geleer.

Hoe het jou loopbaan afgeskop?
Ná my B.Mus.-studies aan die Vrystaatse Universiteit was ek twee jaar verbonde aan Truk se orkes in die Staatsteater in Pretoria. Dit was altyd my droom om in ’n orkes te speel, maar dit was ontnugterend. Ek het saam met ’n klomp buitelandse musikante gespeel. Hulle was almal ontevrede, oorwerk en onderbetaald. Ek het ná twee jaar besluit ek kan nie twintig jaar in die orkes bly en soos hulle word nie.

Toe gaan jy op ’n sabbatsreis?
Ek het eers in Suid-Afrika en toe in Londen ’n kursus gevolg om volwassenes Engels te leer. Ek was ongelukkig en arm in Engeland. Bedags het ek geleer en saans in ’n kroeg gewerk. Daarna is ek Brasilië toe waar ek Engels gegee het, ’n luilekker lewe sonder sorge. Ek praat steeds Brasiliaanse Portugees vlot.

Die begin van jou oorgang na meer gemaklike musiekgenres het daar begin?
Ek het in Brasilië viool gespeel by ’n vriendin se troue. Die salsa-orkes wat ook by die troue opgetree het, het my genooi om saam te speel. Ek het lid van die orkes geword en geleer om ritmiese klanke uit my viool te tower.

Jou tydperk oorsee was ’n U-draai in jou lewe?
Dit was ook ’n emosionele reis, want ek moes myself vind. Ek moes my horisonne verbreed en dit het my verskeie kulture, musiekstyle en genres laat ervaar. Die ervaring was die inspirasie agter my eerste CD, U-Turn, want my musiekstyl en lewe het ’n U-draai gemaak.

Het dinge in jou afwesigheid verander?
Die Truk-orkes en die Nasionale Simfonie-orkes het ontbind. Dit was jammer, maar om in ’n orkes te speel was nie meer my droom nie. Ek het by Weiss Doubell se Pro Musica in Gauteng aangesluit. Dit was by een van ons uitvoerings dat ek Jannie ontmoet het.

Die groot liefde?
Ek was bang om gebind te word. Maar Jannie was anders. Toe ek hom leer ken, het ek reeds ’n plastiese chirurg gevra om my na my suster se troue te neem. Hy was skatryk en het belang gestel, maar my hart was klaar verlore. Ek en Jannie vul mekaar aan. Hy is gelykmatig en bekommer hom nie oor kleinighede soos ek nie. Hy maak altyd ’n plan en is meer buigsaam, terwyl ek meer gedissiplineerd is.

Toe kry jou loopbaan nog ’n kinkel?
Deel van my grensverskuiwing was die klassieke rock-produksie Sonder Grense by die Volksbladfees in 2003. Ek was nie gewoond om op die verhoog rond te beweeg nie en het die regisseur só geïrriteer dat hy later rooi kruise op die verhoog geplak het om my te wys wat ek moet doen. Daarna het ek in Rock Me Amadeus en Roll Over Beethoven in die Barnyard-teater in Gauteng geleer om nog gemakliker op die verhoog te wees en om sonder bladmusiek te speel.

Mis jy groot orkeste?
Ek is steeds lid van ’n paar klassieke orkeste. Orkes-optredes het my geleenthede gegee om verhoë te deel met internasionale sterre soos Josh Groban, Luciano Pavarotti, Helmut Lotti en Joshua Bell.

Jy tree ook baie saam met Steve Hofmeyr op?
Ek was nie voorheen ’n aanhanger nie, maar ek het nou baie respek vir die 100% toewyding aan sy gehoor en bewonderaars.

Jy het ’n spesiale band met jou viole?
Ek verkies my akoestiese viole. My elektriese viool het ’n harde, kunsmatige klank. Elke akoestiese viool het sy eie klank en die violis kan ’n sekere klank daaruit kry: Dis soos ’n violis se handtekening. My huisviool is in 1586 gebou. Dit het nie ’n handelsnaam nie, maar is ’n Italiaanse viool met ’n fantastiese klank. Dit het aan my eerste musiekonderwyser, Abrie de Wet, behoort en ek het jare aan hom gekarring om dit aan my te verkoop. Dis te kosbaar om mee te reis. My optree-viool is ’n goeie Duitse viool.

Toekomsplanne?
Ek begin ál meer in ’n sakerigting dink. Dit sal met musiek verband hou. Ons wil met ’n gesin begin, maar dan sal ek nie so baie kan toer nie. Kinders sal ’n groot kopskuif vir ons wees, maar ons biologiese horlosie stap aan: Ek is 32 en Jannie 40.

Wat kan ons van jou nuwe CD verwag?
Santa’s Violin word einde November uitgereik. Dis ’n instrumentale album met Kersfees-gunstelinge soos Koos du Plessis se “Somerkersfees”, “Stille Nag”, “Jerusalem”, “Herders op die ope velde”,’n paar Boney M-Kersfeestreffers en klassieke Kersliedjies soos “Little Drummer Boy” en “Jingle Bells”. Ek doen dit in samewerking met Swartland Wyne om geld in te samel vir die Rapport Onderwysfonds.

Annake se gunstelinge

KOS: Witvleis, seekos, oesters
MUSIEK: Ladies in Lavender se klankbaan of Elgar se enigma-variasies
FLIEK: Love Actually
BOEK: Speur- en avontuurverhale soos Along Came a Spider van James Patterson
AKTEUR: Jack Nicholson
AKTRISE: Nicole Kidman
OOMBLIK: In Kirstenbosch by die Josh Groban-konsert het dit gereën terwyl hy “Remember When It Rains” gesing het.
PLEK: Voëlklipstrand op Hermanus, my kinderdae-vakansieplek

JANNIE
Die man met die kenmerkende Johnson-hemde wat hy by die koöperasie koop, is pure boerseun. Maar Jannie Moolman is ook een van ons mees bekroonde tenore. Ons het hom die afgelope paar jaar opnuut leer ken as ’n sanger wat moeiteloos van opera na ligter musiek kan beweeg. Dis ’n skuif waaroor hy steeds gekritiseer word. Maar hy het vrede gemaak met kritici se menings. Met die subsidies vir operas wat opgedroog het, het hy finansieel nie ’n keuse gehad nie. En saam met die wending in sy loopbaan het ’n fyn blonde violis sy lewe nuwe dimensie kom gee. Hy het Annake die eerste keer raakgesien toe sy sewe jaar gelede in die Roodepoort-stadsteater in Weiss Doubell se konsertweergawe van La Bohème opgetree het. Hy het gedink die violis in die musiekput is oulik en by die partytjie agterna het hulle lekker gekuier. Hy het kontak behou, maar haar eers twee maande later uitgevra. Daarna was hulle onafskeidbaar.

Het sy jou oorrompel?
Ons werk saam, kuier saam, baklei soms, maar ons is pasmaats. Sy is vol pret . . . soms befoeterd ook. Ons deel ’n passie vir musiek en albei ons loopbane het van klassiek na ligte musiek gestap.

Jou loopbaan het jou eerste huwelik geknou?
Ek was lang tye weg van die huis en dit was moeilik vir Karin. Dit het beslis ’n invloed gehad. Ek is jammer daaroor, maar ’n mens maak foute en jy moet aangaan.

Van watter groot operarol droom jy?
Ek het hier en in Europa al die meeste groot tenoor-rolle gesing, maar ek sal graag eendag prins Kalaf in Turandot wil sing.

Toekomsdrome?
Ek wil nog musiekmylpale bereik, maar eintlik wil ek net gelukkig wees. Ek is tevrede met wie ek is en waar ek nou in my lewe is.

Jy lyk so vroom, maar jy is onnutsig?
Ek was ’n baie stoute kind. ’n Onderwyser het my sommer by voorbaat pakgegee ingeval ek dalk iets gedoen het waarvan hy nie weet nie. Ek werk hard, maar kuier soms ook lekker.

Hoe ontspan jy?
Ek kyk rugby. Soos die meeste Suid-Afrikaanse seuns het ek ook daarvan gedroom om eendag op Loftus te speel. Ek het darem soms vir die Hoërskool Ladysmith se eerste span uitgedraf en op universiteit vir die koshuis en soms vir die onder 20-span.

Jy het al vir Pavarotti gerepeteer?
Met sy eerste besoek in 1996 het ek op Loftus sy repetisies vir hom gedoen. Voor sy opening het hy seker gemaak alles is reg. Hy het nie eers erkenning gegee aan my teenwoordigheid nie. Ek het hom as baie knorrig ervaar. Ek was teleurgesteld, maar ek bewonder steeds die talent wat hy gehad het

Is jy opgewonde oor die blomtydperk in plaaslike musiek?
Dis ’n borrel wat opbou en gaan bars. ’n CD het ’n luukse item geword. Die nuwe kredietwet het reeds ’n invloed op verkope. Daarby neem lang speelvakke van musiekblyspele soos The Lion King en die besoek van internasionale sterre groot happe uit mense se vermaakbegrotings.

Hoe hanteer jy kritiek?
Ek probeer om my nie daaraan te steur nie. Soms word jy geprys en soms afgekraak. Ek moet voldoen aan my eie standaard. Toe ons 4Werke-vertoning (saam met Sunette Bridges, Karla du Plessis en Annake) by verlede jaar se KKNK so skerp gekritiseer is, het ek weer besef resensente het nie altyd die nodige diepte en agtergrond nie. Ek het my misnoeë uitgespreek teenoor die betrokke resensent en Sunette Bridges het hom ook ingevlieg. Ek dink ’n mens het die reg om te kla, maar daar is perke. Ek het hom later verskoning gevra vir my krasheid. Maar ek dink hy het die boodskap gekry.

Is jy bly jy het genres oorkruis?
Sedert die middel negentigs het die staatsubsidies vir opera opgedroog. Ek kon nie meer as operasanger alleen oorleef nie. Ek sing steeds opera as die geleentheid daar is, maar ek het baie respek vir kommersiële musiek gekry. Ek geniet dit. Maar ek sorg dat ek altyd in my vertonings ’n klassieke element het. Daarmee wil ek mense wat nie andersins in klassieke musiek sou belang stel nie, daarvan leer.

Wie was jou mentors?
Die stemafrigters Gudrun Barella, Marita Napier en Eric Muller.

Is Europa nie meer vir jou ’n opsie nie?
Ek het van 1994 tot 2001 gereeld daar opgetree. Ook in Brittanje, Hongkong en China. Ek was nog nooit spyt ek het dit gedoen nie. Ek sal weer daar gaan sing, maar ek wil nie ’n lewe daar maak nie. My lewe is in Afrika waar ek ’n Afrika-sonsopkoms kan sien en die stof en beesmis kan ruik. Ek hou van die bos en van jag en visvang.

Wie is jou naaste familie?
My ouers, Petrus en Betsie Moolman, wat op Newcastle boer, en my ouer broer, Soon, en ouer suster, Magda, wat albei onderwysers is.

Jy en Annake sluit die jaar besig af?
Ons gaan onder meer by Hartenbos, Mosselbaai en langs die Weskus toer met Jannie Moolman en die broers (Cobus en Christo Snyman).

En Kersfees?
Ons gaan vanjaar na familie op George vir ’n tradisionele Kersfees met ’n boom en geskenke.

Wat sal jou grootste geskenk wees?
’n Wildplaas, lekker kos en beslis vrede.

Wat sal jy vir Annake koop as jy baie geld het?
Sy is mal oor reis. Ek sal ’n eilandvakansie bespreek.

Jannie se gunstelinge

KOS: Pap en wors
FLIEK: Star Wars
BOEKE: Nie-fiksie en biografieë
PLEK: Krugerwildtuin
WOORDE: “May you live in interesting times” - Chinese gesegde
MUSIEK: Van jazz tot opera en country
AKTRISE: Michelle Pfeiffer
AKTEUR: Nicolas Cage, Jack Nicholson
OPERASANGER: Placido Domingo
DIRIGENT: Gérard Korsten