“Vroue se intuïsie is baie skerp as dit by hierdie dinge kom.” Só het Sandra gesels in ’n eksklusiewe onderhoud met SARIE oor die verbrokkeling van haar verhouding met haar lewensmaat van sewe jaar.

Sodra jy na jou sesde sintuig luister, moet jy ’n besluit maak, sê sy. “Besluit wat jy met daardie besef wil doen.  Baie vrou besluit hulle gaan aan met die verhouding, hoop dit (die gevoel dat alles nie reg is nie) gaan eendag weg. Ek is nie een van daai vroue nie. Daar’s verskillende dinge wat ’n rol speel, soos kinders en so aan. Maar as die verhouding jou miserabel maak, jou siek maak, wat’s die punt? Jou kinders gaan dit in elk geval agterkom.”

Vroue maak ook dikwels die fout om hul geluk van iemand anders te laat afhang.  “Geluk hang glad nie van ’n verhouding af nie,” sê sy, “dit hang van jouself af. ’n Ander mens kan jou nie gelukkig maak nie. Jy kan gelukkige tye deel met iemand, maar hulle kan jou nie gelukkig maak nie. Jy moet dit in jouself kry. En daar’s baie maniere. Mens moet net die manier kry wat vir jou werk. As jy nie ’n volronde mens is wat gelukkig is in jouself nie, kan jy nie ’n gelukkige verhouding hê nie.”

Een manier om geluk te vind, is om die beste mens te wees wat jy kan wees, onder alle omstandighede, sê Sandra. “Dis eintlik wat ek dink mens se doel hier is. Be the best you can be. Groei, groei groei. Hou net nooit op met groei nie. Jy moet gedurig vir jouself vrae vra, en jy moet gedurig diep in jouself delf om dinge te verstaan , na vore te bring, te belig.”

*Lees ons volledige onderhoud met Sandra Prinsloo in die Augustus-uitgawe van SARIE met aktrise Erica Wessels op die voorblad.