Watter uitdagings hou ’n akoestiese album in?

Een van my grootste lewensleuses is less is more. Ek glo elke liedjie moet verwerk word op die manier of in die styl wat dit die beste gaan pas. Tog voel ek ’n mens kan ook baie rou en oop wees met baie min. Ekself luister graag na gestroopte musiek. Daar is krag in weerloosheid versteek.

Twee bekende liedjies, "You Are My Sunshine" en "Can't Help Falling In Love With You", is op die album ingesluit. Hoekom juis hierdie twee?

Ek is gevra om my eie weergawe van “You Are My Sunshine” vir die Afrikaanse rolprent Stroomop op te neem en dit was ’n besonderse ervaring. Kort daarna het talle mense begin vra waar hulle die liedjie kan kry, so dit was eintlik ’n natuurlike en organiese besluit. En “Can't Help Falling In Love With You” is ’n old favourite. Ek het dit onlangs weer by ’n troue gesing – dit was die bruidspaar se instapliedjie. Ook dít het net reg gevoel.

Beskryf jou persoonlike styl.

Ek was nog nooit ’n trendy mens nie. Selfs in my tienerjare het ek nog altyd ’n vintage-styl gehad. Ek het eintlik al van kleintyd af in my oumas se kaste ingevaar, selfs al was hul klere nog te groot vir my. Op 16 het ek begin om van hul rompe en rokke dra. Oor die jare het my liefde vir volhoubare mode net gegroei en ek het ’n passie daarvoor ontwikkel om mindful te wees, om meer minimalistiese klerekas te hê.

Kan jy drie stylwenke met lesers deel? 

1. Dra altyd wat outentiek jy is. Iets waarin jy gemaklik voel, waarin jy confidence het.

2. As jy nie van hakke hou nie, is dit ook reg. Daar is baie mooi platter skoene.

3. Moenie bang wees om iets nuuts te probeer en uit jou gemaksone te beweeg nie. Dalk hou jy daarvan ... en indien nie, kan ’n vriendin dit benut.

FOTO Mandy Stander

Wat is jou gunsteling-item in jou klerekas?

Ek sou sê my blou hooggesnyde jeans. Ek kan dit saam met amper enigiets dra.

Jy kry die kans om enige instrument in die wêreld te bemeester. Watter een sou dit wees?

Die klavier. Ek speel kitaar, maar ek voel ’n mens kan soveel met ’n klavier doen, veral om jou wêreld van liedjieskryf te vergroot.

Hierdie jaar was vol onsekerheid. Het jy ’n sêding of mantra wat jou positief hou?

Ek dink dis belangrik om te voel wat jy voel en deur daardie proses te gaan. As jy die dag voel jy sukkel en jy moet huil of net wees, doen dit dan. Mens moet definitief nie jou gevoelens onderdruk nie, want dit sal net later weer opduik, dalk in ’n erger vorm. My grootste mantra in die lewe is: Follow your gut. Leer om te luister na daai stemmetjie. Vertrou dit. As iets nie reg voel nie, moet dit nie doen nie. Ek dink dis ’n goeie resep vir ’n positiewe lewe.

* Janie Bay se In die Sitkamer kan hier gestroom word.