"Ek het lank uitgehou ter wille van my en Rudi se vriendskap, maar ek het 'n punt bereik waarin ek wonder of vriende so teenoor mekaar optree soos Rudi en sy eggenoot Stephen teenoor my opgetree het." Corlea sê daar is al van begin laas jaar konflik onder die Lieflinge. "Ek en my ma, Mesadi, en Rudi en Stephen het almal sterk persoonlikhede. Ons het al lelik vasgesit op toer, maar kon op 'n manier dinge aanmekaar hou. Ek voel die konflik het groter geword omdat ons nog nooit by die kern van die probleme uitgekom het nie." Corlea vermoed Stephen (wat die sangpaar se bestuurder was) en Rudi het nie altyd haar belange op die hart gedra nie. Sy het byvoorbeeld eers twee weke gelede gehoor dat SARIE haar sedert November 2010 soek vir 'n voorblad. "Dit sou vir my 'n groot eer gewees het en baie vir my loopbaan beteken het." Stephen het SARIE se stylredakteur, Fanie Cronje, meegedeel dat Corlea nie alleen op die voorblad kan verskyn nie omdat sy en Rudi ‘'n pakket" is, en as een handelsmerk bemark word. Nietemin het Rudi die afgelope maande by meer as een geleentheidonderhoude aan joernaliste en publikasies soos Huisgenoot toegestaan. "Ek vermoed daar kan baie geleenthede wees wat na my kant toe moes kom waarvan ek nie geweet het nie," sê Corlea. "Maar Rudi het baie vir my loopbaan beteken en ek wil hom nie sleg maak nie." Met een van hul laaste konserte onlangs was die atmosfeer tussen hulle baie styf. "Gelukkig is ons goeie akteurs en ek twyfel of die gehoor dit agtergekom het. Maar met die laaste liedjie van die vertoning het Rudi baie emosioneel geraak en my 'n stywe druk gegee en huilend van die verhoog af geloop."