Daar lê baie vir SA voor in 2010. Wat maak ons celebs opgewonde oor volgende jaar? Waarna sien hulle uit? sarie.com het by Sarah Theron gaan uitvind.

"2010, 'n jaar vol nuwe dinge! Life is a bowl of cherries, het Shirley McLaine altyd met 'n breë glimlag gesing. Ek dink sy was reg. Die lewe is baie eenvoudiger as wat ons dink. Suid-Afrikaners is mense wat geleenthede en uitdagings ewe hartlik omhels, sokker-Wêreldbeker en al!

"Ons gaan geldjie maak, braai, nuwe mense ontmoet, meer vir elektrisiteit betaal, kerse brand, opwindende tye beleef, lag, gesels en lekker lank skoolvakansie hou in die winter. Ons gaan kaggelvure pak en na Afrikaanse musiek luister tot laat in die nag. Min of meer soos elke ander jaar. Ons is wie ons is. Ons het nog nooit teruggestaan vir die opwinding van 'n nuwe jaar nie.

"Ek onderneem wel om in 2010 nie té veel tyd op die snelweë te spandeer nie en ook om wel inkopies vroeg soggens te doen. Om korter op my selfoon te praat en nie aan daai tweede skeppie soetpatat te smul nie. Ek gaan meer na Tafelberg kyk. Ja, sommer net kyk omdat hy mooi is, meer water drink, meer pret probeer hê en sommer baie nuwe songs skryf en in 'n movie speel vir Franz Marx! Ek sien uit na 2010 soos ek uitsien na elke jaar wat voorlê. 2009 is amper vergete en moet opsy staan vir 'n blink, rondborstige, parmantige nuwe jaar.

"Steek maar op jou hand, 2010, laat ons kan sien hoe jy lyk!" – Sarah Theron, sangeres en aktrise

WEN een van Barbara se nuwe kookboeke!

Deel dit wat jou opgewonde maak oor 2010 met sarie.com en jy kan wen! Vertel ons waarna jy uitsien volgende jaar en waaroor jy positief is in die kommentaarboksie hieronder.

Proe die lekker, Barbara Joubert